top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Nov 6, 2018
  • 4 min read

Ingang na die geboortekerk van Christus in Betlehem

DIE VERLOSSING IS VIR ELKEEN WAT GLO (2) – GOD IS NADER AAN ONS AS WAT ONS DINK!


Rom. 10:8-13 – “Nee, die Skrif sê: ‘Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.’ En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. Die Skrif sê tog: ‘Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.’ ‘Niemand nie!’ Dit maak dus geen verskil of ‘n mens ‘n Jood of ‘n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”


Vergelyk ook Joël 2:29 en 32 – “In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”


Paulus het vir ons gister verduidelik hoe naby ons is aan die skat van die evangelie. Ons kan weens ons sonde nie aan God se slaagsyfer van 100% voldoen nie maar Christus het, Hy het die wil van Sy Vader volmaak gehoorsaam en daarom ís Christus die Evangelie! Deur in Hom te glo, word Sy prestasies op ons rapport geskryf. So en só alleen slaag ons by God en indien ons daaraan gelowig vashou, sal ons nie teleurgestel word wanneer die uitslae eendag bekend gemaak word nie.


Aangesien “Christus tog die einde van die wet is” (v. 4), hoef ons nie God se vryspraak ver te gaan soek nie. Ons hoef nie op te klim hemel toe nie want Jesus het op Kersdag na ons toe gekom. Dit is ook onnodig om Hom êrens in die onderaardse dieptes te gaan soek of selfs die grens na die dood oor te steek, Hy het op Paassondag uit die dood opgestaan. Jesus leef en Hy kan ons deur Sy Gees, van God se vryspraak, God se woorde wat in die Bybel opgeteken is, verseker – “en hierdie woord is die boodskap van die geloof” wat so naby aan jou is as wat God se Woord aan jou is. Deur God se genade hoef ons dus nie te swoeg en sweet om die vryspraak te verkry nie, nee, inspanning is onnodig want die skat is so naby aan jou as jou mond en jou hart, dit kan maklik geglo en bely word.


Hierdie woord van God word ‘n stem in ons lewe, in ons hart en in ons mond, “want waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor”: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” Wanneer ons stil raak en begin luister na God, en Sy Woord soos ‘n saadkorrel in die ‘grond’ van ons harte druk, spruit die lewe wat God gee, in ons uit. Dit is waarom die Bybel so 'n belangrike plek in ons geloofslewe inneem. Daar is niks belangriker as dit nie. Dit beteken nie om die Bybel te aanbid nie, maar om in die Bybel die lewende woorde van die lewende God te hoor, daarop te reageer en dit wat God vir ons sê, te gaan dóén.


Ons kan ongelukkig nie God op ons eie manier volg nie, ons kan nie ‘n verbond met óns voorwaardes daarin vervat, met God sluit nie. Die enigste Weg om gered te word, is slegs deur geloof in die soenverdienste van die gekruisigde Jesus – “Aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh. 1:12). Die deur na die koninkryk van God is so laag soos die ingang na die geboortekerk van Jesus in Betlehem: Jy moet eers in nederigheid laag buk, selfs op jou knieë gaan, om te kan ingaan.


Natuurlik is daar baie dinge waarin mense van mekaar mag verskil, maar ten opsigte van die redding bestaan daar geen onderskeid nie – “dieselfde Here is Here van almal” – elkeen wat Hom aanroep sal vind Hy is ryk aan genade en daarom is die weg na redding, ‘n eenvoudige weg vir elkeen wat dit wil betree. ‘n Onwrikbare geloof in Christus is absoluut noodsaaklik want daarsonder kan daar by ons geen oortuiging van die realiteit van God wees nie. Ons Almagtige God is groter as enigeen van ons se gedagtes of verstand, “niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”


Om God lief te hê en daardie liefde te openbaar, is alleenlik moontlik wanneer ons die Heilige Gees deur geloof in ons harte laat woon. Neem hierdie Gees as genadegawe in die geloof aan en “laat jou gees saam met die Gees getuig dat jy kind van God is” (Rom. 8:16). Jesus Christus het nie na hierdie wêreld gekom om deur Sy lyding en dood, “goeie” mense te red nie, “maar sondaars” (Matt. 9:13b), soos ek en jy.


“Die menslike denke is swak en kan bedrieg word; maar ware geloof in Jesus Christus kan nie bedrieg word nie” (Thomas Kempis).


Gebed: Here, as dit nie vir U leiding was nie, sou ek al lankal ‘n groot gemors gemaak het van alles wat ek aanpak. Ek gee opnuut weer my hart, my mond, my alles vir U om te gebruik na U goeddunke. Verwyder asseblief alles uit my hart wat U nie daar wil sien nie en verander die koudheid daarin om uit te roep na U warm liefde. Dankie dat ek die reis met U woord kon begin, die reis waarin U teenwoordig is, waar U só naby aan my gekom het dat ek dit met my hart en mond, U lof kan verkondig. Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page