Gedagte vir Vandag
JESUS WORD GEKRUISIG – WAAROM!
(Matt. 27:32-44; Mark. 15:21-32; Luk. 23:26-43)
Joh. 19:18 – “Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.”
Vergelyk ook Mark. 15:29 – “Die mense wat daar verby geloop het, het Jesus gelaster. Hulle het die kop geskud en gesê: ‘Toe, jy wat die tempel afbreek en in drie dae weer opbou! Red jouself en kom van die kruis af.’ ”
Uit verskeie bronne is dit bekend dat die kruiseling soms op die grond met spykers deur sy hande aan die dwarsbalk vasgespyker is en dan teen die reeds staande regop paal opgehys is. Soms is die kruis plat op die grond neergesit en die kruiseling daaraan vasgespyker. Spykers van 20cm lank is deur die polse van die kruiseling geslaan (nie deur die handpalms soos op skilderye gewys word nie). Vanweë die liggaamsgewig sou die hande oopskeur en sou die kruiseling afval en die doel was om die kruiseling so lank as moontlik as openbare afskrikmiddel te gebruik en sy marteling ook te verleng. Deur die voete (hakskene) is spykers geslaan met die doel om pyn te verhoog en om die kruiseling in posisie te hou. Daarna is die kruis ingeplant.
Jesus se kruisiging was nie ‘n romantiese gebeurtenis nie, maar skrikwekkend wreed. Tussen twee misdadigers word Hy opgehang. Die geweld van die stamp om die kruis te laat regop staan, maak dat Sy arms uit potjie ruk, Sy spiere skeur. Skok, bloedverlies en hartstilstand bespoedig Sy dood. Nakend, sonder enige klere, hang Hy daar, onherkenbaar vermink en vervorm deur die sonde en pyn van die mensdom. Hy word uitgelewer aan die spot en vernedering van mense wat Hyself geskep het. Terwyl Sy bloed langs die kruis aftap, daag mense wat daar verby loop, Hom uit om Homself te red. “Net so het die priesterhoofde en die skrifgekeerdes ook spottend vir mekaar gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie!” (Mark. 15:31).
Dit is die prys wat Jesus moes betaal om ons met God te versoen. In die middel hang Hy as’t ware as Middelaar tussen God en mens – die plek waar hemel en aarde mekaar weldadig ontmoet. Tussen hemel en aarde hang Hy as simbool dat sowel die hemel en die aarde Hom verwerp het – die hemel omdat Hy die pyn en wroeging van biljoene mense, die ganse mensdom, se sonde moes dra; die aarde wat Hom nie wou hê nie omdat Hy te rein was, Hy nie ingepas het by die beeld wat mense van die Messias vir hulleself geskep het nie, mense met teleurgestelde verwagtinge wat die Joodse volksbelange kon behartig.
Ons lewensweg is met dorings bestrooi, daarom is Jesus se kroon van dorings, vir ons ‘n hulp langs hierdie weg. Pyn, skande en dood is ’n daaglikse werklikheid. Hoeveel vloek en spot kan ons dra? Dit vat fisies aan ons waar ons dit nie kan vat nie. Die pyn van elke siekte wat ooit op mense gekom het, selfs die verskriklike pyn van elkeen wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, het Jesus fisiek gedra. Hy het die mislukking van elkeen wat sy lewe opgemors het, op Homself geneem deur een van ons te word.
Hy was die een wat "verag en deur die mense verstoot was, 'n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra.” Aanvaar in geloof dat Jesus “oor óns oortredings deurboor is, oor óns sondes is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:3-5). Met die vier spykers wat Sy liggaam deurboor het, het “Hy my naam in Sy handpalms gegraveer” (Jes. 49:16).
“Aan die kruis het Jesus gehang met die gewig van elke aspek van ons skuld op Hom – elke leuen, elke onrein gedagte, elke vorm van versuim, elke stuk selfverheerliking ... Op die vraag van die aangrypende Negerlied: ‘Were you there when they crucified my Lord?’ kan ons waaragtig antwoord: Ja, ons was daar. Op Golgota was ons elkeen daar. Net – die een wat gely het, was nie ek of jy nie; dit was die Een wat gesterf het in ons plek” (Anton van Niekerk).
Gebed: Here Jesus, in my geestesoog sien ek U hang daar aan die kruis, naak, stukkend, verbrysel oor my sondes. Geen skoonheid dat ek eintlik na U wil kyk nie, geen voorkoms dat ek van U kan hou nie (Jes. 53:2b). Met afgryse sien ek hoe U gewilliglik U mag en heerlikheid prysgee vir ‘n eensame dood. En tog, reik U na my uit, is U bereid om vir my, nederige sondaar, die hoogste prys te betaal. U offer het my seën geword. Vergewe my Jesus dat ek U kruisiging en dood soms as vanselfsprekend aanvaar, of selfs vergeet wat U vir my gedoen het en dat ek U nie genoeg daarvoor dank nie. Mag die werklikheid van U kruis, U soenoffer, vir altyd ’n indruk op my maak en my hart met dankbaarheid vul sodat ek met ‘n “Christushart kan leef!” Amen.