E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE VOORBEELD VAN CHRISTUS (4) – FAMILIE AFKOMSTIG VAN DIESELFDE STAMBOOM!
Rom. 15:5-6 – “En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.”
Vergelyk ook Fil. 2:1-2 – “Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”
Paulus delf nou baie diep en noem God “die bron van alle standvastigheid en bemoediging.” God as “die bron van alle standvastigheid” beteken dat Hy aan ons gelowiges die krag gee om vol te hou, vol te hou en aan te hou in ons soeke na onderlinge eenheid in ons geloofslewe. Om die erns van Paulus se beroep te beklemtoon dat ons gelowiges eengesind moet wees, opper hy selfs ‘n gebedswens indirek na God toe, ook om appèl tot ons eengesindheid.
Paulus het reeds sy hart verskeie kere uitgestort oor eensgesindheid in die gemeente. Met God as “die bron van alle standvastigheid en bemoediging”, kan ons gelowiges nie anders as om ook vol te hou om mekaar te bemoedig om eensgesind te wees nie. Dit beteken natuurlik nie dat onderlinge verskille ineens soos mis voor die son gaan verdwyn nie, maar dit is moontlik om saamgebind te word, “een in liefde, een van hart, een in strewe” sodat “ons almal eensgesind uit een mond lof kan toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.”
Wat bedoel Paulus dan as hy so aanhoudend oor eengesindheid praat? Ons het reeds gesien dat hy nie daarmee bedoel dat almal dieselfde hoef te doen nie, want dit sal tot eensydigheid lei en eensydigheid is nie eensgesindheid nie. Ons hoef almal nie dieselfde te dink of saam te stem nie, byvoorbeeld wat ons eet of drink of watter dag die sabbat is nie. Eendersdenkend is nie eensgesindheid nie.
“God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat ons eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê.” God wil hê ons moet die lewe saam ervaar, ‘n gelowige gemeenskap wat soos broers en susters eensgesind saam woon (Ps. 133:1), “eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe.”
As ‘n eensgesinde ‘familie’ is ons “een in liefde”, ons is lief vir mekaar ten spyte van ons verskillende denke en menings. As ‘n eensgesinde ‘familie’ is ons “een van hart”. Ons gevoelens en emosies is in harmonie met mekaar, gevoelens wat versoenbaar is met mekaar, al is dit nie dieselfde gevoelens nie. En indien daar nie harmonie is nie, bespreek ons die verskille en bid vir mekaar “… sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sou wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar dra” (1 Kor. 12:25), en sodoende “kan ons almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.” As ‘n eensgesinde ‘familie’ is ons “een in strewe.” Ons denke kom in harmonie met mekaar. Ons gedagtes lê klem op wat ons in gemeen het, nie op ons verskille nie, “ons beywer ons vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder” (Rom. 14:19).
As ‘n eensgesinde ‘familie’ behoort buitestaanders te kan sien ons is afstammelinge van dieselfde Vader, ons is burgers van die hemel, onvolmaakte mense wat almal genade nodig het. Buitestaanders moet kan sien ons is afkomstig van dieselfde “God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging”, ons is familie afkomstig van dieselfde ‘stamboom’, wel nie soos in bloedfamilie nie, maar soos geestelike familie. Daar is verskille maar baie meer ooreenkomste, ons is “een in liefde, een van hart, een in strewe, ons kan almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus.”
“Unanimity is a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ” (Hawthorne).
Gebed: Here, dit is só maklik om eensgesindheid te beskryf, te praat en te dink. Maar wanneer dit by die toepassing daarvan kom, is dit nie altyd so maklik nie. Skenk my die standvastigheid en volharding om eenheid in die gemeente te beskerm, te doen wat vir die Liggaam goed is, en nie vir myself nie. Maak my deel van ‘n kerkfamilie waar die ‘ek’ verander in ‘ons’. “Laat my nie my eie voordeel soek nie, maar dié van ander” (1 Kor. 10:24). Amen.