top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


DIE OORDEEL EN GENADE VAN GOD (1) – GOD SE VRYMAG!


Rom. 9:19-21 – “Nou sal jy vir my sê: ‘Maar waarom verwyt Hy ons dan nog? Wie kan tog teen sy wil ingaan?’ Mens, wie is jy per slot van rekening dat jy met God wil redeneer? Hoe kan die maaksel vir sy maker sê: ‘Waarom het jy my so gemaak?’ Het die pottebakker nie die reg om uit dieselfde klomp klei iets besonders én iets alledaags te maak nie?


Paulus gaan vervolgens voort en sluit aan met ‘n vraag by sy uitspraak “dat God verhard wie Hy wil” (v. 18). Daar sou gevra kon word of God die reg het om mense hulle verharding kan verwyt as hulle verharding deur Hom gewil is? Is dit dan nie onbillik om mense verantwoordelik te hou vir hulle verharding en hulle daaroor te straf, as God hulle verhard het nie? Met respek, hoe kan God met óns foutvind of die fout voor ons deur kom lé terwyl ons eintlik maar net maak soos Hy vir ons sê?


Dit is hoe meeste mense is, én redeneer: ons weet altyd beter. Ons wil oor alles debatteer en in ons verwaandheid, selfs vir God probeer voorskryf oor hoe Hy dinge behoort te hanteer. Mense waag dit selfs om hulle bo God te stel, asof God die voorskrifte van Sy skepsel moet gehoorsaam. Só ‘n god is nie God nie – ons God is die Een wat ons in Sy misterie nie kan peil nie en wie se optrede nie verklaar kan word nie. Die eintlike saak hier gaan nie oor God se onreg teenoor die mens nie, maar die mens se onreg teenoor God. As God werklik, volgens ons menslike standaarde, regverdig moes optree, was ons almal verlore en niemand gered nie!


God is soos ’n pottebakker wat oor mag beskik met die voorwerpe wat Hy maak, en Hy het soos die “pottebakker die reg om van sommige iets besonders en van andere iets alledaags te maak.” In hierdie geval is God die Pottebakker en ons sondige mense, die klei – ons kan dus nie agterstevoor wil wees en as die klei, vir die Pottebakker wil voorskryf nie. God kan daarom niemand verhard wat nie reeds hom/haarself verhard het nie.


God skuld die sondige mens niks en het reg om oor sondige mense te beskik soos Hy wil, om hulle in vryheid te begenadig of nie. Waar die een mens ’n toonbeeld van God se barmhartigheid (iets besonders) gemaak word, terwyl die ander (ten volle verdiend) die voorwerp van sy toorn is. Terloops, God maak nie voorwerpe van toorn nie, die mens maak self sodanige voorwerpe. By God is alle mense dieselfde, almal is sondaars wat geen reg of aanspraak voor God het nie, almal is “uit dieselfde klomp klei”, vol krake en barste. As God sommige van hulle laat in die situasie van skuld en oneer vanweë hulle eie sonde, pleeg Hy geen onreg as Hy hulle “oor hulle sonde verwyt nie.” As Hy aan ander daarenteen sy barmhartigheid bewys, toon dit God se grondelose barmhartigheid en genade.


“Genade is nie iets waarvan sommige méér kry en ander minder nie, soos ‘n mens merietetoekennings bereken, nie. Dit is dat God self, ten spyte van onsself, goedgesind bly – dís ongelooflik, onberekenbaar, onbegryplik” (Thomas Kempis).


Gebed: Here, dit is tipies van die mens dat ons baie keer U werk bevraagteken, dat die pottebakkersklei vir die Pottebakker wil voorskryf. Dan besef ek opnuut dat ek as klein mensie, nie met U die Almagtige kan debatteer nie. Soos ‘n Job van ouds kan ek maar net sê: “Ek is nie opgewasse teen U nie, ek sal liewer stilbly” (Job 39:35). Dankie Here dat U vrymag het om met my te handel soos U wil, met my beperkte menslike insig vertrou ek op U dat my ompad, U op pad is. Al verander U soms my rigting, kan ek steeds vashou aan die versekering dat die eindbestemming my by U gaan uitbring. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page