top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


LIEFDE IS DIE VOLLE UITVOERING VAN DIE WET (1) – ‘N LIEFDESREKENING KAN NOOIT AFBETAAL WORD NIE!


Rom. 13:8-10 – “Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie,’ of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.”


Paulus verander nou die opdrag wat ons aan die owerheid skuld, na wat ons Christene mekaar skuld – LIEFDE! Om ‘n advertensie vir die goeie boodskap van God se Woord te wil wees en ander mense daardeur aan te trek en God te wil verheerlik, kan ons Christene nie anders as om “niemand iets verskuldig te wees nie, behalwe om mekaar lief te hê.” Die liefdesrekening is skuld wat ons nóóit sal kan afbetaal nie, ‘n rekening wat ons elke oomblik aan afbetaal, maar nie afgehandel kry nie!


Ons skuldeisers is die wêreld vol, dit is elkeen wat my pad daagliks kruis, selfs daardie persoon wat my grensloos irriteer. Ek is in die skuld om mense lief te hê net soos hulle is, foute en swakhede en al. Met ‘n Christushart moet ek daarvoor ruimte maak, moet ek dat liefde my hart bestuur want God het my so lief gehad dat Hy sy Seun, Jesus Christus aan die kruis laat sterf het vir ons versoening! Ons moet ook begryp dat God se liefde vir ons nie eers daardie dag begin het toe Jesus gekruisig is nie, maar reeds vóór die grondlegging van die wêreld. Dit is dus logies dat ons mekaar moet liefhê!


As dit dan so logies is, hoekom lyk die wêreld soos hy lyk? Hoekom lééf ons nie liefde nie? God sê vir ons deur Paulus: “Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.” Daar is nie één gebod in die tweede tafel van die wet wat nie deur naasteliefde vervul word nie. Om “jou naaste lief te hê soos jouself”, is nie moeilik nie, want om jouself lief te hê het jy nie eers ‘n opdrag nodig nie, ons doen dit van nature. Die uitdaging is om my naaste lief te hê met dieselfde intensiteit en ywer waarmee ek myself van nature liefhet.


Naasteliefde het in die wêreld, ongelukkig ‘n slegte geskiedenis van ‘n liefdesboodskap wat in die kerk bely word, met oorgawe gebid en gesing word, maar in die lewe van elke dag word dit ‘n liefdelose praktyk wat uitgeleef word. Christenmans kan byvoorbeeld vra: “Hoe kan ek iemand liefhê wat my vrou of dogter verkrag het?” Swart Christene kan vra: “Hoe kan ek mense liefhê wat die apartheidsbewind ondersteun het?” Kinders kan vra: “Hoe kan ek misdadigers liefhê wat ons ouers koelbloedig vermoor het?” Soortgelyke voorbeelde is legio! Die Woord van God laat hom egter nie van stryk bring nie en die mens kán nie met God ‘n kompromie aangaan nie – die moeilike eis van naasteliefde blý staan!


Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as “model” vir ons liefde gebruik – soos God liefhet, só moet ons liefhê. Liefde is ‘n eienskap van God; Liefde is die wesenlike aspek van God se karakter en staan vir wie Hy is; God is die perfekte voorbeeld van liefde; GOD IS LIEFDE! Deur God se krag en deur die Heilige Gees gee God ook hierdie liefde aan elkeen wat Jesus aanneem as Sy Saligmaker en Verlosser: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh. 3:1). Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God.


Deur die eeue is daar al baie geskryf en gepraat oor liefde. Daar is vandag miljoene voorstellings en selfs wanvoorstellings van die liefde. Ek het gaan “Google” oor die woord “liefde” en ongeveer 39 miljoen resultate gekry binne 0,36 sekondes. God se liefde is egter meer as voorstellings of lippetaal of selfs googletaal, dit is volkome liefde, ‘n liefde wat meer is as ‘n mooi gesindheid en voornemings. Dit is liefde wat bereid is om jouself prys te gee tot voordeel van ander.


Sien ander dat ons leef soos Jesus van ons verwag? Is dit hoe ‘n gelukkige Christen met blydskap in sy hart optree? Wat sê mense as hulle van die erediens en van ons as gemeente wegstap: Is Jesus Christus se liefde daar? Wat sê hulle as hulle van ons Christene se huise af wegstap? Sien die wêreld Jesus se liefde wat by ons ingeënt is? Ons kan nie Jesus se blydskap sonder Hom hê nie: “Ek sê dit vir julle sodat My blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees” (Joh. 15:11). Dit is hierdie blydskap wat Jesus wil hê ons met ander moet deel, ‘n blydskap omdat ons wéét die lewende God het ons lief, die lewende Christus het ons lief en ons dit deur die lewende Gees, met ander kan deel, vir mekaar kan omgee, geënt in Jesusliefde! Sy opdrag is: “Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet” (Joh. 15:12).


“In ‘n gesonde kerk leer elke Christen om vir die ander om te gee. As ons Jesus se opdrag dat ons mekaar moet liefhê ernstig opneem, dra ons ‘n belangrike deel by tot ‘n wenspan”

(Charles Spurgeon).


Gebed: Hemelse Here, laat my die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U met toewyding dien. U verwag opregtheid diep in my hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek in liefde moet lewe. Laat my blydskap en vreugde belewe, skep vir my ‘n rein hart, vernuwe my gees. (Ps. 51). Maak my standvastig om U opdragte uit te voer. Laat my voorbeeldig lewe, want ek wil nie die evangelie en U Naam in gedrang bring nie. Help my asseblief Here Gees, ek kan dit nie op my eie doen nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page