Gedagte vir Vandag
JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!
(Matt. 5-7)
TWEEDE RIGLYN VIR DIE VERVULLING VAN DIE WET (HOE OM DIE LEWE VAN GEREGTIGHEID TE BEOEFEN.)
AS JULLE BID (2) – MAAK TYD OM ALLEEN TE WEES MET GOD!
(Luk. 11:2-4)
Matt. 6:6 – “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
Vergelyk ook Mark. 1:35 – “Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Jesus opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid.”
Die “kamer” wat die enigste kamer was wat toegesluit kon word in die eenvoudige huisies van destyds, was ‘n stoorkamer of spens waar die voorraad gebêre was. Dit was gewoonlik ‘n kamer sonder vensters, met ander woorde, ‘n stil plekkie waar ongestoord met God gepraat kon word. Die blote feit dat die Seun van God dit nodig gevind het om te bid, moet dit vir ons as voorbeeld dien en ons oortuig wees dat gebed vir ons onmisbaar is. Jesus se dissipels het Hom dikwels in afsondering aangetref waar Hy besig was om te bid. Hy het Homself verskeie kere van menseskares onttrek om op ‘n eensame plekkie te gaan bid (Matt. 14:23).
‘n Plek van afsondering is noodsaaklik vir rustige en stil omgang met die Here. Alhoewel ons nie God behoort te beperk tot ‘n sekere tyd of plek nie, of gesamentlike gebed uitsluit nie, word hierdie stil plekkie later soos wat ‘n Bet-El vir Jakob geword het – ‘n Plek waar die Here is en dit ‘n poort van die hemel word (Gen. 28:17). Niemand behoort ons te steur terwyl ons met die Here praat nie, die stil oomblikke wat ons soms in Sy teenwoordigheid wil deurbring. Dit is dan wanneer jy na Sy stem kan luister terwyl jy geduldig wag dat Hy op die regte tyd en die regte manier, sal antwoord.
Dit sou min baat as ons ‘n stil plek gevind het, maar ons vol program ons nie tyd gun om werklik te kan bid nie. Jesus het dit goed gevind om “die môre vroeg, toe dit nog nag was”, te gaan bid. Daar is geen beter tyd as om die eerste oomblikke van elke nuwe dag die Here aan te roep nie. Dit is die heel beste manier om ‘n dag te begin. Het dit nie al met jou gebeur dat wanneer jy bid, dit soms voel dat jy só haastig is om vir God iets te sê, dat jy een gedagte na die ander aframmel sodat jy vinnig weer kan terugkeer na jou “bedrywige wêreld” nie? Die probleem is na só ‘n haastige sessie, het jy God nog nie kans gegee om jou te antwoord nie en is jy geensins verkwik of versterk deur jou gebedstyd nie.
Ook aan die einde van die dag, na al die take afgehandel is, is dit nodig om met die Here te verkeer. Al voel dit soms of jy nie jou gedagtes van die dag kan uitwis nie, asof jy nie kan “afskakel” nie. Dit is dan jou verantwoordelikheid om jou gedagtes te beheer, en watter beter manier is dit nie om dit in die teenwoordigheid van God te doen nie! Fokus jou gedagtes op God in dié tyd wat jy opsy sit om alleen by Hom te wees. Dit raak ‘n vreugdevolle ondervinding wanneer jy na ‘n dag se swoeg en sweet, in die krag van die Heilige Gees met God kan verkeer, terug te kyk op die dag, te “recap”, Hom te dank, sonde en skuld te bely en jouself vir die nag aan Hom toevertrou.
Nog beter is natuurlik om soos Dawid na die Here te roep: “In die aand, in die môre, en in die middag, heeldag kla en sug hy, en God hoor hom roep” (Ps. 55:18). Dwarsdeur die dag kan ons met die Here praat en so groei ons liefdesverhouding. Ons lewe word ‘n lewe van gedurige gebed (1 Tess. 5:17). Hoe kan ons weet wat God wil hê ons moet doen as ons nie by Hom uitkom nie? Ons kla onsself moeg omdat ons nie weet watter koers ons moet inslaan nie, nie ’n idee het watter kant toe ons met ’n groot besluit moet gaan nie en dan lê ons klagtes voor God se deur. God kán ons nie antwoord nie want ons sukkel maar aan op ons eie!
Gedurige gesels met God maak jou anders. Dit rus jou toe vir die lewe daar buite. Dit word vertel van ‘n ouma wie elke aand huisgodsdiens op die plaas gelei het en elke aand is haar gebed 'n dankie-sê gebed. Sy kla oor niks en vra niks. Haar kinders was hieroor baie gefrustreerd, want of daar nou oeste, droogte, siekte of wat ookal was, ouma het altyd iets om oor dankbaar te wees, selfs toe ’n haelstorm als wat nog oor was na ’n droogte, wegslaan en niks oorgebly het nie. In groot afwagting het almal dié aand gewag om te hoor of Ouma na alles nog steeds iets sal vind om voor dankbaar te wees. Haar gebed: “Dankie Heer, dat elke dag nie soos vandag is nie.” Kostelik! “Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”
“As ek maar ‘n enkele dag sou versuim om te bid, sou ek ‘n groot deel van die vuur van my geloof verloor” (Martin Luther).
Gebed: Hemel Vader, my lewe is so gejaagd dat dit vir die meeste tyd moeilik is om my ontstuimige gemoed tot bedaring en stilte te bring. Laat my elke oggend, voordat die lewe begin jaag, stil word by U. Maak my rustig en laat ek begin sonder enige woorde en “wag op U, Here” (Ps. 130:6). Laat my ook soos Dawid na U roep: “In die aand, in die môre, en in die middag, heeldag kan ek kla en sug, en weet, U hoor my roep” (Ps. 55:18). Dankie dat ek daarop kan reken dat U sal kom want Jesus het my verseker dat wanneer ek tot U “nader sal U tot my nader” (Jak. 4:8). Laat my hart daarvan vol word – U is by my, U sien my hier in my “stil plekkie”. U praat met my soos ‘n Vader met sy kind! Dankie Here dat U vir my lief is. Amen.