E-Kerk : Gedagte vir Vandag
JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!
JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 29) - DIE VIA DOLOROSA! (1)
(Matt. 27:32-34; Mark. 15:21-24; Luk. 23:26-32)
Joh. 19:17 – “Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota.”
Vergelyk ook Luk. 23:27-28 en 30 – “’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: ‘Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ..., want daar kom dae waarin hulle sal sê: Berge val op ons, heuwels bedek ons!”
Jesus se belaglike verhoor is verby. Omring deur “’n groot menigte” sensasiebeluste skare, word Hy weggelei na Golgota. Gebroke, uitgeput, verwond en bebloed, ontsettend eensaam, nêrens is een van Sy dissipels te hoor of te sien nie. Ten spyte van al hierdie wreedheid was Sy skouers daardie “Verskriklike Vrydag” breed genoeg om al ons oortredinge saam met Hom Golgota toe te dra.
Soos ‘n begrafnisstoet beweeg almal na Kopbeenplek toe, buite die stadsmure. Die verskil tussen hierdie begrafnisstoet en ‘n stoet wat ons ken, is die persoon in ons hedendaagse stoet reeds dood terwyl Jesus nog na Sy dood gelei word. Heel voor stap ‘n Romeinse offisier met ‘n kennisgewing om die redes vir die teregstelling aan te dui – eenvoudig: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” Agter hom begelei vier Romeinse soldate vir Jesus en twee misdadigers, wat saam met Hom gekruisig gaan word. Vir die soldate was dit maar net nog ‘n gewone werksdag. Teregstellings van hierdie aard was deel van hulle werksroetine – die kruisigingsdood vir die keiser se vyande was die norm. Die feit dat Jesus, die Lydende Regverdige is wat onskuldig gaan sterf, maak vir hulle nie saak nie.
Te midde van Sy swaar kruislas, pyn en bespotting, wéét Jesus dat Sy lydensweg nie by Golgota gaan eindig nie, wéét Hy dat dit nie ‘n doodloopstraat is nie! Hierdie reis op die lydensweg deur die “donker tonnel” was maar net ‘n tydelike deurgang na die ewige lig toe, die lig van Sy verheerlikte opstanding en oorwinning oor die dood. Jesus weet waarheen Hy op pad is, maar weet die mensdom wat hulle eindbestemming is? Wanneer Jesus die groepie huilende vroue agter Hom aanspreek, rig Hy eintlik Sy waarskuwing aan al die toeskouers, aan die wêreld en al hulle nageslagte wat nog uit hulle gebore sal word: “Moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders ... ”. Jesus verwag nie simpatie nie, Hy verwag dat mense die Waarheid moet erken, Hy verwag geloof in Hom, berou en bekering.
Nou kan ons die volgende vrae onverwyld vra: Het ek al die Waarheid erken, het ek al berou gehad en getreur oor my sondes? Het ek al soos die sondige vrou van Luk. 7:37 só gehuil oor my sondes dat my trane op Jesus se voete val? Was ek al bedroef soos die tollenaar en by God gepleit dat Hy my as sondaar, genadig moet wees? Het ek al op ‘n plek in my lewe gekom waar ek voel soos die verlore seun van Luk. 14:19, ek nie werd is om mens te wees nie, of dalk soos Petrus wat bitterlik gehuil het omdat hy Jesus verloën het? (Matt. 26:75; Mark. 14:72). Is dit nie waarom ons ook soms treur nie – die sonde wat ons opvreet terwyl ons dit maar net by God moet los – voor dit dalk te laat is?
Indien jou antwoorde op bogenoemde vrae positief is, sê Dawid dan in Psalm 30:6, dat dit gisteraand se trane was. Vandag kan jy weer vreugdevol lag – Jesus is die rede daarvoor. Ons is nie geseënd omdat ons hartseer is nie, ons is geseënd omdat ons hartseer ons by die Gees van God, ons Trooster, uitgebring het!!! Ons het soos die verlore seun vertroosting in God se omhelsing gevind. Hy het ons kom toevou met Jesus se kruisliefde! Daarom is dit ons eie keuse of ons gelukkig (geseënd) wil wees om ons hartseer na God toe te bring of eerder ons vertroosting by iemand, of iets anders, of op ‘n ander plek te gaan soek. Laat ons treur en uit afhanklikheid soek na God se vertroosting want sonde is ‘n verbreking van ‘n liefdesverhouding met God en daaroor mag en kan ons huil.
“Geseënd is dié wat treur ...” (Matt. 5:4). Om as ‘n gelowige in Jesus Christus te treur is ‘n seën want dit lei ons om berouvol terug te keer na God toe en vas te grýp aan Jesus se kruis en daaraan te bly vasklou!! Die kruisprys is vir ons as Christen-sondaarmense die grootste troos. Dankie tog, Jesus het ons uit hierdie betreurenswaardige posisie kom verlos voor betaaldag aanbreek!!! Ons is vir ewig van sondeskuld verlos. Jesus bevestig dit met Sy lewenspolis aan ons: “Ek gee julle die ewige lewe, en julle sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal julle uit My hand ruk nie” (Joh. 10:28). Daarom kan ons juigend te midde van soveel ellende om ons daaglikse lewensbestaan, onder die warmte van God met ‘n glimlag leef.
“God se Kind het mens geword sodat mense God se kinders kon word” (Martin Luther).
Gebed: Here Jesus, ek huil saam met die vroue van Jerusalem, nie oor U keuse om te sterf nie, maar oor myself, want in U lyding sien ek wat ek eintlik verdien en wie ek werklik is. Ek is só jammer dat my sondes veroorsaak het dat U ‘n kroon van dorings moes dra, só jammer dat my sondes die oorsaak was dat spykers U hande en voete moes deurboor. Here, my trane oor U lyding is die gevolg van my berou oor my sonde wat U soveel pyn gekos het. Dankie dat ek my sondes by die kruis, by U voete kan neersit en dit daar kan los. Soos Dawid wil ek my sondes bely, my oortredinge nie wegsteek nie en wéét dat U my die pad sal wys wat ek moet volg. Dankie Here, dat U my as ellendige mens, van hierdie doodsbestaan verlos het en U my hartseer oor my sonde verander het in die heerlike vreugde van U ontsettende ontferming. Amen.