Gedagte vir Vandag
Maandag, 10 Mei 2021
Koos Espach

JESUS ONDERWEG NA SY LYDING, DOOD EN OPSTANDING (82)
(Matt. 16:21–25:46)
Jesus se gesag in Jerusalem bevraagteken (28)
(Matt. 21:1–22:46)
Die gelykenis van die bruilof (5)
(Luk. 14:15-24)
Lof aan God vir Sy genade!
Matt. 22:13-14 – “Toe sê die koning vir sy dienaars: ‘Bind sy hande en sy voete vas en gooi hom uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.’ ‘Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”
Vergelyk ook Ef. 1:3-5 – Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. In Sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.”
Vrydag het ons vir mekaar gesê ons moet Jesus se uitnodiging na die bruilof nie net aanneem nie, maar ook seker maak om op te daag, die bruilofskleed aan te trek en gereed te wees. Gereed wees waarvoor? Die dag wanneer die Here weer kom – “Leef in verwagting dat die dag van God kom en beywer julle daarvoor, die dag waarop die hemel in vlamme sal vergaan en die hemelligame sal brand en wegsmelt” (2 Pet. 3:12). Vandag, twee duisend jaar na Petrus se skrywe, kan ons steeds aan sy woorde vashou want die wederkoms gaan vir seker aanbreek (2 Pet. 3:10-13).
God se tyd is anders as ons tyd. Sy tydsbeskouing is ‘n duisend jaar soos een dag vir ons (2 Pet. 3:8). God is egter besig om Sy genadige hand uit te steek na al die sondaars sodat hulle tot inkeer kan kom. Toe Jesus met Sy aardse bediening begin het, het Hy uitdruklik almal beveel om hulle te “bekeer, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matt. 4:17). God talm met die wederkoms om elkeen ‘n kans te gun om die uitnodiging te aanvaar, want die dag van wederkoms gaan ‘n dag van verskrikking wees vir elke onbekeerde sondaar. “God se tydverloop onderweg na die wederkoms is nie ‘n uitstel van ‘n belofte nie, maar eerder ‘n genadige terughou daarvan” (Ds. Johan Smit). God wil graag seker maak dat soveel mense moontlik, Jesus se uitnodiging aanvaar, seker maak dat die “baie wat immers geroep is, nie min is wat uitverkies is nie.”
God se guns word nie deur die hoedanighede van mense bepaal nie. Dit is werklik vrye guns, barmhartigheid en ontferming, wat nie verdien word nie, maar onverdiend geskenk word. Omdat alle mense voor God skuldig staan, het niemand enige reg of aanspraak op God se guns nie. Daarom “hang dit dus nie af van ’n mens se wil of strewe” of God aan hom/haar guns bewys nie, maar enkel van God se eie barmhartige keuse, God se neerbuigende “genadegawe in Christus Jesus” (Rom. 6:23), wat geskenk word aan diegene wat hoegenaamd geen aanspraak daarop het nie.
Ons moet ook net nie probeer om hierdie teenstrydigheid van God se uitverkiesing en die mens se verantwoordelikheid probeer verklaar nie. Daar is nie ‘n hemelse bloudruk oor God se leer van die uitverkiesing, en wat op die aarde gebeur, is maar net die afloop van die hemelse program nie. Dit is ‘n geopenbaarde wonder van God en die feit dat God ons die gawe van geloof geskenk het, het ons nie ‘n verklaring nodig nie, ons kan dit eenvoudig so aanvaar. Ons moet God dank vir Sy almag en regverdigheid, Hy bekyk Sy uitverkiesing vanuit die ewigheid terwyl ons uitsig aan die tyd, gebonde is. Die ewigheid is nie tyd plus tyd tot in oneindigheid nie, maar juis die totale afwesigheid van tyd. Wat God in ewigheid doen, kan nie in tyd verstaan of bepaal word nie, Sy Almagtigheid kan tegelyk ons uitverkiesing en verantwoordelikheid handhaaf sonder dat die twee bots.
Paulus gee in Efesiërs 1:4-14 ‘n lang lys van al die hemelse seëninge wat die Heilige Gees in ons waar gemaak het en die wonderlike hiervan, die uitverkiesing is heel bo-aan die lys!! Die uitverkiesing is die grondslag van ons geloofsekerheid oor ons verlossing en ewige lewe – God het ons nie uitverkies omdat nie, maar ten spyte van wie ons is, want God is groter as enige sonde! Die oorweldigende versekering is dus dat ons nie in knaende onsekerheid hoef te leef nie, ons kan saam met Paulus jubel en “lof aan God vir sy genade” sing (perikoop opskrif van Efesiërs 1:3-14).
Ons gelowiges in Christus se uitverkiesing is nie ‘n vraag wat ons moet probeer beantwoord nie, dit is ‘n uitroep waarin ons beaam: “Waarlik, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!” Ek en jy kan uit diepe dankbaarheid en met opgewondenheid God loof dat Hy ons in Jesus se Naam raakgesien het en ons uit die modderpoel van sondes opgetel het, ons “hande en voete nie vasgebind het en uitgegooi het in die diepste duisternis daarbuite nie. Daar waar ons sou huil en op ons tande sou kners. Maar dat ons deel is van dié wat geroep is, én uitverkies is.”
“Om egte ruimte te skep vir God en sy soewereiniteit oor jou lewe is om jou handtekening op ‘n skoon vel papier te plaas en dit vir God te gee met die woorde: Here, wat U ook al daarop skryf, my handtekening bly” (Prof. Andrie du Toit).
Gebed: Here, ek kan maar net verwonderd voor U kom kniel en in diepe dankbaarheid prewel: Ek verdien dit glad nie, maar dankie dat U my uitverkies het in Christus Jesus, U genade is ontsaglik groot. As ek so na myself kyk, is daar nie veel wat ek U kan aanbied nie, en soms dink ek dat my verlossing dalk in die weegskaal is. Maar dan besef ek opnuut weer: dit is net ‘n liefdevolle genadige God wat my in my onverdienstelikheid kan aanvaar. Dankie Jesus Christus dat U deur U dienswerk my aanneming as kind van God bewerkstellig het – “vóórdat ek kon kies, kon vra, het U my vloek gedra. Ek kon vind U’t my gekry nog vóór ek nog my skuld bely” (Gesang 10). Amen.
Commentaires