Gedagte vir Vandag
JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.
(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)
DIE ROEPING VAN MATTEUS (2) – VERKEERDE VRIENDE!
(Mark. 2:13-17; Luk. 5:27-32)
Matt. 9:9-11 – “Terwyl Jesus daarvandaan verder gaan, het Hy ‘n man met die naam Matteus by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: ‘Volg My!’ Hy het toe opgestaan en Hom gevolg. Jesus het by hom in sy huis gaan eet, en baie tollenaars en sondaars het saam met Jesus en sy dissipels kom eet. Toe die Fariseërs dit sien, vra hulle vir sy dissipels: ‘Waarom eet julle leermeester saam met tollenaars en sondaars?’”
Vergelyk ook Spr. 3:34 – “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.”
Matteus laat staan alles in sy doeanekantoor nét so en volg Jesus. Jesus se twee woorde: “Volg My!”, het sy lewe onherroeplik op ‘n nuwe weg geplaas! Om uiting te gee aan die blydskap wat hy nou leer ken het, rig Matteus “ter ere van Jesus ’n groot feesmaal aan en ‘n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit” (Luk. 5:29). Die “ander mense” is sondaars wat volgens die Fariseërs, nie al die fynere godsdienstige gebruike, reëls en wette wat die Fariseërs bygevoeg het by die wet wat Moses van God ontvang het, nagekom het nie. Dit wil sê ander “tollenaars en sondaars”, die uitgeworpenes van die samelewing. Tot ergernis van die skrifgeleerdes en Fariseërs, gaan Jesus saam met hulle aan tafel. Die tafelgemeenskap is die teken van vriendskap en van lewensgemeenskap. Daarom sou ’n “reine” Jood nooit met “onreines” aansit nie. Aangesien Jesus deur sy optrede hierdie opvatting verontagsaam, maak die godsdienstige leiers van die volk, hewig beswaar.
Volgens Oosterse gebruik kon daar toeskouers ook aanwesig wees by ’n feesmaal wat heel moontlik die sogenaamde “sondaars” verteenwoordig. Dit sou nie-Jode kon wees. Dit sou ook Jode kon wees wat volgens die Fariseërs as sondaars beskou was omdat hulle nie die voorskrifte van die wet soos deur die Fariseërs uitgelê, nougeset nagekom het nie. Dit was die oorgrote meerderheid van die gewone "mense van die land", almal mense wat volgens die godsdiensleiers, ‘n slegte reputasie het. Hierdie optrede van Jesus lok 'n gesprek uit tussen die Fariseërs en die dissipels van Jesus. Die Fariseërs het reeds eerder Jesus se gesag as leermeester erken, maar hulle toon ook aan dat hulle hul van Sy leringe distansieer, deur die verwysing na "júlle leermeester."
Aan jou vriende sal jy geken word – soort soek soort. Hierdie spreekwoorde is aan ons goed bekend, en daar is ‘n groot mate van waarheid hierin. Van kleins af waak ouers oor die vriendekring van hulle kinders. ‘n Verkeerde vriendekring kan jou kind se lewe negatief beïnvloed en selfs verwoes. Wanneer jy, volgens jou, selfstandig geword het en sélf kan besluit, kan verkeerde keuses van vriende óók jou lewe verwoes. Tog moet ons egter erken dat baie mense al hierdeur verontreg is en dat baie onreg gepleeg is onder die dekmantel van “verkeerde vriende”.
Wie was die vriende van Jesus? Met wie het Jesus geassosieer? Hy was die Vriend van veragtes en uitgeworpenes van die samelewing, sonder om Sy beginsels prys te gee. Hy het nie verval en soos hulle geword nie. Inteendeel, Hy het hierdie veragte uitgeworpenes nog gedien en van hulle se voete ook gewas (Joh. 13). Wanneer jy om jou kyk na medegelowiges, met wie is jy bereid om te assosieer? Met wie is jy bereid om jou hande vuil te maak terwyl jy uitreik, liefde en barmhartigheid bewys?
Is dit nie so dat daar nog altyd onderskeid getref is nie? Ons groep en ander groepe. Die geleerdes en die ongeleerdes, die rykes en die armes, die invloedrykes en onaansienlikes – ons en hulle. Jesus Christus skeer alle mense oor dieselfde kam – almal is sondaars, daarom kan ons geregtigheid nie voldoen aan God se standaard van regverdig wees nie. Paulus stel dit vir ons duidelik: “Almal het gesondig en is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek (geregverdig) vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:23-24). Die fokus van elkeen van ons se lewe behoort na God gekeer te wees omdat ons van Hom afhanklik is, en ons doen dit in gemeenskap met ander gelowiges.
ʼn Mens kan net regverdig wees as God jou regverdig verklaar het. God verklaar mense nie regverdig op grond van enigiets wat hulle gedoen het nie, Hy doen dit uit genade oor wat Sy Seun Christus reeds gedoen het aan die kruis! Uit genade skenk God, Christus se geregtigheid aan die sondaar, sodat die mens wat sy geloof en vertroue ten volle in Christus stel, as ʼn regverdige voor God kan staan. Ons gelowiges is dus regverdig oor ons status in Christus, en nie as gevolg van ons natuurlike status of eie prestasie nie. Daarvoor moet ons “dankbaar wees in alle omstandighede, want dit is wat God in Christus Jesus van ons verwag” (1 Tess. 5:18).
“Min dinge is so leeg soos ‘n godsdiens wat net uit godsdienstige gebare bestaan, sonder ‘n genadige gesindheid teenoor jou naaste” (Ferdinand Deist).
Gebed: Here, natuurlik is ek gewillig om enigiets vir U te doen, maar ... daar is ‘n paar voorbehoude. Ek meen, ek wil my darem nie in ‘n ding begewe wat buite my normale kapasiteit lê of wat indruis teen my bekende lewenstyl nie. Toe ek gemeen het ek sal vir U goeie werke doen het ek nie verwys na die plakkerskampe, die vigskliniek of die boemelaars nie, Here. ‘n Beskaafde mens kan siektes daar optel. Ek weet ek is veronderstel om myself onvoorwaardelik te gee vir diens aan U en my naaste. Miskien eendag as ek ouer is. Here, toe ek gesê het ek gee my lewe aan U oor, was dit tog net beeldspraak. Dit was net teoreties en nie eintlik ‘n feitelike stelling nie. U verstaan dit mos so Here? “Hoe nou, Here? U vra of U kruisdood ter wille van my ook net teoreties was?” (Gebed deur Flora Larsson, effens verkort.)