E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE VOORBEELD VAN CHRISTUS (2) – HY WORD MENS SOOS ONS!
Rom. 15:3-4 – “Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. Dit was met Hom soos daar geskrywe staan: ‘Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.’ Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.”
Paulus wil maar nie los nie. Om die spyker dieper in die ‘sterker gelowiges’ se pligte in te slaan, opper hy ‘n vermaning wat elke gelowige totaal ontwapen: “Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie!” As Seun van God kon Hy rustig in die hemel gebly het en die ewige heerlikheid daar geniet het, maar Hy het nie! Van ewigheid af het Jesus heerlikheid gehad by die Vader (Joh. 17:5), maar in Sy optrede op aarde het Hy dit verberg gehou en alleen sigbaar laat word namate die Vader dit aan Hom toegestaan het. Hy het kom mens word juis omdat Hy nié aan Homself gedink het nie!
Johannes het “vir ons in die Skrif opgeteken” van Jesus se ‘opoffering’: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14). Met hierdie enkele eenvoudige sinnetjie word seker die allerdiepste geheimenis in die Godsopenbaring en die grootste en allerbelangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensheid, veral aan ons as Christene, meegedeel!! Jesus het as mens onder ons as mense kom woon! Wat ‘n belangrike voordeel vir ons want Hy het nou menslik toeganklik geword. Hy kan gesien en gehoor word en ons gaan Sy heerlikheid deur Sy aardse optrede sien. Daarmee is die kloof tussen God en mens oorbrug, Hy word “God met ons, Immanuel.” Ons het nou nie meer ‘n “manual” nodig nie, ons het Immanuel!
Die Woord pak die verste rit aan wat enigiemand nog ooit gedoen het, van die hemel tot op die aarde. Die Prins van die hemel kom word die Kind van die krip. Jesus kom word wat Hy nooit was nie maar bly wat Hy is – Hy kom word mens wat Hy nooit voorheen was nie, maar Hy bly nog steeds wat Hy van ewigheid af was, naamlik God. Dit is duidelik dat ons hier met ’n verborgenheid te doen het wat deur die denke van die mens nie verklaar kan word nie. Ons kan maar net kinderlik in die geloof buig en alleen maar God dank vir die weg wat Hy vir die sondaar geopen het sodat ons kinders van God kan word.
“Hy het na Sy eiendom toe gekom, en tog het Sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh. 1:11). Aan Israel is die belofte gegee dat die Messias sou kom. Hulle was Sy “eie mense” omdat Hy met Sy aardse lewe, uit die Jode gebore is. Maar juis die Jode het Hom verwerp – “hulle het Hom nie aangeneem nie”. Deur die koms van die Woord besoek God die wêreldsmensheid om aan hulle die verligting van kennis van saligheid te bring, maar hulle weier om die Woord te ontvang. Hulle besluit anders. Die mense se haat en vyandskap teen God het Jesus ook getref: “Die beledigings waarmee mense U beledig, het op My neergekom.”
Wat Jesus moontlik die diepste moes verwond het, was nie Sy eie liggaamlike wonde nie, maar die onredelike manier waarop mense die uitgestrekte liefdeshand van God nie aanvaar het nie, en weggestamp het. Deur die Woord is die wêreld gemaak, en nou het die Woord as die lig na die wêreld gekom: “Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie” (Joh. 1:10). Die wêreld bly afsydig. Net soos die duisternis nie die lig aanvaar het nie, het die wêreld die Lig ook nie “erken” nie. Die mense het nie net die Lig nie geken en gewaardeer vir wat Hy was nie, maar ook nie aanvaar of in Hom geglo nie.
As Jesus sy Vader se belange in só ‘n mate eerste gestel het dat Hy bereid was om selfs die “beledigings teen God op Homself te laat neerkom”, sal ons as ‘sterkes in geloof’ dan regtig nie bereid wees om ‘kantlynsake’ wat minder van belang is, op te offer ter wille van ons ‘swakker medegelowiges’ nie? Christus het só vir ons gedoen! Dit beteken natuurlik nie dat ons gelowiges uitgelewer is aan mekaar se nukke en grille nie, dit behoort “ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees.” Hierdie “standvastigheid” is nie mensgemaakte standpunte nie, dit het God as bron. God het ons “hoop” gegee deur alles in die Skrif te laat opteken, sodat ons ‘n toekomsverwagting het om met vreugde uit te sien na God se beter wêreld, ten spyte van verskille en onaangename “kantlynsake”.
“Ons is die lig vir die wêreld, maar niemand anders as God kan dit aanskakel nie”
(Austin Lewis).
Gebed: Dankie Heer dat U mens kom word het om my aan God te kom voorstel. Ek probeer dit verstaan en begryp maar my menslike verstand is net nie opgewasse daarvoor nie. U kom word “God met ons” en verdedig die sake van my sondeskuld. U deins nie terug vir opoffering nie. In U sien ek wat menswees waarlik is. Verander my só – maak van my ‘n mens soos U. Amen.