top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE UITNODIGING WORD VERWERP DEUR DIE JODE.

(Matt. 11:2-12:50)


DIE FARISEËRS NEEM AANSTOOT DAT JESUS 'N DEMOON-BESETE PERSOON BEVRY.

(Matt. 12:22-32)


JESUS EN BEËLSEBUL (5)

(Mark. 3:20-30; Luk. 11:14-23; 12:10)


DIE ONVERGEEFBARE SONDE?


Matt. 12:31-32 – “Daarom sê Ek vir julle: Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie. As iemand iets teen die Seun van die mens sê, kan dit hom vergewe word; maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie.”


Vergelyk ook Num 15:30-31 – “Die landsburger of vreemdeling wat moedswillig sondig, doen My, die Here oneer aan en hy moet van sy volk afgesny word. Omdat hy die woord van die Here verag het en sy gebooie verbreek het, moet so iemand doodgemaak word; hy moet die straf vir sy sonde dra.”


Elke keer wanneer ek hierdie geweldige woorde van Jesus lees dat “elke sonde en lastering die mense vergewe kan word, maar die lastering teen die Heilige Gees nie vergewe kan word nie”, kry ek koue rillings en wonder of ek nie dalk, onwetend, ook al teen die Heilige Gees gesondig het nie? Ek meen, hier sê Jesus sélf dat vergewing van alle sondes moontlik is, selfs laster teen Hom, maar dat daar geen kans meer oor is vir vergifnis teen sonde van die Heilige Gees nie, “nie in hierdie bedeling nie en ook nie in die toekomstige nie”, met ander woorde, nooit nie! Is Jesus Christus, “die Seun van die mens” dan op ’n laer vlak, minder Goddelik as die Heilige Gees, dat lastering teen Hom verskoon kan word? En het Jesus dan nie juis aan die kruis gesterf sodat ons gelowiges van ál ons sondes gered is nie, selfs die sonde teen die Gees?


Wat bedoel Jesus met hierdie skerp waarskuwing van sonde teen die Heilige Gees? Jesus het pas ‘n bose gees uit die man wat blind en stom was uitgedryf en die man gesond gemaak (12:22-23). Die omstanders het sinvol gereageer en verslae gewonder of Jesus “nie miskien die Seun van Dawid is nie?” Die Fariseërs daarenteen, verklaar sinloos dat Jesus die bose mag deur die opperste duiwel, Beëlsebul, uitgedryf het. Die “onvergeefbare sonde” het dus direk te make met die Fariseërs wat Jesus se genesingswonder sien en dan weier om die krediet daarvoor aan die werk van die Gees in Jesus toe te skryf, selfs al wys Jesus vir hulle die absurditeit van hulle argumente, en lê Hy dit vir hulle korrek uit.


Dit gaan dus nie om ’n misverstand van wie Jesus is en wat Hy doen nie, maar die direkte teenstand teen die koninkryk van God wat Hy kom vestig en die weiering om te aanvaar dat dit van die Gees van God, van God sélf af kom. Die Fariseërs het dus doelbewus sonde teen die Heilige Gees gepleeg deur God se werke aan satan toe te skryf, dit duiwelswerk te noem en boonop met minagting daarop neer te sien. Hulle en almal wat op soortgelyke wyse God en Sy verlossende genade doelbewus verwerp, begaan ‘n sonde wat God nie kan vergewe nie (Num. 15:30-31). ‘n Sonde teen die Heilige Gees is ‘n sonde teen God self! Dis ‘n sonde wat mens blywend teen sy beterwete doen en teen die oortuigende krag van die Heilige Gees, jou hart steeds verhard.


As kinders van God, Christengelowiges wat Christus heelhartig dien, mag ek en jy dan nie op grond van bogenoemde verse daaroor kwel dat ons dalk ‘n onvergeeflike sonde teen die Gees gepleeg het nie. Dit is juis die Heilige Gees wat ons sensitief maak hiervoor. Ons is mos kinders van God wat raakgesien het dat God deur sy Gees in ons lewe, aan die werk is en gelowig daarop reageer. Die Gees verseker ons van ons eindbestemming, daarom “bedroef ons Hom nie, Hy het ons as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag” (Ef. 4:30). Ons is mos nie mense wat in ongeloof en arrogansie vir God se genade lag of soos die Fariseërs smalend opmerk dat dit wat Hy doen, eintlik duiwelswerk is nie! Nee, ons het deel aan Jesus, “ons lewe in die lig soos Hy in die lig is, ons is deel van dieselfde gemeenskap en die bloed van Jesus reinig ons van elke sonde” (1 Joh. 1:6-7).


“Wanneer die Gees van God in die gelowige kom, maak dit Christus duideliker, die hemel nader en die Woord van God verstaanbaarder” (Dwight L. Moody).


Gebed: Here, Ek wil U dien met my hele lewe. Ek kom staan opnuut voor U met hande vol sonde en sê ek is jammer daaroor. Gees van genade, vernietig asseblief enige weerstand tussen God en my. Ruim alles wat tussen my en God is, uit die weg. Dankie Jesus dat U tussen my en God staan sodat ons Vader nie my sonde kan raaksien nie, maar slegs net U, en daarom kan ek vry anderkant uitkom. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page