top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS WORD TEENGESTAAN EN BELY. SY DADE VAN BARMHARTIGHEID TEENOOR JOOD EN HEIDEN.

(Matt. 13:54–16:20)


DIE DOOD VAN JOHANNES DIE DOPER (1)

(Mark. 6:14-29; Luk. 9:7-9)


‘N SKULDIGE GEWETE LAAT MENS RONDKYK!


Matt. 14:1-2 – “Daardie tyd het Herodus, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word, en hy het vir sy paleispersoneel gesê: ‘Maar dit is mos Johannes die Doper! Hy is uit die dood opgewek, daarom werk die kragte in hom!”


Vergelyk ook Luk. 9:7-9 – “Herodus, die heerser, het gehoor van al die dinge wat gebeur, en hy was in die war omdat party mense gesê het: ‘Johannes is uit die dood opgewek,’ party: ‘Elia het verskyn,’ en ander: ‘Een van die profete van die ou tyd het opgestaan.’ Maar Herodus het gesê: ‘Johannes het ek self laat onthoof. Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?’ En hy het geprobeer om Hom te sien te kry.”


“Daardie tyd” verwys na dieselfde tyd wat Jesus besig was om die gelykenisse oor die koninkryk van God te vertel, en het “Herodus, die heerser, gehoor wat van Jesus vertel word.” Die nuus van Jesus se magtige dade, bereik nie net die ore van gewone mense en die godsdiensleiers nie, maar ook dié van Herodus. Ná Herodus die Grote se dood, wat tydens Jesus se geboorte geheers het en wie ook verantwoordelik was vir die kindermoorde, is sy ryk in vier verdeel. Herodes Antipas, een van Herodes die Grote se seuns, het ‘n kwart daarvan gekry. Hy regeer van 4 vC tot 39 nC oor Galilea en Perea en woon in Tiberias aan die oewer van die See van Galilea. Herodes het die titel van viervors gedra, maar in die volksmond heet hy koning, en hy laat hom dit ook welgeval omdat hy graag die koningstitel wou dra.


’n Volksgeloof het destyds bestaan dat iemand wat onskuldig vermoor is of ’n gewelddadige dood sterf, uit die dode terugkeer om wraak te neem. As “lewende persoon” is hy dan ook toegerus met bonatuurlike kragte sodat die geweldenaar teenoor hom nie kan bestaan nie. In hierdie geval sou dit Johannes die Doper wees wat weer uit die dood opgewek is, en dan sou sy terugkoms die lewe van Herodes Antipas, sy moordenaar, in gevaar stel. Antipas se gewete, (die bietjie wat nog oor was), het na aanleiding van al die stories wat hy van Jesus gehoor het, hom laat glo dat dit Johannes die Doper is wat teruggekeer het.


Dit is in hierdie tyd dat sommige mense toe gemeen het dat Jesus ‘n profeet was, ander weer het iets van Elia in Hom gesien en nóg ander het gesê dat Johannes die Doper uit die dood opgestaan het. “Toe Herodus dit dan hoor, het hy gesê: ‘Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek’ (Mark. 6:16). Dit is eintlik opmerklik dat hy uit al die verskillende menings wat oor Jesus in omloop was, die een kies wat sy skuldige gewete aanspreek. Vir hom was dit onrusbarende nuus. Sê nou net Jesus was die opgestane Johannes. Herodes word nou verplig om ’n standpunt teenoor Jesus se identiteit in te neem. Hy het hom bly afvra: “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor?” Dit kan nie anders nie; waar die Naam van Jesus gehoor word, moet ’n keuse plaasvind, moet aksie geneem word!


Jesus het nooit opgetree as ‘n rondreisende wonderwerker nie en het nie wonderwerke of wondertekens verrig bloot net ter wille van die wondertekens self nie. Sy wonders moes dien as “vensters” waardeur die skares moes kyk om God daaragter raak te sien. Die wonders is voorgehou om God se koninkryk aan te kondig en mense tot bekering te lei. Die wondertekens was bewyse van Jesus se ware identiteit as “die Woord wat mens kom word het en vir ‘n wyle by ons kom woon het” (Joh. 1:1, 14). Jesus se grootste wonderwerk was om mense by God uit te bring!


Daar is mense wat steeds dink dat Jesus uitsluitlik net aan hulle selfsugtige behoeftes voorsien deur sogenaamde “wonderwerke.” Wonderwerke wat óns krisisse hanteer; óns geloof versterk; om óns ‘n geestelike les te leer; óns gebede wat verhoor word; óns beter kinders van die Here te maak. Dit is seker nie verkeerd om só te redeneer nie, maar ons moet onthou dat Jesus se wonderwerke geskied nie op menslike aanvraag nie en ook nie om sekere mense te bevoordeel nie. Daar is in ons dag baie mense wat, soos Herodus, naarstig wil weet “wie hierdie man is van wie hulle sulke dinge hoor?” Die Christus wat ons soek, leef in die harte en denke van mense en ons kan “Hom te siene kry” in die glimlag van dankbaarheid, wanneer ons liefde en deernis aan ander betoon.


Jesus se wonderwerke sê ten diepste wie Hy is. Hy maak God se nuwe wêreld, Sy koninkryk, sigbaar deur wonders te doen. Sy wonderwerke verwys na God se grootheid en wys na die komende triomf waarin almal wat in Jesus glo, gaan deel. Wanneer ons dink dat ons God se genade uitgeput het, is daar die versekering dat Hy steeds sorg en versorg – nie nét presies dít wat ons volgens Hom, nodig het nie, maar ook méér. Maar veral kan ons sê dat Jesus nie soseer ons skuldige gewetens aanspreek soos dit met Herodus se geval was nie, maar ons harte! Wanneer Jesus vir my en jou aanspreek, wil Hy nie hê dat ons as gevolg van ‘n skuldige gewete moet begin rondkyk nie, maar dat ons sal opkyk. Sy genade is só onbeskryflik groot!


“Dit is in die stilte wat God gevind word en deur misteries wat Hy Homself openbaar”

(Frederick Robertson).


Gebed: Dierbare hemelse Vader, ek het gevind waarna ek soek, en my hart jubel oor U. Dit is daar waar ek ander met liefde en deernis dien wat ek telkens verras word en U ontmoet. Gee dat ek aanhou sal soek na U teenwoordigheid, sal herken en koester, met die regte motiewe, dat ek nie met skuldige gewetens rondkyk nie, maar sal opkyk na U. Gee dat ek U soek, nie net oor U goeie gawes en ryke seëninge nie, maar omdat daar ware vrede by U te vinde is. Dankie dat U Uself aan nietige mense op hierdie wyse openbaar. Saam met die Psalmdigter weet my hart dat dit “goed is om naby U te wees” (Ps. 73:28). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page