Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 3 days ago
- 4 min read
Maandag, 12 Januarie 2026
Koos Espach
Die oorblyfsel van Israel (3)
Nie uit verdienste nie, maar genade alleen
Rom. 11:6-10 – “En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie. 7Waarop kom dit dan neer? Hierop: wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry. Die ander is verhard, 8soos daar geskrywe staan: ‘God het aan hulle ‘n gees gegee wat hulle bedwelm het: oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie, tot vandag toe nog.’ 9En Dawid sê: ‘Mag hulle maaltye vir hulle ‘n vangstrik en ‘n val word en ‘n struikelblok en ‘n straf. 10Mag hulle oë verduister word dat hulle nie sien nie; en buig hulle rug vir altyd krom.”
Vergelyk ook 1 Tim. 1:9 – “Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.”
Een ding wat elke Christen-gelowige móét verstaan, is dat die trou van die Here vir geen oomblik ons eie verantwoordelikheid ophef nie. Wat vir die ou-Israel gegeld het, geld natuurlik vir alle volke. Vandag is hierdie selfde beginsel nog net so relevant soos vroeër, naamlik dat diegene wat nie God se genade in Christus aanvaar nie, gaan verlore. “Wat Israel soek, het hy nie gekry nie; die uitverkorenes het dit gekry”, beaam Paulus. Geen mens se volksverband gaan hom of haar red nie, net geloof in Christus Jesus deur God se genade alleen!
Teenoor die klein begenadigde “oorblyfsel”, is daar die oorgrote meerderheid van Israel wat volhardend steeds besluit het om hulle eie pad te loop. Hulle was steeds besig om die vryspraak langs die weg van die wet te soek, maar “het dit nie gekry nie”: “Israel, daarenteen, het ‘n wet gesoek waardeur hulle God se vryspraak sou kon kry, maar by so ‘n wet het hulle nie uitgekom nie” (Rom. 9:31).
Ons het in vorige dagstukke gesien hoe God ons vorm soos ‘n Pottebakker met sy klei doen. Sy handewerk vorm ons tot mense wat tot geloof in Jesus Christus kom: “Julle is inderdaad uit genade gered. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie ... Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:9-10).
Daarenteen, die verharding van die res van Israel word deur Paulus beskryf deur middel van aanhalings wat uit ‘n kombinasie van Deut. 29:4 en Jes. 29:10 bestaan en juis ‘n klag oor Israel se stompsinnigheid is: “tot vandag toe nog verhard God, en gee aan hulle ‘n gees wat hulle bedwelm, oë wat nie sien nie en ore wat nie hoor nie.” Dit geld natuurlik steeds vir diegene wat met God se genade speel en hulle aanhou verset teen Hom en nie in afhanklikheid na sy stem wíl luister nie. Ons kan nie God se geskenk van genade aanvaar en dan gaan leef soos ons wil nie. God is getrou en regverdig, maar “ons moet ons nie laat mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ons saai sal ons ook oes” (Gal. 6:7).
Niks is vanselfsprekend nie, alles wat geskep is, is deur die Almag van God en tot sy eer en verheerliking geskep. “Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees.” Volhardende verset teen God se genade loop uit op oordeel. Paulus haal aan uit Psalm 69:23 wat amper na ‘n verwensing teen die Jode van sy tyd klink: “Mag hulle oë verduister word dat hulle nie sien nie; en buig hulle rug vir altyd krom.” Wanneer die rug krom is, dui dit immers op knegskap, knegskap wat hulle afhanklikheid aan God toon en aan Hom toegewy te wees. Wat maak ons dan hiermee?
As refleksie op die liefdeswerk van Jesus Christus, moet ons as sy gesante, in ons toewyding soek na God se lof as diens ná die erediens; God se lof soek as lewe in die gebed ná die kerkgebede; God se lof soek as lied in praktyk ná die lied in die kerk; God in ons alledaagse bestaan soek. Dit is dáár waar ons Hom sal vind! Ons moet dit egter nie vir onsself hou nie, maar vanuit die oorvloed van genade in ons eie lewe, gaan deel met ander: “Aangesien (ons) alles in oorvloed het, geloof, die gawe om (ons) woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer, en ons liefde vir (ander), wees dan in liefdeswerk oorvloedig” (2 Kor. 8:7). Kom ons doen dit dan met die nodige ywer!
“Totdat die mens niks is nie, kan God niks met hom doen nie.” (Martin Luther).
Gebed: Hemel Vader, help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Help my om al my emosies en gedagtes op U te rig en na U te luister – Here, om werklik afhanklik van U te wees, want ek het behoefte aan U. Stroop my siel van alles wat onrein en sleg is, van hebsug, jaloesie en selfaanbidding. “U het my uit genade gered en my geroep om aan U toegewy te wees.” Skenk my die “onbeperkte ywer om in U liefdeswerk oorvloedig te wees.” Amen.



Comments