E-Kerk : Gedagte vir Vandag
“Ek het ‘n ‘flaw’, wat is jou verskoning om nie te getuig of te dien nie?”
DIE NUWE LEWE IN CHRISTUS (9) – JOU ‘FLAW’, GOD SE MOONTLIKHEID!
Rom. 12:6-8 – “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe is om God se boodskap te verkondig, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely. As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee. As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.”
Vergelyk ook Rom. 16:22 – “Ek, Tertius, wat die brief neergeskryf het, stuur ... ”
Ons sit hier op die randsteen van ‘n sypaadjie in Rome en eet middagete (dit kos ekstra om by ‘n tafel van die restaurant waar ons die kos gekoop het, aan te sit en eet). Dit is volgens oorlewering die Jodekwartier van Rome waar tussen 40 000 en 60 000 Jode in Paulus se tyd gewoon het. Dit is dan ook aan die Christene tussen hulle, wie Paulus hierdie brief gerig het. Nie baie ver hiervandaan, is die Kolosseum en ek wonder hoeveel Christen-martelare is daar as gevolg van hulle geloof in Jesus Christus, deur wilde diere verskeur. Dit is ook hier waar Paulus destyds, met as skoene aan sy voete, die bereidheid van die evangelie van vrede, gestap het (Ef. 6:15). Ten spyte daarvan dat hy toe ‘n gevangene was, was hy bereid om hier die vaandel van Jesus Christus te plant, die evangelie van vrede met ‘n nuwe lewe.
Paulus het ’n reuse nalatenskap vir ons in die vorm van dertien briewe in die Nuwe Testament gelaat, feitlik die helfte van die inhoud van die N.T. Dié werk was selfs van groter belang as die drie groot sendingreise wat hy onderneem het. Dertien van die Nuwe Testament se sewe en twintig boeke is deur Paulus geskryf! Dit het ’n onberekenbare groot invloed gehad in die lewe, nie net van die groeiende kerk van sy tyd nie, maar regdeur die eeue tot vandag toe nog in die breë Christelike kerk. Ek weet nie of julle geweet het nie, maar Paulus het ’n sekretaris gehad wat sy briewe namens hom geskryf het. Sy handskrif was dalk nie so vars nie.
Ten spyte van sy handskrif, kan ons die waarde van sy briewe moeilik oorskat. Hy het darem sy briewe in sy eie handskrif geëindig: “Nou skryf ek met my eie hand. Groete, Paulus. So teken ek elke brief. Dit is my eie handskrif” (2 Tess. 3:17). Ek sien die prentjie van Paulus wat agter die boekrol inskuif, die inkveerpen stewig vashou en seker sy tong so halfpad by sy mond uitdruk en dit vasbyt, terwyl hy die brief afsluit. Daardie hande wat eers die growwe diervelle moes bewerk terwyl hy ‘n tentmaker was, en na sy bekering, tydens sy reise ‘n menigte ontberinge moes deurstaan, om die evangelie te verkondig. Hy was nie so gemaklik met ’n klein inkveerpen nie. Sy vingers eenvoudig te dik, te dom om die fyn draaitjies en krulletjies te maak.
Dit was eintlik ’n tekortkoming, ’n ‘flaw’ in Paulus se lewe. Dis hoe hy deur die lewe gekom het. Rof en grof, en skryf was nooit eintlik op die kaarte nie. As Fariseër en student van rabbi Gamaliël het hy seker sertifikate van verdienste verwerf terwyl hy nog Saulus was. Ondervinding het hy opgedoen deur diep spore as vervolger van gelowiges te trap en gereelde toeskouer was terwyl hulle gestenig of gegésel word. Maar ... hy het seker al sy skrif- eksamens met vlieënde vaandels gedop.
Eintlik was dit nie in die eerste gedeelte van sy lewe ’n probleem nie, want sy invloed by die hoëpriester en sy pogings om die kerk uit te roei (Hand. 8:3), is nie geken deur sy handskrif nie. Maar toe verander sy lewe. Hy ontmoet die lewende God op pad na Damaskus en sy hele lewe verander! Hy word ‘nuut’, selfs sy naam verander na Paulus en hy word geroep om die Evangelie uit te dra na ’n wêreld waar Jesus se lig nog nie skyn nie.
Sy handskrif het egter dieselfde gebly, en deel van sy roeping was om briewe te skryf, sodat ons vandag nog die boodskap duidelik kan hoor. Wat nou? Paulus kon seker sê: “Ai Here, ek is so opgewonde om U boodskap te gaan oordra. My voete jeuk en ek wil graag gaan. Ek is nie bang vir die vreemde nie. Daar is net een dingetjie wat pla, dis die briefskrywery. U ken mos die gekrap ..., wil U nie maar iemand anders stuur nie?”
Nee, Paulus maak ’n plan met sy ‘flaw’, hy stel vir hom ’n sekretaris aan. En dit het heel waarskynlik nie so maklik gegaan met die dikteerdery nie. Dalk was hy gefrustreerd oor die mannetjie wat nie vinnig genoeg kon skryf nie, of dalk sommer sy eie woorde ook daar wil vaspen. Maar maak nie saak nie, Paulus het sy ‘flaw’ oorkóm. En vandag kan ek en jy en miljoene ander Christene soveel leer uit sy geskrifte.
Hoeveel keer het baie van ons nie al in ons lewe gesê: “Jammer, daai is nie my roeping nie, ek kan nie, dis eintlik ‘n ‘flaw’ wat ek het.” Dis ’n flou verskoning vir jou én vir my. Ons moet weet dat die Heilige Gees ons sal help om daaroor te kom. Ons moet net bereid wees om nie ’n verskoning uit te dink nie. Ons moet bereid wees om ook te midde van ons oënskynlike foute en tekortkominge steeds doen waarvoor God ons geroep het. God is baie goed daarin om juis ons tekortkominge te gebruik om ’n verskil in ander mense se lewens te maak, want ons besit die Gees van die Waarheid. Maak net jou hart en denke oop vir Sy genadige invloed en wysheid. Hy sal aan jou krag en geestelike insig gee sodat jy jou roeping as verteenwoordiger van Christus kan vervul.
“God het Sy kerk spesifiek ontwerp vir jou en my om ons vyf grootste behoeftes te bevredig: ‘n Doel waarvoor jy kan leef; mense met wie jy kan leef; beginsels waarvolgens jy kan leef; ‘n beroep om uit te leef en krag om van te leef” (Rick Warren).
Gebed: Vader, ek dank U dat U almagtig is. Ek dank U dat U reeds ’n plan het vir al my tekortkominge. Help my om nie net ‘n kerkganger te wees wat ervaring soek nie, maar ‘n lidmaat te wees van die kerk wat vir God soek. Ek wil nie as kerkganger ‘n verbruiker wees nie, maar as lidmaat, met al my ‘flaws’, betrokke wees. Amen.