top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Sep 27, 2018
  • 3 min read

DIE HEERLIKHEID WAT KOM (8) – DEEL VAN GOD SE HUISGESIN (2)!


Rom. 8:30 – “Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En die wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.”


Vergelyk ook Fil. 1:20b-21 – “Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”


Paulus gaan voort met die verskillende elemente wat God se genadewerk, in ons lewe volg. Noudat ons deur die woord van die waarheid tot lewe gebring is, is “ons weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet. 1:23). Ons is nou geestelik lewend gemaak en ons stel daarom ons geloofsvertroue in Christus en word deur God “vrygespreek” of “geregverdig.”


God het ons opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun gestraf en Christus het gesterf daarvoor – maar in die proses bewerkstellig Hy vryspraak vir ons, sodat ons onskuldig voor God staan: “Hy het Jesus gegee as offer wat deur Sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. God se vryspraak behels dat Hy regverdig oordeel deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo” (Rom. 3:25-26).


Jesus se passiewe gehoorsaamheid red ons sondaars dus van die ewige verdoemenis; en Sy aktiewe gehoorsaamheid verwerf vir ons die ewige saligheid. Uiteindelik word ons dan deur God “verheerlik”. Dit verwys na die opstanding uit die dood, wanneer ons verlossing in Christus tot volmaakte afronding sal kom. Hoewel dit nog nie plaasgevind het nie, is dit in God se ewige raadsplan vasgelê en daarom verseker sal gebeur. Só seker sal dit gebeur, dat dit so goed as reeds gebeur het.


Paulus wil vir diegene wat deur geloof vrygespreek is, verseker van hulle uiteindelike redding. Al is daar steeds nog baie worsteling met sonde en lyding, moet ons weet dat die Almagtige en Ewig-Soewereine God self onfeilbaar besig is om ons verlossing, in ons uit te werk. Paulus maak dit duidelik dat hierdie vyf elemente van verlossing wat hy noem in verse 28 tot 30, soos die skakels van ‘n onbreekbare ketting is. As God Drie-enig ‘n mens verlos, is dit iets wat Hý alléén, soewerein begin, en deurvoer. Daar is wel elemente in ons verlossing waarby ons betrokke is, maar hierdie vyf handelinge van God vorm die raamwerk waarbinne al die res plaasvind.


As ons die verlossing ontvang, ontvang ons alles, sonder uitsondering. Met ‘alles’ word al die elemente van die ‘heilsorde’ bedoel: uitverkiesing, roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, volharding en heerlikmaking – ‘It is a package deal – if you have it at all, you have it all’! God se genadewerk in ons lewe kan dus nie deur swaarkry verhinder word nie. God sou nie swaarkry in jou lewe toegelaat het as dit nie ‘n positiewe bydrae tot Sy genadewerk kon lewer nie.


Sodra ons God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir onsself toe-eien, bring dit ‘n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie. Ons weet dan dat die voortgang en ontwikkeling van ons lewe veilig verpak is in God se ewige en onfrustreerbare raadsplan. Hierdie vertroostende waarheid maak ons vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag – in dankbare vrede en liefdesvertroue volgens Sy wil.


Leser, het jy die Here waarlik lief? Bevestig jou lewe as Christen, van daaglikse, verantwoordelike gehoorsaamheid dit? Weet dan, dis omdat God se Gees in jou werk “om as verloste mens te lewe, want dit is God wat ons gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer” (Fil. 2:12-13). En Hy doen dit, omdat Hy jou van ewigheid af liefhet en sal toesien dat jy in gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun, tot in ewigheid deel sal wees van Sy huisgesin! Al lyk dit partykeer vir jou so, God is nie passief en onbetrokke by jou lewe nie. God is vir jou!


“Die ganse hemel wag om dié mense te help wat die wil van God ontdek en dit doen”

(Robert Ashcroft).


Gebed: Hemel Vader, daar kom tye op my pelgrimspad van die lewe, wanneer ek oorweldig word deur die gedagte aan die verantwoordelikheid van Christen-wees. In daardie oomblikke voel ek heeltemal onbekwaam vir die pligte wat Christenskap op my lê. Daarom kom stel ek my lewe opnuut oop vir die invloed van U Gees. Maak my sensitief vir die influisterende stem van Hom sodat ek sal hoor wanneer Hy U wil aan my bekend maak, vir my die regte koers aandui en my bekwaam maak om U wil uit te voer. Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page