E-Kerk : Gedagte vir Vandag
- Koos Espach
- Sep 10, 2018
- 4 min read

LEWE DEUR DIE GEES (3) – VLEESBEHEERSDE MENSE!
Rom. 8:5-8 – “Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.”
Vergelyk ook Gal. 5:19-21 – “Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”
Paulus gaan nou voort en teken vir ons die kontras tussen vlees-beheersde mense en gees-beheersde mense. Ons formuleer eerstens vlees-beheersde mense. ‘n Bestaan wat vleeslik is, is ‘n bestaan van “dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers.” Dit is die natuurlike toestand van elke mens. Ons gelowiges moet nie onder die illusie verkeer dat ons stryd teen die sonde ooit sal ophou nie. Ons raak nie van die vlees ontslae nie: “Ons is aards en aan die sonde verkoop” (Rom. 7:14).
Selfs die mees volwasse Christen is nog voortdurend bewus van die greep van die ou “sondige natuur.” Ons bly steeds, in die woorde van Martin Luther, geregverdigde en sondaar tegelyk. Die kernoorsaak van hierdie stryd lê by onsself. “Ek wil hê; ek wil sus of so maak; ek begeer; ek verdien om te besit. Die wêreld skuld my en as ek nie kan kry nie, vat ek net doodeenvoudig. Ek ... ek ... ek, alles ek.” Die probleem egter van hierdie ekkigheid, is dat mens later net soos die wêreld word, lyk en praat – ‘n wêreld wat mens só insuig en verswelg met “dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou.” Dit veroorsaak dat jy later sonder God begin leef. Die wêreldvreugdes sluk jou onbewustelik in sodat jy jouself nie meer kan erken nie. Met ons vlees-beheersde menslike swakheid van begeertes en selfsugtige belange, staan ons skuldig voor God met veelvuldige sondes!
“Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.” Wanneer ons ons liefde aan die wêreld verkoop, pleeg ons owerspel en verloën ons God se liefde, ons ou-natuur grens aan Christuslose godsdiens en dít maak vleesbeheersde mense blind! Dit is ‘n godsdiens sonder die wedergeboorte, sonder die ware lewe in Christus; ‘n godsdiens sonder die lewende water wat nie ‘n opborrelende uitwerking op jou het nie; ‘n godsdiens wat nie uit genade gelewe word nie; ‘n godsdiens wat verstrik raak in mensgemaakte wette, ou gebruike en “dergelike dinge,” wat ‘n legio verkeerdhede insluit – en dis dodelik! “Dergelike” godsdiens kan jou laat dink dat jy vir God 'n guns doen deur met vliegtuie in geboue in te ploeg. “Dergelike” godsdiens was in die geskiedenis en is tot vandag verantwoordelik vir baie ellende in die wêreld – ook vir die vervolging en marteling van baie Christene. Dit was “dergelike” godsdiens wat tot Jesus se kruisiging gelei het.
Ons kan nie God én die wêreld dien nie. God deel nie Sy skepping (ons) met die duiwel nie, daarom eis Hy onverdeelde trou (Eks. 20:5). Jesus waarsku ook dat ons nie God en Mammon kan dien nie (Matt. 6:24b). Om ons begeertes te vermeng met die wêreld beteken dat ons in ‘n gevaarsone beland waar ons beheers word om “ ‘n vriend van die wêreld te wil wees” (Jak. 4:4b), wat buite die konteks van God en Sy wil is. Iemand wat hom deur sy eie begeertes laat lei en hom skuldig maak aan “al dergelike dinge”, bewys daarmee dat hy uit die verhouding met die Here wil wees, en eerder in ’n vriendskap met die wêreld wil gaan. “Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God.”
Ons mag nooit op twee gedagtes hink of ons die Here wil dien of dalk nie wil dien nie. Ons moet Hom voluit dien. Ons behoort aan Hom, alles in die hemel en op aarde behoort aan God. Hy het ons formeer uit die stof van die aarde en die lewensasem in ons neuse geblaas (Gen. 2:7). Ons moet weer vir Christus terugplaas in Christen! Kontrasterend daarmee is die ou-natuur mense, die “vleesbeheersde” mense, se optrede: “die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood.”
“Daar is net twee soorte mense: Dié wat vir God sê: ‘Laat U wil geskied’, en dié wat dit nie wil doen nie en vir wie God dan uiteindelik sê: ‘Laat jou wil geskied’ " (CS Lewis).
Gebed: Here, ek is hartseer omdat ek as vleesbeheersde, maklik uit pas raak en toelaat dat wêreldsdinge, die toekoms by U op die spel plaas. Ek weet dat dit slegs tydelike genot verskaf en beslis nie deel is van U wil en vreugdes nie. Dit loop dood in ‘n konfrontasie met die Ewige want ek hou vas aan my eie swakheid, die vlees. Ek is jammer Heer, vergewe my asseblief, my verhouding met U het skipbreuk gely. Ek wil graag terugkeer na U toe. Vul my met U Goddelike Krag om die sondige praktyke dood te maak. Amen.
コメント