top of page
Search

Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Aug 28, 2019
  • 5 min read

Vergun ons om elkeen van julle E-Kerk lesers uit te nooi na ons jaarlikse FAMFEST wat Vrydag, 30 Augustus gaan plaasvind op NG FOCHVILLE NOORD se gronde vanaf 10h00 tot laat. Kom beleef en geniet die verskil in ons Basaar vir oud en jonk. Aan julle lesers wat in die buiteland en oorsee woon, bid asseblief saam met ons; bid dat niks buite ons Here se voorsienigheid val nie en dat hierdie gebed dwarsdeur die dag sal voortgaan; bid dat Hy vir elkeen wat daar werk én elke besoeker, sal sorg, dat alles vir ons, Sy kinders, ten goede sal meewerk, want sonder Hom, kan ons niks doen nie!



JESUS SE EERSTE TOESPRAAK VOLGENS DIE EVANGELIE VAN MATTEUS : DIE BERGREDE!

(Matt. 5-7)


JESUS SE EERSTE VOORBEELD VAN GROTER GETROUHEID AAN DIE WET :


VERSOENING (2) – GELOWIGES KAN ASKIES SÊ!


Matt. 5:23-24 – “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.”


Vergelyk ook Miga 6:8 – “Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”


Jesus gaan nog verder en voeg by dat wanverhoudinge tussen mense net so ernstig is as moord. Ook wanneer ’n ander vir jóú kwaad is, wanneer “jou broer iets teen jou het”, het offers, aanbidding van God, geen sin as jý nie eers vrede met jou broer maak en so versoening op die tussenmenslike vlak bewerk nie. “Maar Jesus, met respek, ek het dan niks verkeerd gedoen nie, ek was nie die oorsaak van hierdie konflik nie”


Jesus se luisteraars was baie bekend met die woorde van offers na die altaar. Die Ou Testamentiese Jode het by die altaar met God gaan versoening soek. Hulle het deur hulle skuldoffers en wydingsoffers by die altaar hulle skuld bely en hulle lewe opnuut aan God toegewy. Trouens, hulle het dit “van die ou tyd af aan die mense gesê, aan hulle kinders gesê …”, van geslag tot geslag geleer hoe om die skrifgeleerdes en Fariseërs se ekstra bepalings en byvoegings tot God se wet, met hulle godsdienstige tradisies te verbind.


Nou kom Jesus en versoek ons om nie meer doer in die verlede te leef nie, in die “ou dae wat sulke goeie dae was en alles nog goed gegaan het nie” nie. Hierdie vermaning van Jesus om “eers vrede te gaan maak”, het ons weer laat besef dat daar nie aan God ‘n offer gebring kan word indien ons nie vrede gemaak het met ander mense nie. Jesus se uitspraak is om aktiewe vredemakers te wees en het Hy ons sommer onlangs nog tydens Sy Saligsprekinge, as vredemakers geseën (Matt. 5:9).


Sonde is nie net ‘n muur tussen God en ons nie, maar ook tussen ons en iemand anders. Om te dink ons het met God vrede gemaak omdat ons in Jesus Christus glo, is nie genoeg nie. Dit is nie volkome vrede nie. Wanneer ons gawes na die plek van versoening met God, (kerk), toe neem en dit ons daar byval dat iemand iets teen óns het, moet óns eers die vrede gaan herstel. Ongelukkig is dit ‘n feit dat ons in ‘n verskeurde wêreld leef en daarom sal dit miskien nodig wees om hierdie herstel-proses baie te herhaal.


Ons wonder soms hoekom ons gebede nutteloos voel. Daar bestaan ‘n gevoel dat daar ‘n versperring tussen God en ons is. Is daardie versperring nie dalk deur onsself opgerig nie? Jesus sê hier vir ons dat ons nie ‘n gesprek met God moet begin, (“gawe van gebed na die altaar toe bring”), as ons broer of suster vir óns kwaad is en nie met óns praat nie. Dit is natuurlik nie verkeerd om enige tyd met God te praat nie maar dit is ‘n ander kwessie as ons skynheilig met God in gesprek tree en maak asof daar niks verkeerd is nie. Jesus sê ons moet eers bietjie wag met die gesprek met God en eers gou gaan regmaak, die versperring van agressie gaan verwyder – daardie versperring wat loop van die hart na die tong na die gebalde vuis en uiteindelik, moontlik die bloedige hand.


“Daar is nie ‘n maníér dat ek gaan vrede maak nie, ek is nie die oorsaak van hierdie twis nie!” Dit is gewoonlik die reaksie van menigte en eintlik ‘n kinderagtige argument. Kom ons wees eerlik: dit is nie maklik om die minste te wees of askies te sê nie, veral nie as jy nie eers die een is wat gefouteer het nie. Iemand wat aan God behoort, reageer egter anders, al is dit hoé moeilik. Hy draai nie om en stap wipperig weg nie – hy stop en sê: “Ek is jammer.”


Jesus se woorde om “eers vrede te maak” is die uitstaande kenmerk van ‘n getroue dissipel wie se optrede positief is, iets wat iemand met integriteit doen – met integriteit jou trots sluk en ‘n hand van versoening uitsteek; met integriteit die minste te wees en te gaan “regmaak, dat jy liefde en trou sal bewys” al weet jy jy is reg en die ander party is verkeerd. Dit sluit die waarheid oop en die waarheid maak vry: “Kill them with kindness” met die sagte salf aan jou hande en sagte woorde op jou tong om seer en stukkende verhoudings weer heel te maak, “sodat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.”


Jesus se antwoord vir ons: “To serve our brother, to please him, to allow him his due and to let him live, is the way of the cross. Greater love hath no man than this: a man lay down his life for his friends. That is the love of the Crucified.” (Dietrich Bonhoeffer). Aanvaar Jesus se uitdaging om die struikelblok tussen jou medemens en jou, te verwyder, voor jy jou gawe na die altaar toe neem.


“’n Mens kan nie hande skud met ‘n gebalde vuis nie” (Indira Gandhi).


Gebed: Here, U sê vir my om na U te kom sodat ons die saak kan uitmaak: “Al was ek skarlakenrooi van sonde, sal ek wit word soos sneeu.” U is bereid om te vergewe! Maar Here, waarom is dit so moeilik om as mense in vrede met mekaar te lewe? Waarom is dit so moeilik om te sê ek is jammer as die woordewisseling eers begin het? Open my saamgeperste lippe dat die herstel van liefde en harmonie ál is wat saak maak. Help my om soos U die uitnodiging te plaas dat ons die saak wil uitmaak sodat dit in vrede eindig. Amen.


 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page