Gedagte vir Vandag
JESUS SE TWEEDE TOESPRAAK – DIE UITSENDINGSREDE.
(Matt. 9:35 – Matt. 11:1)
JESUS GEE OPDRAGTE AAN DIE TWAALF (5)
(Mark. 6:7-13; Luk. 9:1-6)
BLY ONTVANKLIK VIR GOD SE WOORD!
Matt. 10:14-15 – “As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.”
Vergelyk ook Matt. 7:6 – “Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie: hulle sal omspring en julle verskeur; en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie: hulle sal dit met hulle pote vertrap.”
Wanneer mense se gesindheid nie “waardig” is om die dissipels te ontvang en te luister na die Evangelie nie, moet die vredeswens teruggetrek word en alle gemeenskap met daardie huis verbreek word. Komende van Jesus, val hierdie opdrag vreemd op die oor. Jesus gee hulle nie opdrag om die huismense of dorp te vervloek nie, m.a.w. hulle bring nie ’n boodskap van oordeel nie, maar sommige mense se reaksie op die boodskap van genade, veroordeel hulleself want eintlik het hulle indirek, God die deur gewys.
Dit sal gebeur dat mense weier om na die prediking te luister of om die dissipels te ontvang. In so ’n geval moet hulle die stof van hulle voete afskud en verder gaan. Dié gebruik was destyds ’n bekende en het ’n simboliese betekenis gehad. Dit spruit voort uit die gedagte dat Israel selfs die stof van ’n heidense land van hulle voete afskud, omdat dit onrein is. Dit was ook die gebruik om mekaar te groet met “shalom”, wat ‘n vredeswens was. Wanneer hulle egter uitvind dat die groet aan ‘n buitelander gegee is, het hulle omgedraai en die vredeswens aan daardie persoon, gaan terugtrek.
Ons moet ook onthou dat Jesus aanvanklik opdrag gegee het dat “hulle nie na die heidennasies of na die Samaritane toe moes afdraai nie” (Matt. 10:5). Die tyd was min en Jesus wou verseker dat die Goeie Nuus van die Koninkryk van God, ál Sy eie mense, (die Jode), eerste bereik. Die dissipels moes dus nie nog tyd mors met mense wie se gesindheid nie reg was om die Woord te ontvang nie. Ons moet dus nie slegte mense probeer help wat geen respek vir God het nie. Ons moet m.a.w. kan oordeel wanneer ons moet onderskei of ons tussen “die varke is, en wanneer ons met hemelse pêrels te doen het.” Hier moet ons baie sensitief wees vir die leiding van die Heilige Gees.
God dwing Hom op niemand af nie. Hy forseer ook niemand om deel van Sy koninkryk te word nie, dis elkeen se eie keuse! Hier gaan dit nie oor God se vergelding nie, maar oor Sy pyn. Pyn omdat mense Hom uitskuif as onbelangrik, mense wat afvallig raak vanweë afgodery en dwaalleer, mense wat glo hulle kan sonder God, en vasklou aan ‘n god van hulle menslike keuse. Dit is tydmors om met hulle oor God te praat, hulle sal God se heiligheid soos ‘n trop varke “met hulle pote vertrap.” Dáárdie mense wat nie wíl luister na die boodskap van God se koninkryk wat gekom het nie, sal onder God se oordeel verkeer en moet daar nie verder tyd gemors word om hulle anders te probeer instel nie. Sodom en Gomorra wat nooit so ’n geleentheid gehad het nie, “sal ’n draagliker oordeel ontvang as hierdie dorpe wat die evangelie moedswillig weerstaan het”.
Dit is egter makliker gesê as gedaan. Hoe weet mens dat jou pogings om die evangelie oor te dra, gestaak moet word? Wat as jou beslissing verkeerd is en ‘n siel gaan verlore as gevolg van jou verkeerde besluit? Die Hebreërskrywer sê: “Maar solank daar nog ‘n ‘vandag’ is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13). Daar moet dus ten volle gebruik gemaak word van elke beskikbare geleentheid om mekaar te vermaan sodat die bedrog van die sonde ons harte nie verhard nie. Daar moet “elke dag” en gedurig vermaan word teen die misleiding van die oudste strateeg, satan. Die tyd van so ‘n vermaning kan dalk vir ewig verbygaan. Elke dag, kan daardie dag, straks die laaste “vandag” van God se genade vir iemand wees.
Eerstens gaan dit nie oor God se boodskappers nie maar oor God wat ons stuur! Dit gaan nie oor ons persoonlike voorkeure en oordeel oor ander nie. Ons integriteit en geloofwaardigheid moet van só aard wees dat ons optrede nie ‘n struikelblok vorm vir mense om die genade van God te aanvaar en te ervaar nie. Daar is ongelukkig mense, selfs Christen mense, wat baie swaar afskeid neem van hulle selfgesentreerdheid, selfvoldaanheid en selfsugtige optrede. Die self, die “ekkigheid,” het so vernaam geword dat hulle egoïsme hulle dwing om hulself te laat geld en hulle eie belange só te dien, dat hul vergeet van Jesus wat Sy dissipels se voete gewas het.
Dit is dan die tyd om na God se stem te luister. God ken ons immers. Ons hoef nie almal te ken of te probeer oortuig nie – God ken hulle. Dit is nie nodig om die evangelie aan iemand anders af te dwing nie. Wanneer mense jou stil maak of die deur wys, is dit ‘n bewys dat hulle nie ontvanklik is vir die Goeie Nuus dat die koninkryk van God, deur Jesus Christus, tot by hulle gekom het nie. Indien hulle dit nie wil aanvaar nie, sal God die nodige rekenskap by hulle eis – God sal oordeel. Sorg net dat jy afhanklik bly van God en ontvanklik bly vir sy Woord. Klim af van jou selfgemaakte troontjie van hoogmoed en raak bewus van jou geestelike armoede. Steek jou leë hande van bankrotskap, uit na die gekruisigde Jesus Christus en bly standvastig in die geloof.
“God’s delight is received upon surrender, not awarded upon conquest. The first step to joy is a plea for help” (Max Lucado).
Gebed: Hemelse Vader, ek erken my geestelike bankrotskap voor U en kan ek U maar net loof vir onbaatsugtige genade. Ek kan dit nie verdien nie en ook nie daarvoor werk of betaal nie, al wat ek U kan aanbied, is my sondige self. Dankie dat ek uit genade aan U kan behoort en dat ek afhanklik van U mag wees. Ek het werklik niks om oor hoogmoedig te wees nie. Help my om in nederige afhanklikheid só te leef dat U geëer word. Mag die lig van die liefde waarmee U my oorlaai, oorloop na ander, sodat hulle ook U warmte sal ervaar. Gee dat die stempel van U teenwoordigheid sal agterbly waar ek in U Naam was. Amen.