top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 1 day ago
  • 4 min read

Woensdag, 14 Januarie 2026

Koos Espach


Die verlossing van die heidennasies (1)


Die vertrekpunt van genade begin by “Dit is Volbring!”

 

Rom. 11:11 – “’n Ander vraag is: Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Maar deur hulle val het die redding na die heidennasies toe gekom om die Jode jaloers te maak.”

 

Paulus het vir ons in die voorafgaande dele die droewige toestand waarin Israel hulle in die verlede en tans nog steeds bevind, voorgehou. Afgesien van die klein groepie wat God uit genade laat oorbly het, die “oorblyfseltjie”, wat hou die toekoms in vir die res van Israel? En wat beteken dit vir ons as gelowiges in Jesus Christus? Op die vraag of “Israel se struikeling hulle finale val beteken”, antwoord Paulus ontkennend. Hulle struikeling het afgestuur op ‘n besliste val, maar dit was nooit God se bedoeling dat Israel in die verderf moet beland nie.

 

Vandat God met die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob en ook Moses, Dawid en al die groot leiers van Israel bemoeienis gemaak het, is Israel vir Hom belangrik. Maar, Israel het God groot droefheid veroorsaak. Hulle het nie gereageer toe een na die ander van God se profete hulle tot bekering geroep het nie. Israel se donkerste uur was natuurlik toe die hoëpriester en die Joodse Raad en die hele Jerusalem aangedring het dat Jesus gekruisig moes word – ‘n blatante bewys wat hulle van God se Seun, die Messias, gedink het!

 

Wanneer Paulus uiteindelik die groot vraag vra of God vir Israel afgeskryf het, kan hy nie anders as om nee te antwoord nie. Hy is immers self ‘n Israeliet. Natuurlik beteken dit nie dat hulle outomaties gered word nie. Dit beteken net dat God sy genade steeds vir hulle aanbied soos wat Hy nog altyd gedoen het toe Hy sy profete na hulle toe gestuur het. Terloops, die woord “genade” kom honderd drie en sewentig keer in die Bybel voor. Dis ‘n bewys dat God sy volk, en ons, keer op keer verseker van sy grenslose genade.

 

Genade is altyd ‘n eenrigtingverkeer van God na ons toe. Dit is altyd onverdiend en dit bly steeds ‘n verrassing. Israeliete, Grieke, Duitsers, Afrikaners, Engelse, en watter volk ook al – God skryf nooit mense finaal af nie, in elk geval nie voordat Hy sy genade vir hulle aangebied het nie. Dit is altyd God wat na ons toe uitreik, God wat sy liefde aan ons kom aanbied. Hoekom doen Hy dit? Want ons is vir Hom kosbaar, sê Hy, ons name is in sy handpalm gegraveer! Wie aan ons vat, vat aan sy oogappels!

 

Hoe weet ons dit? Omdat God se genade vir ons eindeloos is, stuur Hy sy enigste Seun om in ons plek aan die kruis te sterf, om in my en jou plek vir die sonde te betaal. Dit is genade in ‘n neutedop: Jesus sterf, sodat ek en jy kan lewe! Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring!” (Joh. 19:30), is ons ingesluit in ‘n genade-geleentheid wat ons hele bestaan verander het. Ons geestelike reis het daar begin. Op grond van Jesus se afgehandelde werk op aarde daar aan die kruis, is ons heelgemaak en ons plek geboek in die hemel! En hierdie genade is heeltemal verniet – ons kan dit maar net in dankbaarheid aanvaar en op ons beurt weer God se genade deurgee aan die mense wat ons lewenspad kruis.

 

Lewis Smedes, ‘n teologiese professor van Kalifornië het gesê God se genade is nie ‘n vry kaartjie droomland toe nie, droomland is vir storieboeke. Genade is ook nie ‘n towermiddel om die lewe na ons smaak te verander nie. Genade is ‘n verrassende krag van God om die aardse werklikheid te konfronteer, sy tragiese en treurige kant te sien, sy wrede snye en pyn in ons te voel, om saam in die bekende koor te sing van hoe onregverdig die lewe is. Genade is krag om die werklikheid onder oë te sien, om te erken alles is soms verskriklik verkeerd en tog te weet in die wese van ons lewe is alles nogtans reg. Ons kan dus voel dit is goed vir ons om op God se aarde te wees.

 

Die vraag is nou: Hoe reageer ons op God se grenslose genade? Ds. Johan Smit het gesê daar is net twee maniere. Ons kan in aanbidding buig voor die wonder van God se genade en die verantwoordelikheid aanvaar wat daardie genade op ons lê. Dit is om naby God te lewe, in die ligkring van sy genade. Ons kan dag vir dag ons pad saam met Hom loop, nie omdat ons sy genade wil verdien nie, maar juis om op daardie genade uit dankbaarheid te antwoord. Ek aanvaar dit en is bereid om dit steeds ‘n go te gee. En jy?

 

“Genade is een woord vir alles wat God vir ons is in die gedaante van Jesus Christus” (Lewis Smedes).

 

Gebed: God van grenslose genade, ek kan elke oomblik van elke dag net jubel: “Genade onbegryplik groot het U aan my bewys!” Dit is louter genade dat U u Seun gegee het om my met U te versoen; dat U my liefhet, nie ter wille van nie, maar ten spyte van. Deur U genade leef ek, beweeg ek, en is ek. Deur U genade het ek ‘n geloof wat ek met ander kan deel en ‘n evangelie wat my in staat stel om te kan getuig. U genade is liefde wat omgee, neerbuig en red! Ek loof U daarvoor. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page