top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Jan 30, 2020
  • 4 min read

JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


AFSLUITING VAN DIE BERGREDE – EGTHEID VAN DISSIPELSKAP IS OM DIE WOORDE VAN JESUS TE GEHOORSAAM EN TE DOEN! (DERDE VERMANING).


HOOR EN DOEN (2) – JESUS LEI ONS TOT PRAKTIESE GELOOF!

(Luk. 13:25-27)


Matt. 7:21-23 – “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”


Vergelyk ook Ef. 2:8-9 – “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”


Vergun my om vandag se “GEDAGTE” met ‘n persoonlike belydenis te begin. Ek het ‘n tydjie terug, gedurende die nag wakker geword met ‘n vrees oor Jesus se vermaning in vers 21. Ek is ook een van dié wat sê “Here, Here.” Ek beroep my op die feit dat ek gedoop is, lidmaat is van ‘n dinamiese gemeente, taamlik betrokke daar is en probeer om daagliks, ‘n verteenwoordiger van Christus, my Saligmaker te wees. Ek probeer om selfs die regte dinge te sê en te doen, maar … “baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?” … dan te besef dat dit nie noodwendig reg was nie.


Wat my veral wakker laat lê het, is Jesus se verdoemende woorde: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” Dit sal ‘n verskriklike ontnugtering wees om op die laaste dag voor Jesus te staan, menende dat Hy my ken en dan te hoor dat Hy nie ‘n idee het wie ek is nie. Al herinner ek Jesus dan ook vinnig dat ek in Sy “Naam gepreek het, duiwels uitgedryf en selfs wonders gedoen het”, maar steeds uit te vind dat my naam nie op Sy gastelys vir die hemelse feesmaal verskyn nie!


Terwyl ek so in die donker gelê en peins het, het Paulus se woorde van ons vergelykende teks in Efesiërs 2:8-9 (hierbo), my in ‘n mate gerusgestel. In my enigheid het ek besef dat God se genade en geloof in Jesus as Saligmaker, ‘n gawe van God is. Dit is ‘n geskenk van God wat ons nie kan koop of verdien nie. “Ons is op grond van Sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus” (Rom. 3:24b). En ek glo en bely hierdie waarheid!


Onwillekeurig het die laaste woorde van Jesus in vers 23: “julle wat die wet van God oortree,” my laat dink aan die Fariseërs se verdraaiing van die wet (Matt. 5:20). God se wet is saamgevat as liefde vir Hom en liefde vir ons naaste en as ons dus anders as die Fariseërs wil wees, behoort ons dan ons geloof met dade te bewys. ‘n Waaragtige geloof in Christus moet dus uit sy aard vrugte dra – dade van liefde wat by ‘n geloof behoort wat God en ons naaste dien.


Wat help dit byvoorbeeld, iemand kom oor ons pad en sê hy is honger en ons stuur hom weg met die woorde dat ons vir hom sal bid. Die gebed van “gee ons vandag ons dag se brood” het nog nie die probleem opgelos nie. Die probleem is nie afgehandel nie want daar is nie aan die persoon se behoefte voorsien nie. Dit help nie om groot geloofswoorde te praat wat uit ‘n leë hart uitkom nie en hy steeds honger, weggestuur word.


Ons word nie gered deur ons goeie werke nie maar word gered om te werk. Dit is die gevolg van ‘n saligmakende geloof. Om gered te wees en as individu daaraan vas te klou, die Here te bedank dat Hy ons gered het en niks daaraan doen nie, beteken niks. Ons is gered met die doel om God te verheerlik deur dade van liefde. Alle Christene is “glo-mense” anders kan ons nie gered word nie. Maar alle Christene moet “doen-mense” ook word om ons dankbaarheid te toon dat ons gered is. Om ‘n gees van Goddelike toewyding te openbaar en toe te pas, beteken om in die krag van daardie liefde wat ons vir God en ons naaste het, prakties te demonstreer in die wêreld waar ons werk en leef. Jesus het Sy wil mos glashelder opgeteken hier in die Bergpreek, ons moet dit net doen en God so verheerlik, dan sal ons nie ontnugter voor Hom staan op die laaste dag nie!


Jesus stuur ons nie uit om ons redding deur ons werke of dade te gaan verdien nie, Hy stuur ons uit om ons redding te gaan bewys: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10). Ons werk vir die Here is nie vir ‘n beloning nie – ons het dit klaar ontvang. Ons werk is uit dankbaarheid vir dit wat ons uit liefde klaar ontvang het by die kruis en opstanding van Jesus Christus, ons Here.


“Neem die liefde weg en hierdie wêreld word ‘n grafkelder” (Robert Browning).


Gebed: Here, ek skiet verskriklik ver tekort in my pogings om ‘n behoorlike en toegewyde dissipel van U te kan wees. Ek praat die regte “kerktaal” van mense en engele, maar bly ‘n klinkende metaal en galmende simbaal. My geloof in U is sterk genoeg om “berge te versit” maar voel steeds dat ek eintlik steeds niks is nie. Here, skenk my die genade om my lewe in ooreenstemming met U wil in te rig; om lief te kan hê soos U want sonder liefde, die Bergpreek soort liefde, is ek niks. Help my om daardie liefde prakties met ‘n Christushart te demonstreer in die wêreld waar ek werk en leef. Amen.


 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page