E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE SONDE EN DIE STRAF (2) – KIND VAN DIE LIG!
Rom. 1: 20-23 – “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.”
Vergelyk ook Joh. 8:12 – “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
‘n Mens kan van die skepping van die wêreld af bepaalde dinge aangaande God aflei, naamlik dat “Sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is.” Dat God bestaan en dat Hy die Skepper en Onderhouer is wat álle dinge dra deur Sy krag, is dinge wat in die natuur met die oog gesien kan word, dit spreek tog so duidelik uit die werke van God. Die reaksie van die sondige mense is egter steeds dat hulle, hoewel hulle van God weet, Hom nie as God eer en dank nie.
“Om God te vereer en te dank,” is die wese van die ware verhouding met Hom. Die mens hou homself egter besig om homelf die middelpunt van sy bestaan te maak en raak verstrik aan die leuen. Alles draai rondom hom en hy het selfs so ver gegaan om “in die plek van die heerlikheid van die onverganklike God, beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange,” geskep het – die mens-godjie op sy eie troontjie! Maar “die Here ken die gedagtes van die mens en weet dit beteken niks” (Ps. 94:11).
Dit is die oer-domheid van die mens dat hy vanuit sy hart, sy lewenskern, hom nie aan God wil onderwerp nie. Daarom bly hy in die duister. Wie die lig van God se openbaring onderdruk deur onwil en dwaasheid, bly in die donker van die menslike fantasieë en ervaar die frustrasie wat daarmee saamhang. Hy word aan homself oorgelaat in sy eie dwaling en strompel voort in die nag van sy eie dwaasheid. Dit is die radikale keuse wat elkeen moet maak wanneer ons met Jesus gekonfronteer word. Jesus se aansprake laat eenvoudig geen ruimte vir neutraliteit nie - ís Hy die lig van die wêreld, of nie?
Jesus van Nasaret ís die Lig wat die duisternis van die mens se bestaan op aarde verlig! Dis onbeskryflik! Daar kan nie baie twyfel wees dat die wêreld waarin ons leef nag-donker is nie as gevolg van die duisternis wat om die gees van die mensdom saampak. 'n Moreel-geestelike duisternis, die nagevolge van die sondeval, waarin elke mens wat op aarde onwillekeurig vasgevang is. Daar heers by sommige om ‘n lewenstyl van sonde te handhaaf en hulself sodoende meer en meer van God te vervreem. Gedurigdeur dryf hulle innerlike aptyte en luste hul meer en meer in dieper duisternis in. Sonder om dit ooit te vind, soek die mens die “goeie lewe” dáár waar dit nie te vinde is nie. Dis asof die mens die duisternis probeer ontvlug deur in dieper duisternis in te gaan.
Satan en sy bose magte se hoofdoel is om ‘n mens buite die ligkring van God se genade te kry en as hy eers sy voet in die deur gekry het, hou hy nie op met sy pogings totdat jy jouself in die donkerte van sonde bevind nie. “En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie” (Joh. 3:19-20). Die vraag wat elkeen van ons egter vir onsself moet vra, is: “Is ek ’n volgeling van Jesus Christus?” Want om die Here se ligglans in my lewe te ervaar moet ek Jesus ken en liefhê. As ek deur die Gees gelei word om te sê: “Ja Here, ek het U waarlik lief met alles wat in my is,” dan het Hy die Lig wat lewe gee!
Wat beteken dit vir my as ek die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek is ’n kind van die LIG. Iets van God se Lig moet nou deurbreek in my lewe, in my gedagtes, in my beplanning, in my besluite en my dade. Ek moet God kans gee om werklik God te wees en nie ‘n God wees wat ék van Hom wil maak nie, ‘n God wat ek heel gerieflik tot my voordeel kan rondskuif. Hoe skyn my lig om die donkerte van die mense wat die Here oor my pad stuur te verlig? Hoe reageer ek wanneer die besige winkel assistent ’n fout maak; ‘n kelner verkeerde of koue kos bring; as werkgewer my werknemers behandel en omgekeerd; teenoor die verkeersman wat my stop; in die kantoor, kombuis, klaskamer, myn – ja, oral waar ek my bevind; wanneer ‘n bejaarde net so ’n bietjie geselsskap en tyd uit my besige skedule vra? Maak ek tyd vir my gesin? Is ek net so ongeskik terug wanneer ek met ’n ongepoetse en ongeskikte mens gekonfronteer word? In kort kan ek myself afvra: “Is ek ’n ligmens?”. Skyn God deur my? My lig is moontlik die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees!
“Wie een keer in Jesus Christus die spieëlbeeld van God se Vaderhart gesien het, kyk vir die res van sy lewe met nuwe oë na die wêreld” (Martin Luther).
Gebed: Here, hoe kan ek U weerkaats as my gesig nie na U gedraai is nie? Hoe laai ek my geestelike batterye sodat ek as ligdraer vir U kan skyn? Ek verstaan dat dit nie my eie krag is wat my lig laat skyn nie. Help my asseblief om ‘n lig vir ander te wees sonder om self in die lig te staan. Laat U lig in my hart skyn om my te verlig deur die kennis en insig van U Woord en die heerlikheid van God. Help my om ‘n verskil te maak in die wêreld Here, ek wil graag U hoop en lewe en lig uitdra in die wêreld! Ek wil getrou wees aan U opdrag. Amen.