top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


ADAM EN CHRISTUS (2) – OORVLOEDIGE GENADE!


Rom. 5:12-14 – “Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het. Die sonde was al in die wêreld nog voordat die wet van Moses gegee is, maar sonde word nie toegereken as daar nie ‘n wet is nie. Nietemin het die dood heerskappy gevoer van Adam af tot by Moses, ook oor mense wat nie gesondig het op dieselfde manier as dié waarop Adam oortree het nie.”


Vergelyk ook Joh. 1:15-18 – “Johannes getuig van Hom en roep uit: ‘Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: Hy wat ná my kom, is my vóór, want Hy was voor my reeds daar.’ Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”


Die evangelis Johannes neem ons ook terug na die getuienis van Johannes die Doper. In alles het die Doper homself onderwerp aan Jesus. Hy het erken dat elke gelowige in totale afhanklikheid lewe op Jesus en daardie afhanklikheid word in een woord opgesom – genade, en Jesus is die volkome bron van volheid van die genade.


Daar is ’n oorvloed (volheid) by die Woord wat mens geword het. Alles wat God in Sy ontferming aan die mens wil meedeel, is in oorvloed aanwesig in die vleesgeworde Woord. Daarin deel “ons almal”, dit wil sê almal wat tot geloof gekom en die bevoegdheid ontvang het om kinders van God te word (Joh. 1:12). Uit die volheid ontvang ons “genade op genade”. Dit word dus ’n onophoudelike stroom van genade uit die volheid van die Woord.


Die wet van Moses staan teenoor die genade en waarheid in Christus – die ou bedeling het plek gemaak vir die nuwe, en Moses teenoor Jesus. Deur Moses het God die wet aan sy volk gegee. Dit was 'n wonderlike onthulling wat God se wil vir die mens is, en ook wat God se goedertierenheid teenoor die mens is. Moses was maar net die bemiddelaar deur wie God sy wet gegee het. Daardie wet was wel die openbaring van die waarheid, maar nie van die genade nie.


Daarteenoor staan Christus, wel ook as Middelaar gegee, maar meer nog as dié Een wat persoonlik gekom het en self die volheid van “die genade en die waarheid” is. Hierdie “waarheid” is meer as die ware kennis; dit is ook die vasstaande, onomstootlike werklikheid van die liefde en trou van God. Juis dit is die kenmerk van die nuwe bedeling – dit is ’n tyd van genade. En nou word die naam van die Woord voluit genoem: Hy is Jesus Christus, “die genade en die waarheid”. “In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel ons in sy volheid” (Kol. 2:9).


Die vraag waarmee Paulus ons eintlik konfronteer is of ons nog deel is van Adam se familie of is ons ten volle deel van Christus se familie? Daar hang ’n doodsreuk oor die Adamfamilie. As jy nog aan hierdie familie behoort, is jy ’n terdoodveroordeelde. Jy is ’n lyk wat ’n doodsreuk saam met jou sleep in alles wat jy doen en sê. Is dit nie hoekom van ons huwelike, familie verhoudings en baie ander verhoudinge halfdood is nie? Jy kan nie waarlik leef nie, want die sonde maak jou dood vir alles en almal!


Die alternatief is natuurlik om deel te wees van die Christusfamilie. Oor hierdie familie hang daar nie ’n doodsreuk nie, oor hulle sweef die vars, veranderende reuk van God se goedheid en genade. Hierdie genade is veel groter en méér as die sonde – dit verander in die weelde van “genade op genade, oorvloedige genade” – genade wat al ons sondes volkome toemaak en ons skatryk laat, ‘n ware genade biljoenêr. “Uit Sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.”


“In Jesus sien ons alles wat ons van God kan weet; in Hom het ons ook alles wat ons ooit van God kan nodig hê” (Athanasius)


Gebed: Dankie Vader dat U genade en waarheid vir my die Evangelie kom oopsluit het. Op U kan ek vertrou want U skenk my insig in die kern van die Evangelie – om te kan glo in Jesus Christus en “uit U oorvloed, genade op genade ontvang.” “Genade onbeskryflik groot het U aan my bewys: Verlore mens – ‘n wegloopkind – weer in die vaderhuis” (Liedboek 510). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page