top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LAASTE OPDRAGTE (1) – AFGESONDER VIR CHRISTUS : DIE WARE EN ENIGSTE EVANGELIE!


Rom. 16:17-18 – “Ek druk julle dit op die hart, broers (en susters): Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af. Sulke mense dien nie Christus ons Here nie, maar hulle eie drifte en drange, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal mislei hulle die liggelowige mense.”


Vergelyk ook Gal. 1:6-7 – “Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem. Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring.”


Hierdie verse kom bietjie onverwags. Dit is asof Paulus telkens iets byvoeg soos dit hom byval. Hy het reeds afgesluit met die hoofdele van die brief en is besig met sy slotrede en groete, en dan asof uit die bloute, net nadat hy die gemeente gevra het om mekaar te “groet met ‘n soen van Christelike broederskap”, sien ons hier iets van Paulus die vegter. Hy klim behoorlik kaalvuis in, veral wanneer dit oor die suiwerheid en waarheid van die evangelie gaan. Hier is hy egter nog aan die opwarm, maar in sy brief aan die Galasiërs is hy witwarm, want dit gaan oor Jesus die gekruisigde, en Hy alleen is die Waarheid (Joh. 14:6).


Sy waarskuwing teen “dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak”, beteken nie noodwendig dat daar al dwaalleraars in Rome was nie. Maar dit was oral reeds ‘n dreigende gevaar, en daarom versoek hy die Christen-Romeine om op die uitkyk te wees vir mense wat die evangelie verdraai en “hulle eie drifte en drange dien, en met al hulle mooipraatjies en vleitaal, liggelowige mense verlei.” Hierdie mense dien nie “Christus ons Here nie” en is selfsugtige uitbuiters wat verdeeldheid veroorsaak en Christen-broederskap in gevaar stel.


Paulus was ‘n apostel van die Here. Hy het die evangelie by wyse van ‘n hemelse openbaring ontvang en nie by ander apostels in Jerusalem gaan leer of self uitgedink nie. Die woorde van Paulus in die Bybel, kom van God af want hy het dit eerstehands van Jesus Christus sélf ontvang: “Dit moet julle goed besef, broers (en susters), die evangelie wat ek verkondig, is nie deur ‘n mens uitgedink nie. Ek het dit ook nie van ‘n mens ontvang of by ‘n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in ‘n openbaring aan my gegee” (Gal. 1:11-12). Ons kan dus met groot vrymoedigheid Paulus se boodskap oor die evangelie aanvaar en ons lewe daarop bou!!


Dit is eintlik jammer dat daar selfs vandag, steeds soveel mense is wat nie ag slaan op Paulus se waarskuwing van twee duisend jaar gelede nie: “Pas op vir dié wat verdeeldheid veroorsaak en die mense afvallig maak van die leer wat julle ontvang het. Bly weg van hulle af.” Daar is die afgelope dekades selfs professore en sogenaamde leermeesters in die teologie, wat eerder na satan luister en afgedwaal het van die evangelie wat Paulus verkondig het. Satan het ook sy kader leraars wat hulleself voordoen as leermeesters van die waarheid. Hulle het egter nooit ‘n Goddelike roeping soos Paulus, tot die bediening gehad nie. Satan self is die bron wat verdeeldheid veroorsaak, deur Christus se maagdelike geboorte, Sy sondeloosheid, Sy versoenende sterwe asook oorwinnende opstanding en hemelvaart, te bevraagteken.


Almal is onderweg iewers heen en die eindbestemming is die dag wanneer ons sterf. Al die roetes waarop mense hulle begeef, is doodloopstrate, sommiges het selfs afdraandes wat jou lekker laat spoed optel en vinniger in die hel bring. Daar is egter één roete wat ‘n goeie eindbestemming het, en dit is die pad wat Jesus Christus kom bou het, die pad wat Hy self gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). Dít is die hoofpad van die lewe en ons gelowiges-in-Christus, het die wonderlikste Gids tot beskikking wat seker maak dat ons nie verdwaal nie. Die Heilige Gees bly elke tree van ons lewenspad by ons, en wanneer ons neerslaan of die spoor bietjie byster raak, tel Hy ons op, verbind persoonlik ons wonde en lei ons terug na die regte weg – glo dit, vertrou dit!


“Hulle wat die Fontein van lewende water verwerp, moet weet dat hulle diepste dors nêrens anders geles kan word nie” (Johan Heyns).


Gebed: Heilige Vader, leer my om te waak teen die misleiding van valse leraars wie die ware evangelie vermink, verdraai en aanloklik laat lyk sodat ek op die verkeerde pad my kan begewe. Ek dank U Here, vir gelowige teoloë en leraars wat steeds op die regte weg bly, die enigste weg van waarheid en lewe wat U kom bou het, mans en vroue wat waarlik deur U Gees aangeraak is vanweë hulle roeping om die Enigste Evangelie, Jesus Christus, te verkondig. Here, ek bid vir almal wat hulle begeef in die vals leringe wat gerig is teen die onfeilbare Woord van God en die onfeilbare Christus en wat die werk van die Heilige Gees ontken, tel hulle op, verbind hulle wonde en neem hulle terug na die regte weg. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page