top of page

Gedagte vir Vandag

  • ngfochvillenoord
  • 6 days ago
  • 3 min read

Vrydag, 9 Januarie 2026

Koos Espach


Die oorblyfsel van Israel (2)


Nederige deel van die “oorblyfsel”

 

Rom. 11:2-5 – “God het sy volk, wat Hy lank tevore verkies het, nie verstoot nie. Of weet julle nie wat die Skrif sê van Elia nie, hoe hy by God oor Israel gekla het: 3‘Here, hulle het u profete doodgemaak en u altare afgebreek, en net ek het oorgebly, en hulle wil my ook om die lewe bring.’ 4Maar wat het God hom geantwoord? ‘Ek het vir My sewe duisend manne laat oorbly wat nie vir Baäl aanbid het nie.’ 5Net so is dit ook vandag: daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.”

 

Toe Elia ongeveer ‘n duisend jaar voor Paulus in volslae moedeloosheid en verbittering gesit en Israel by God aangekla het omdat dit gelyk het asof die hele volk vir God verlaat het, sy profete doodgemaak, altare afgebreek en selfs hom wou doodmaak, het God Elia verseker dat Hy sy genadewerk sal voortsit met die sewe duisend getroues wat Hy laat “oorbly” het (1 Kon. 19:18). Dit het egter nie van Israel afgehang dat daar ‘n “oorblyfsel” was nie, dit was God se direkte en persoonlike ingryping. Elia se geduld was op, maar nie God s’n nie!

 

Paulus kon dus met reg bewyse aanhaal uit die Ou Testament dat mense nie afleidings moet maak dat God Israel verstoot het nie. Terwyl Israel as volk hulle voortdurend teen God bly verset het, het God in die “oorblyfsel” of dan die “res”, sy genadewerk voortgesit. (Dankie Here daarvoor, anders, waar sou ons gelowiges ons vandag bevind het?)

 

Om sy getrouheid te bevestig, het God veral tydens die ‘groot’ profete Jesaja, Jeremia en Esegiël se tyd, verby goddelose konings beweeg, verby die ballingskap en verby Persiese, Griekse en Romeinse regeerders en met sy “oorblyfsels”, sy genadewerk voortgesit. Uiteindelik is Christus as mens uit hierdie “oorblyfsel” gebore. Selfs wanneer Israel hul Messias kruisig, is dit nog nie die einde van God se pad met sy volk nie.

 

Paulus kon al in sy tyd, sonder huiwering bevestig: “Net so is dit ook vandag: daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.” Daar kom dae dat ons gelowiges van vandag, net soos Elia wanhopig, moedeloos en verbitterd word. Wanneer ons van die Here getuig, is dit maklik om soms teen mense vas te loop wat hulle eie ding doen en gou vir jou sal vertel dat jy nie sy kop sal “swaai” nie. Elkeen wat sy eie ding wil doen, wil gewoonlik sy staal wys en dit gaan gepaard met hardheid en soms robuustheid. Om selfbehoud toe te pas moet mens ‘n maak-en-breek tipe wees, want ons nederige ‘skynheilige kerkmense’ is gewoonlik die ja-meneer-goed-meneer-outjies, wat met die Bybel onder die arm loop en sonder ruggraat maar elke dag na ander se pype dans – klink dit bekend?

 

Is dít die soort getuigskrif wat Jesus aan ons, sy dissipels wou gee? Wanneer ons in afhanklikheid ons hand in die hand van God plaas en Hom vertrou, raak ons rustig en nederig want nederigheid het sy oorsprong by God se genade. God neem bitter mense en maak hulle beter mense, wanneer ons lewe dus deur die Gees van God beheers word, sal ons nooit swig voor die begeertes van ons sondige natuur nie (Gal. 5:16), maar die vrug van die Gees ontvang wat nederigheid insluit (Gal. 5:22-25).

 

Wat ook al my en jou omstandighede is, hoe duister die toekoms miskien mag lyk, kan ons saam met Paulus getuig: “Net so is dit ook vandag: daar is ‘n oorblyfsel wat uit genade deur God uitverkies is.” Jesus het nie arrogant opgetree nie, Hy het saam met tollenaars geëet en met sondaars omgegaan want Hy het meer omgegee vir verlore siele as oor Homself. In stilte en onskuldig het Hy vervolging, bespotting, veragting en leuens teenoor Hom verdra. Ons moenie moed verloor soos Elia nie. Onthou dat God altyd met ons is en dat Hy volkome in beheer is van ons lewe. “Hy sal in (ons) laat oorbly net dié wat nederig en ootmoedig is en vertrou op die Naam van die Here” (Sef. 3:12). God is groter as ons of enige van ons situasies.

 

“Dit kos ontsettend baie moed om sake in God se hande te laat; om ons volkome in sy hand oor te gee – ons lewe, ons hoop, ons planne; om te volg waar Hy ons lei; om sy wil ons s’n te maak. Daarteenoor kos dit slegs dwaasheid om die pad alleen te wil loop” (Betsey Kline).

 

Gebed: Onse Vader wat in die hemel is, as U saam met my gaan, is my hart moedig in die wete dat U my bystaan en deurdra. Amen.

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page