Gedagte vir Vandag
JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.
(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)
JESUS BRING NIE VREDE NIE, MAAR DIE SWAARD (2)
(Luk. 12:51-53; 14:26-27)
KRUISDRAERS VIR CHRISTUS!
Matt. 10:37-38 – “Hy wat sy pa of ma liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis dra en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.”
Wanneer ons vandag se teks lees, kan ons nie anders as om te dink dat Jesus se dissipels se wenkbroue vraend moes lig nie. God het tog in Sy wet aan Moses bepaal dat jy jou vader en moeder moet eer (Eks. 20:12), en nou sê Jesus net die teenoorgestelde – mense wat hulle ouers meer lief het as vir Hom, “is nie werd om aan Hom te behoort nie?” Weerspreek Jesus Hom nie weer nie? As ek met ander woorde nie bereid is om van my aardse ouers en familie se sekuriteit en liefde afstand wil doen nie, is ek nie werd om deel van God se gesin te word nie. Is dit nie bietjie te veel gevra nie? Is Jesus se eis nie te streng vir dissipelskap nie?
Nee, Jesus het self gesê dat “Hy nie gekom het om die wet of profete ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry” (Matt. 5:17). Jesus het ons mense by God uitgebring. Wanneer iemand meer lojaal teenoor jou familie is, kies jy nog die ou manier om God te aanbid. Jesus het ‘n nuwe manier kom moontlik maak. Soos ons gister verduidelik het, familielede wat Jesus wou volg, kon destyds nie deel van die famile bly nie. As die pa-triarg ‘n Christen geword het, was die res van die familie outomaties Christene, en as hy nie was nie, is die teenoorgestelde waar.
Die nuwe manier wat Jesus kom moontlik maak het, is om ons ‘n keuse te gee sodat ons die sondige natuur wat ons van Adam geërf het, agter kan laat en van daardie afskuwelike en veragtelike boosheid weg te vlug, “jou kruis te dra en Hom volg.” Jesus Christus wil vir ons hierdeur laat verstaan dat ons menslike natuur so boos is, dat ons slegs deur die verlies van ons ou natuurlike lewe, die wáre lewe in Hom, “wat die Weg, die Waarheid en die Lewe is” (Joh. 14:6), sal vind. Die doodsvonnis is oor Jesus uitgespreek as gevolg van ons sondes, en Hy moes Sy kruis dra. Net so wil Jesus hê moet ek en jy ons kruis dra, en die doodsvonnis oor ons ou natuurlike sondige lewe uitspreek.
En dit is Jesus se toelatingsvereistes vir dissipelskap: “Neem jou kruis op en volg vir Hom!” Om suksesvol daarmee te wees, sal ek en jy sekere dinge wat eens op ‘n tyd “prioriteite” in ons lewe was, moet agter laat. Om kruis te dra het ons krag van albei arms nodig, ‘n stewige sterk rug en albei bene om te kan bly voortbeweeg. Daar is nie nog krag oor om iets anders saam te dra nie.
Tweedens moet ons bereid wees om die kruis in die openbaar te dra, ten spyte van moontlike bespotting en vervolging en dan ook niemand anders wat bereid is om ons te help nie. Derdens moet ek en jy ook besef, daar is nie omdraai kans nie. As Christen is ons nou deel van die Liggaam van Christus en dit behels nie ‘n tydelike kamma-kamma of so-nou-en-dan, deel nie. Ons kan nie kamma-kamma of net-wanneer-die-tyd-my-toelaat, of eers eendag-wanneer-ek-oud-is, "aan Jesus behoort nie!”
Wat Jesus in Sy fisiese liggaam gedoen het terwyl Hy as onskuldige veroordeelde, twee duisend jaar gelede vir ons ‘n skrikwekkende voorbeeld gestel het, doen ons nou in Sy geestelike liggaam, die kerk. Daar is gelukkig ‘n verskil: Ons vorm deel van God se onbeskryflike genade. Hy het ons van satan gered en deur Jesus Christus, met Homself versoen sodat ek en jy die doel waarvoor Hy ons geskep het, kan vervul. “Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou” (2 Kor. 5:18).
As “gesante van Christus” (2 Kor. 5:20), tree ons dan op soos kruisdraers wat God lief het; kruisdraers wat deel van Sy familie is; kruisdraers wat in alles wat ons sê en doen, soos Christus wil wees; kruisdraers wat God dien en aan ander, van Hom te getuig! Wil jy ook ‘n kruisdraer vir Jesus wees? Die keuse is joune om te hoor as Hy jou roep?
“Jesus vra ons nie net om na Hom toe te kom nie, maar ook om vir Hom te gaan” (Rick Warren).
Gebed: Dierbare Here Jesus, dankie dat U vir my die voorbeeld van Kruisdraer gestel het. Ek hoor U opnuut vandag roep om my selfsugtige lewe met sy selfvervulling en selfverheffing prys te gee en die kruis saam met U te mag dra. Maar Here, ek kan dit nie alleen doen nie. Help my deur U Gees en gee my krag om saam met U te werk en U te verteenwoordig, waar ek my ook al bevind. Skenk my die genade om die versoening wat U vir mý by God bewerk het, nie kamma-kamma of net-wanneer-ek-tyd-het, of eers eendag, toe te pas nie, maar dit nou reeds ten volle as deel van U gesin te aanvaar en uit te leef. Amen.