Gedagte vir Vandag
JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.
(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)
DIE DOGTERTJIE VAN DIE JOODSE RAADSLID (2)
(Mark. 5:21-43); Luk. 8: 40-56)
BLY NET GLO!
Matt. 9:23-26 – “Daarna het Jesus by die huis van die raadslid gekom. Toe Hy die fluitspelers sien en die klomp mense wat tekere gaan, sê Hy: ‘Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.’ Maar hulle het Hom uitgelag. Nadat die mense uitgejaag was, het Hy in die huis ingegaan, die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek. Berigte hieroor het deur daardie hele omgewing versprei.”
Vergelyk ook Ps. 4:9 – “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my (en my kinders) veilig woon.”
By die terugkeer na die westelike oewer van die see, bevind Jesus Hom weer in Kapernaum waar Hy bekend is, en word Hy daarom onmiddellik omring deur hulpbehoeftiges. Iemand wat deur ’n buitengewone nood gedrewe word, baan sy weg deur die skare. Dit blyk Jaïrus, die owerste van die sinagoge, te wees. Aangesien alle hulp van mense gefaal het, soek Jaïrus nou by Hom redding vir sy dogtertjie wat op sterwe lê (Luk. 8:42). Hy, die vername geestelike leier gee nie om wat sy “lidmate” van hom dink nie, op sy knieë vertel hierdie belangrike man vir Jesus van sy krisis. Hy verneder homself en erken dat hy dringend Goddelike hulp nodig het, en voor Jesus, is alle mense gelyk, almal hulpelose reddingsbehoewendes.
Jesus gee onmiddellik ag op sy noodkreet en begin om na Jaïrus se huis toe te stap. Hoop vlam in sy hart op, want Jesus gaan sy dogter genees. Onderweg na sy huis, “het ‘n groot menigte van alle kante af teen Jesus gedruk” (Mark. 5:24). Dit het Sy reis aansienlik vertraag. Skielik, kom daar ‘n oponthoud. Jesus het gaan staan en gevra wie Hom aangeraak het. Hierna verstryk baie kosbare minute terwyl Jesus 'n vrou oorreed om uit te kom, en daarna handel Hy eers rustig met haar en haar probleem. Jaïrus het moontlik ongeduldig geraak. Sy dogter het dringend aandag nodig. Kon Jesus tog nie maar eers aan hóm aandag gee nie? Almal ken dié vrou wat al twaalf jaar lank siek is, sy kon maar nog ‘n uur of twee gewag het!
Die vertraging op die pad moes vir Jaïrus ’n geweldige beproewing gewees het. Bemoedigend spreek Jesus, Jaïrus aan: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!” (Mark. 5:36b). Dieselfde geloof wat Jaïrus na Jesus gedryf het toe omstandighede, menslik gesproke, hopeloos was, moet daar nóú ook wees. Daar is nog hoop vir dié wat in Jesus Christus glo. Hier moet die vader instaan vir sy kind; op grond van sý geloof, sal die kind behoue bly.
By die sterfhuis word toe reeds, volgens Oosterse gebruik om begrafnisgangers emosioneel te maak, luidrugtig rou bedryf deur “fluitspelers en ‘n klomp mense wat tekere gaan.” Jesus stuur dié weg wat nog voor die mag van die dood wil buig, en sê: “Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, sy slaap net.” Vir Hom is dood net ’n slaap waaruit iemand weer wakker geroep kan word. Maar hierdie waarheid is vir die rouklaers daar by Jaïrus se huis onverstaanbaar, en hulle lag Jesus uit. Hulle is immers oortuig dat die dogtertjie wel dood is.
Jesus het verby al die aanwesiges se ongeloof gestap en neem slegs die dogtertjie se ouers en drie dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, met Hom saam die huis in. Hulle het moontlik besef dat dit geen geringe saak was vir die mens, om die ewige Jesus te versoek dat ‘n persoon wat die grenslyn na die ewigheid oorgesteek het, sal terugtree en weer deel word van die hier en die nou nie. Die hoop in Christus beskaam egter nie. Met geringe inspanning neem Jesus die kindjie se lewelose handjie in Sy eie en roep uit: “Dogtertjie, staan op” (Luk. 8:54b). Ineens het haar gees na haar liggaam teruggekeer en het sy opgestaan. Toe gee Jesus aan haar oorstelpte ouers wat stom van verbasing was, opdrag om vir haar iets te ete te gee (Luk. 8:55).
Jesus word nie deur die mag van siekte en dood beperk nie. Sy mag breek deur die grense van siekte en dood, daarom is die dood vir Hom geen laaste finale realiteit nie. Omdat Hy bewus is van Sý opstandingsmag, noem Jesus die dood ‘n slaap. God is ál Een wat die finale sê het en die finale grense trek, nie die dood nie!
Ons ken die lewe ook so. Ons huil maklik oor die lewe en ons lag ook meewarig omdat ons te midde van ons trane, min verligting verwag. Maar … “Is iets te buitengewoon vir die Here?” (Gen. 18:14). Jesus het met hierdie gebeurtenis gewys dat vir God niks buitengewoons is nie. Hy is voorheen geteken as Een wat mag het oor die liggaam, oor die natuurkragte, oor die wêreld van die geeste, en nou ook oor die dood. Hy is die Redder uit elke denkbare menslike nood, om selfs vir ons wat vandag meewarig lag of droewig huil, stom van verwondering te maak!
Van twee dinge kan ons absoluut seker van wees: dat jy eendag sal doodgaan en dat jy, as jy in Jesus Christus glo, vir altyd sal lewe. Elke dag wat verbygaan, is ‘n treë nader aan die dag waarop jy gaan sterf, daarom moet jy só leef dat die dood maar kan kom. Maak seker dat jy genoeg tyd afstaan aan jou en jou kinders se ewigheidswaardes!
“Jesus ruk nie alleen die fondamente van die doderyk oop nie, Hy skud ook mense se ongeloof stukkend deur die onmoontlike te laat gebeur” (Prof. Stephan Joubert).
Gebed: Here, dankie dat die dood van U kinders nooit die einde van die lewe beteken nie, maar slegs die begin van die eintlike lewe by U. Here, ek is só geneig om ook meewarig te lag of droewig te huil, want toe my kinders klein was, kon ek hulle teen my vasdruk en as hulle seerkry, met soentjies en spoegies behandel totdat hulle weer lag. Nou is hulle groot en hulle seerkry anders. Maar Here, nou kan ek hulle met vrymoedigheid by U los en wéét, U sal sorg! Lig U hande seënend oor hulle, laat hulle hul name onuitwisbaar in U deurboorde hande, gegraveer sien. Amen.