E-Kerk : Gedagte vir Vandag

LEWE DEUR DIE GEES (2) – DIE CHRISTEN AS VRYGEMAAKTE MENS!
Rom. 8:1-4 – “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het die sonde binne die sondige bestaan van die mens veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur as ‘n offer vir die sonde. Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”
Vergelyk ook 2 Kor. 3:17b – “En waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.”
Ons gelowiges is vrygemaak want die Heilige Gees bewerk weergeboorte, lei ons in ons poging om te verstaan hoe God wil hê ons ons lewe moet inrig en met daardie inligting tot ons beskikking, dit tot praktyk te bring in ons lewe. Ons is nie net vrygemaak van die straf van die sonde nie: die ewige dood, ons is ook vrygemaak van die mag van die sonde. “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” want ons is vrygemaak om die wet uit te kan leef.
Baie mense leef hulle lewe lank in vrees vir die oordeel van God. Hulle raak neerslagtig want hulle is daarvan oortuig dat God die hele tyd sit en wag dat hulle ‘n misstap begaan, sodat Hy hulle kan straf. So ‘n beeld van God maak van godsdiens ‘n las en skep ‘n vernietigende gesindheid teenoor die lewe, omdat jy nie waardering kan vind vir dit wat God geskep het nie. Dit voel asof jou lewe een sieldodende roetine is. Wanneer iets opwindends in jou lewe gebeur, dan onderdruk jy dit want jy is bang vir God wat al hierdie pragtige dinge geskep het.
Dit is ‘n opperste tragedie wanneer jy op hierdie manier deur die lewe reis, ‘n toenemende alledaagsheid oorval jou en niks kan jou aktiveer tot iets kreatiefs of positiefs nie – en dit terwyl die vryheid wat die Heilige Gees skenk, joune kan wees. Wanneer die Gees van God in jou lewe inkom en jy Hom toelaat om beheer oor te neem, kan jy radikale veranderinge verwag. Wanneer die Gees van God jou begelei, word jou “lewe nie meer deur jou sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees.” In hierdie konteks veroordeel Christus ons nie meer nie, maar Hy eis onverdeelde getrouheid.
Ons het nou ‘n doel in die lewe, ons is bevry van die dodelike vrees van God se destruktiewe oordeel, ons is nou “in Christus Jesus” en Jesus het self gesê: “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan” (Joh. 5:24). Jesus het met groot nadruk ’n sentrale waarheid uitgespreek ten opsigte van die redding van die mens, wat weens die sonde eintlik dood is onder die oordeel van God.
Die weg tot redding is egter moontlik deur die eenheid van Vader en Seun. Vir die redding stel Jesus twee vereistes wat wesenlik op dieselfde neerkom. Die eerste is om te “luister na wat Ek sê”. Die gelowige aanvaarding van die blye boodskap van verlossing wat Jesus kom verkondig het, is die eerste tree op die pad na die ewige lewe. Maar daar is ook ’n tweede, en dit is om “in Hom te glo wat My gestuur het.”
Wanneer ons “luister na wat Jesus Christus sê en in God glo wat Hom gestuur het”, betree ons ‘n nuwe verhouding met God – die Regter word ons Vader, die toekoms word die hede, die onbekende word intimiteit met God en vrees verander in liefde. Wanneer ons onsself in geloof aan Jesus Christus oorgegee het, gaan ons uit die dood oor tot die lewe. Ons leef nie meer ter wille van ons eie selfsugtige belange nie. Die tydverdrywe en dinge wat ons vroeër gekoester het, het nie meer dieselfde aantrekkingskrag nie. Die doelstellings wat ons so naarstigtelik nagejaag het, lyk skielik nie meer so belangrik nie. “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees.”
Watter wonderlike belofte en versekering dat óns, as ons “na die woorde van Jesus luister en in Sy Vader glo,” nie meer geestelik dood is nie en nóú reeds seker mag wees dat ons rééds uit die dood na die ewige lewe oorgegaan het! “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood.”
“Ware geloof is harde werk en dit kos jou duur. Dis dóén in plaas van net sê ...! Ware geloof is nie om hemelpastei te eet nie; dit is om kruis te dra. Dis jouself prysgee, soos Christus gedoen het” (Ferdinand Deist).
Gebed: Dankie Here vir U genade. Voordat ek oorgegaan het na “die lewe” en U eerste begin stel het, was ek die belangrikste persoon in my beperkte klein wêreldjie. Dankie dat U my vrygemaak het van die straf én van die mag van die sonde. Voorheen het ek U probeer oorreed om alles te doen wat ek wil hê en sóós ek dit wil hê, maar nou vind ek vreugde en betekenis deur te doen wat Ú van my verlang. Dankie dat U my bevry het van die aftakelende vrees, dat ek vry kan wees om die wet uit te leef, om U te kan dien en dáárin sin en betekenis in hierdie lewe kan vind. Amen.