top of page

Gedagte vir Vandag


JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.

(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)


DIE VASTYD (1) – IMMANUEL, GOD MET MY!

(Mark. 2:18-22; Luk 5:33-39)


Matt. 9:14-15a – “In dié tyd het die volgelinge van Johannes na Jesus toe gekom en gevra: ‘Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas glad nie?’ Jesus antwoord hulle: ‘Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is?”


Sommige van Johannes die Doper se volgelinge, wat op hierdie stadium aan hulleself oorgelaat was as gevolg van die Doper wat toe reeds in die tronk was, wil by Jesus weet “waarom hulle en die Fariseërs dikwels vas, maar Sy dissipels glad nie vas nie?” Jesus het pas die skrifgeleerdes tereg gewys oor sonde vergifnis terwyl Hy die verlamde man genees het, daarna die Fariseërs by Matteus se ete daarop gewys dat barmhartigheid beteken om jou verpligtinge teenoor God en jou medemens na te kom. Nou moet Hy weer ’n uitspraak lewer aan die Doper se volgelinge oor hulle opvatting van hulle verhouding tot God. Hulle wil God se guns verwerf deur te vas.


Om te vas was ‘n teken van verootmoediging voor God. Geen kos of drank was dan nie vir ‘n sekere tydperk gebruik nie. Die bekendste reëlmatige vasdag was die jaarlikse groot Versoendag (Lev. 16:29). Dit was verpligtend vir elke Jood, want dit was die dag wat hulle “gereinig moes word van hulle sondes.” Die Fariseërs het egter hierdie vas-gebruik, ingestel na twee maal per week.


Die vrome Jode het gedurende Jesus se aardse tyd, op Maandae en Donderdae gevas (Luk. 18:12). Dit was om darem net te bewys dat hulle godsdienstige meerderwaardigheid vasstaan. Hulle was “geestelike reuse” wat in die oë van ander uitgestaan het betreffende hulle toewyding aan God. Die gebruik was om te vas ter viering van groot gebeurtenisse in die Joodse geskiedenis (Est. 9:31); uitdrukking te gee aan hartseer (1 Sam. 31:13); verootmoediging (Esra 8:21); berou oor sonde (1 Sam. 7:6); God se raad te vra (Eks. 34:28); oordeel van God af te weer (Jer. 36:9) en selfopgelegde straf.


Maandae en Donderdae was markdae in die destydse Israel. Van sonsopkoms tot sonsondergang, het die Jode hierdie dae, wanneer daar ‘n groot samedromming van mense was en meer mense medelye kon betoon, gebruik om te vas. Groot vertoon is gelewer met verslete klere wat aangetrek is, hare wat nie gekam is nie en gesigte wat wit gesmeer was om vir ander te wys dat hulle vas. Om hulle kos op te offer ter wille van hulle godsdiens, het ‘n martelaarshouding op die gesig van die skynheiliges geplaas wat gevolglik veroorsaak het dat hulle hoër agting sou kry – ‘n ongelooflike religieuse prestasie teenoor mense!


Jesus antwoord die Doper se volgelinge dat die núwe tyd, núwe vorme en gesindhede bring. Dit is nie dat daar iets met vastyd verkeerd was nie, maar dat dit nie tóé die tyd daarvoor was nie. Om te vas was ‘n teken van o.a. verootmoediging en rou, en “die bruilofsgaste kan mos nie treur solank die bruidegom (Jesus) nog by hulle is nie!” Die Bruidegom se Naam is mos nie verniet Immanuel (dit wil sê: God by ons nie – Matt. 1:23)! Jesus verlang vreugde oor die teenwoordigheid van die Goddelike bruidegom. Sy teenwoordigheid behoort aanleiding te gee tot volle bruilofsvreugde oor die Messias wat eindelik gekom het. Indien ons dit nie doen nie, vat ons Jesus in die gesig.


Elkeen wat in Jesus Christus glo, ondervind nóú reeds die intieme nabyheid van God. Maar daar is ongelukkig steeds diegene wat twyfel of hulle van hulle sondes verlos is. Baie mense leef nog met ‘n stuk gebrokenheid in hulle harte en steeds rou, stééds vas, omdat hulle nie deurentyd ondervind dat God by ons is nie. Ons kan egter nou reeds die Immanuel-belofte ondervind, en nie eers eendag wanneer alles in die hemel gaan verander nie. Ons sondeskuld is betaal. Die kruis op Golgota is die waarborg daarvan. Dit is die toppunt van geluksaligheid!


Dit is nie meer nodig om alleen of ver van die Here af te voel nie. Deur die Heilige Gees is dit nou vir jou en my moontlik om Hom enige tyd en op enige plek te ontmoet en die seën te ervaar van Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan. Dit is dan ook die teenwoordigheid van Jesus dat ons, as “bruilofsgaste nie kan treur solank die Bruidegom nog by ons is,” dat ons nie nodig het om te vas sodat ons geestelik kan groei tot volwassenheid, nie, want “waar die Gees van die Here is, is daar vryheid” (1 Kor. 3:17b). Dit is egter steeds ons eie keuse of ons eerder wil wonder of ons moet vas om in God se teenwoordigheid toegelaat te word, en of ons wil glo dat sy Gees alomteenwoordig is, gereed om ons te ontmoet, waar ons ook al mag wees!


“Dit is nie ons daad van geloof wat ons regverdig maak nie, maar die inhoud van ons geloof wat dit bewerk” (Karl Barth).


Gebed: Here, U teenwoordigheid is die fondament waarop ek my hoop met sekerheid kan bou. Dankie vir die hoop wat U in my hart weglê vir die dag van môre, want U reg en geregtigheid is van dag tot dag en van geslag tot geslag, onveranderlik. Dankie vir die belofte dat U vir my sal seën en beskerm; tot my redding sal verskyn en genadig wees; dat U my gebede sal verhoor en aan my vrede sal gee! (Num. 6:24-26). Verál in tye van siekte! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page