Gedagte vir Vandag
JESUS SE GESAG IN SY WONDERDADE.
(Matt. 8:1 tot Matt. 9:34.)
JESUS SE MAGSOPENBARING OOR DIE GREEP VAN DIE SONDE – DIE GENESING VAN ‘N VERLAMDE MAN (1). (Mark. 2:1-12; Luk 5:17-26)
GELOOF IS OM MET JESUS CHRISTUS TE WAAG!
Matt. 9:1-2 – Jesus het toe in die skuit geklim, die see oorgesteek en in sy eie dorp aangekom. Daar het hulle ‘n verlamde man wat bedlêend was, na Hom toe gebring. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.’”
Vergelyk ook Ps. 103:3 – “Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees.”
Op versoek van die inwoners van Gadara, verlaat Jesus hulle gebied, “steek die See van Galilea oor en kom in sy eie dorp, Kapernaum aan.” Tot dusver het Matteus Jesus se mag en gesag beklemtoon oor siekte, gebreke (hoe Jesus gevolg moet word), die natuur (storm op die see), demone (Gadara), en nou, word Jesus se naamgewing verstaanbaar: “Sy (Maria) sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy (Josef) moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Vir die eerste keer meld Matteus dat Jesus se gesag en mag ook oor die diepste nood van die mens strek – die mens se sonde!
Matteus se weergawe van gebeure is wéér korter as Markus en Lukas s’n. Dit is egter belangrik om veral Markus se verhaal ook aan te haal. Terug in Kapernaum, het dit nie lank geduur nie of baie mense het weer saamgedrom by die huis (moontlik Petrus se huis), waar Jesus besig was “om oor sy boodskap te praat” (Mark 2:2b). Die inhoud van Sy boodskap was natuurlik dat die Koninkryk van God gekom, en wat dit alles beteken, het.
Volgens die opvatting van daardie tyd was siekte die straf vir die sonde, en kon die oortredings van die ouers, straf oor die kinders en kindskinders bring (Eks. 20:5). Daarom móét jou sonde eers vergewe word voor jy van jou siekte kan genees. Jesus verwerp egter hierdie moontlikhede deur op ’n veel meer verhewe motief te wys. Dit gaan om “die werke van God wat sigbaar moet word” (Joh. 9:2-3), soos dit ook was in die geval van Job.
Die lyding van die mens dien daartoe dat die heerlikheid van God en van Christus geopenbaar word wanneer die Goddelike ontferming en almag uitkoms bring. Jesus wys dus daarop dat die lyding bedoel is om tot ’n ontmoeting met God te lei, sodat die werke van God aan die sieke sigbaar kan word deurdat die Here genesing skenk, of oorwinning, ten spyte van lyding (Rom. 8:37). (Ons moet dus uiters versigtig wees voordat ons sommer direkte lyne na vandag toe deurtrek en mense se siekte koppel aan hulle sonde.) In hierdie geval is die “werke van God”, die wegneem van die liggaamlike en geestelike lamheid waaraan hierdie ongelukkige man gely het.
Terwyl Jesus besig was met die verkondiging van die boodskap oor die koninkryk van God, bring vriende van ‘n verlamde man “wat bedlêend was”, hom na Jesus. Hulle kon hom nie tempel toe neem wat die plek was waar mense veronderstel om genees te word nie, want siekes was as onrein beskou en daarom nie werd om voor God te verskyn nie. Aangesien die toegang tot die huis nie bereikbaar is nie, gaan hulle met die buitetrap op na die plat dak. Hulle verwag heil van Jesus en is vasbeslote om Hom te bereik. Hulle geloof in Jesus se reddende mag, spoor hulle tot hierdie ontsettende opoffering aan en hulle neem ‘n drastiese stap – hulle breek die dak oop en laat hul verlamde vriend op sy draagbaar, tot voor Jesus, neersak.
En Jesus laat nie op Hom wag nie, Hy gaan onmiddellik tot aksie oor. “Toe Hy hulle geloof sien,” tree Hy met Goddelike gesag op en “sê vir die verlamde: Vriend, wees gerus; jou sondes word vergewe.” Jesus wys hier vir ons dat ware geloof, nie terugdeins vir opoffering nie, en op ‘n intieme manier, spreek Hy die verlamde aan as Sy vriend!
Siekte is nie ‘n straf op sonde nie! Dit is nie soos sogenaamde “geloofsgenesers” verklaar dat siekte se oorsprong van die duiwel af is of God se straf op sonde nie. God sit nie heeldag en nag en kyk waar die mens verkeerd doen sodat Hy hom met ‘n rottang (siekte) kan bykom nie. Dit is nie hoe ons God “operate” nie. Ons gelowiges kan nie en gaan nie siekte en dood teen die rekening van ons God van liefde, debiteer nie. Die beste is om Jesus toe te laat om jou visie algaande te verdiep dat jy Hom as God en Here raaksien, in Hom glo en aanbid. Kyk eerder hoe God Sy grootsheid en almag deur die man se probleem kan bewys, as om die skuld op iemand te wil plaas.
Lyding en swaarkry kan ‘n beproewing wees, dit lei mens na die eina’s en amen’s van die lewe, maar dit eindig gewoonlik tot ‘n ontmoeting met God “sodat God se werke sigbaar word.” Ek wonder hoeveel van ons sou so vasberade soos hierdie vier vriende van die verlamde man wees, om by Jesus uit te kom vir hulp? Wat sou ons doen om byvoorbeeld ons lewensmaat, ons kinders, familie of vriende by die Enigste Persoon te kry wat ons Enigste Hoop is? Gee ons waaragtig genoeg om om te verseker dat hulle by Jesus uitkom?
“We cannot make a man a Christian, but we can do everything possible to bring him into Christ's presence” (William Barclay).
Gebed: Dankie Here, dat ek U kan vertrou wanneer ek krisisse beleef, dat ek Jesus deur U Gees in my kan beleef! Wanneer ek op my swakste is, is die kanse groter dat U wonderwerke sal verrig as wanneer ek op die kruin van die suksesgolf ry. Dankie dat ek my teleurstellings, probleme, siekte, lyding en swaarkry na U toe kan bring en U juis dan daar is om U Goddelikheid deur U werke bewys. Amen.