Gedagte vir Vandag
- ngfochvillenoord
- 2 days ago
- 2 min read
Maandag, 5 Januarie 2026
Koos Espach
Goeiemore liewe E-Kerk lesers,
Ons vakansie is verby en ons nooi u vriendelik uit om DV van Woensdag af weer saam met ons verder te reis deur die Woord van die lewe en wel met Paulus in sy “Brief aan die Romeine.”
Ons gebed is dat elke E-Kerk leser se jaar gevul sal wees met Goeie Nuus, onoortreflike seëninge en gulde geleenthede om die regte keuses te maak – keuses vir Christus. Mag jy die eenvoudige genot en vreugde smaak om in jou geestesoog die Een te sien wat jy liefhet, wanneer jy daagliks by God stil word!

Gebed: Hemelse Vader, hier in die begin van ‘n nuwe jaar, wil ek al my vrese voor U voete kom neerlê. U weet reeds van elkeen van hulle. Vergewe my dat ek nog vir soveel dinge bang is, al weet ek só goed dat dit heel onnodig is. Dankie dat ek opnuut aanspraak kan maak op U beskerming, U krag en U alomteenwoordige liefde. Dankie dat U elke oomblik by my is, dat U my hand vashou as ek bang is en my bewaar teen die aanslae van die lewe. Here, ek los nou al die dinge waarvoor ek bang is by U. Ek lewe in hierdie wêreld reeds deur U liefde – en daardie liefde van U maak bangwees vir altyd onnodig. Amen.
As jy van iemand weet wat ook baat kan vind by hierdie dagstukkies en saam met ons wil ‘reis’, stuur asseblief hulle name en selnommers na 071 682 7485 en ons plaas hulle met liefde op ons adreslys.
Voluit vir Christus
“Oorgee – Omgee – Uitgee”
Jesusliefde, -vreugde en -vrede vir 2026.
Shalom - Mooi loop - Koos en Renette Espach namens NG Fochville-Noord Gemeente



Comments