E-Kerk : Gedagte vir Vandag
‘n Beeld van Petrus se verloëning en die haan wat kraai by die “Kerk van Angs” in Jerusalem
JESUS SE LYDENSTYD : SEWE DAE WAT DIE WÊRELD VIR ALTYD VERANDER HET!
JESUS SE PAD NA GLORIE (DAG 23) – PETRUS VERLOËN JESUS!
(Matt. 26:69-75; Mark. 14:66-72; Luk. 22:56-62)
Joh. 18:15-18 – “Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: ‘Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?’ ‘Nee, ek is nie!’ antwoord hy. Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.”
Vergelyk ook Luk. 22:31-32 – “Simon, Simon!’ het Jesus gesê. ‘Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”
Petrus se lojaliteit teenoor Jesus dwing hom om nie te vlug soos die ander dissipels nie, maar om Jesus te volg na die huis van die hoëpriester. ’n Diensmeisie, en dus iemand met geen besondere aansien of gesag nie, stel ’n vraag na sy identiteit. Sy weet dat Johannes ’n volgeling van Jesus is, en dat daar ander volgelinge is, en nou vra sy of Petrus ook een van hulle is. Op die oomblik het dit na ’n onskuldige antwoord gelyk, maar dit was woorde van ontrou teenoor Jesus. Petrus het sy voet op ’n weg geplaas wat tot sy val sou lei. In die aangesig van doodsgevaar het Jesus onbevrees sy belydenis uitgespreek dat Hy die Christus is. Sonder enige onmiddellike gevaar wat hom bedreig het, waag Petrus dit nie om sy belydenis dat hy ’n navolger van Christus is, uit te spreek nie. In teenstelling met Jesus se fiere antwoord: “Ek is” (Joh. 18:5) staan die swakkelingswoord van Petrus: “Ek is nie!”
Petrus se dapperheid van vroeër het nou plek gemaak vir vrees, leuens en bedrog. Dit was slegs enkele ure nadat hy vurig verklaar het dat hy bereid is om saam met Jesus te sterf (Joh. 13:37). Petrus, die man van die daad, het ‘n kort rukkie vantevore sy swaard gebruik om man alleen, ‘n hele afdeling soldate te trotseer om Jesus te beskerm, kan nou nie standpunt inneem voor ‘n onbelangrike diensmeisie nie en ontken dat hy Jesus ken! Die derde keer ontken hy selfs met vloeke en eedswering dat hy Jesus ken. En dan ruk die gekraai van ‘n hoenderhaan hom terug na die werklikheid “en hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil” (Matt. 26:75b).
Daar by die vuur in die binneplein waar “Petrus hom ook gestaan en warm maak het”, was Petrus se lyf warm maar sy binneste yskoud! Hy het Jesus gefaal, maar gefaal in ‘n situasie waar die ander dissipels nie bereid was om die situasie te trotseer nie. Hy het gefaal maar in omstandighede waar sy liefde vir Jesus steeds moedig bewys is. Jesus se vriende, Sy getroue dissipels, het Hom verlaat. Nie een het oorgebly nie, net “Simon Petrus en ‘n ander dissipel het agter Jesus aangegaan.” Daar was geen uitnodiging nie ... geen wonderwerk nie ... geen oogkontak nie ... geen groepsdruk nie ... niks nie! Net hierdie geboeide Man wat soos ’n skaap ter slagting gelei word! En hierdie prentjie gryp jou by die hart ... jy wil, néé, jy móét Hom volg, al is jy bang om te erken jy ken Hom, of naamloos wil bly. Iets dring jou om hierdie Man van Nasaret te volg!
Goddank, Jesus het geweet wat met Petrus sou gebeur en Hy het sy vertroue uitgespreek dat, alhoewel Petrus Hom sou verloën, sy geloof hom nie sou begewe nie. En wanneer Petrus in ‘n oomblik van vrees sou misluk, sou sy lewe tog as oorwinning getuig, in so ‘n mate dat hy selfs sy “broers sal versterk”. Hy moes eers later besef dat wat hom eintlik staande gehou het, nié sy toewyding aan Jesus was nie, maar Jesus se toewyding aan hóm. Jesus se belofte van herstel nog voor Petrus se val het hom gered (Luk. 22:31); nie Petrus se beloftes aan Jesus nie, maar Jesus se belofte aan hom; nie Petrus se gebede nie, maar Jesus se gebede vir hom!
Baie naamlose gevare het al voornemende dissipels van Jesus bang gemaak en verdryf, naamlose gevare wat satan gebruik om in hierdie bose en korrupte wêreld ons uit die Here Jesus se hande te wil gryp, sodat ons bang en moedeloos sal word en ophou om Jesus te volg! Ons is nie werklik naamloos soos die “ander dissipel wat agter Jesus aangegaan” het nie! Ons mag dalk so dink, maar God weet wie ons is! Ons moet onthou dat Jesus aan die kruis op die ou end nakend vir ons gehang het ... ons skaamte het Sy skaamte geword ... ons angs, Sy angs ... ons skuld, Sy pyn en vernedering! Jesus het Homself nie aan ‘n kruis laat oplig tot vertoon van die wêreld, vir almal om te sien, herkenbaar, by die Naam genoem in drie tale as die Koning, sodat ons as dissipels salig anoniem kan bly, nie!
God wil nie hê dat ons anoniem moet wees of ontken dat ons Jesus ken nie! Ons moet bekend wees as Sy volgelinge, getroue volgelinge met ’n naam, ongeag van wat ook al die naamlose gevare vir ons inhou. Ons Christengelowiges is deel van diegene wat saam met Jesus op die triomftog loop en erken dat ons Hom ken – “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is” (Matt. 10:32-33).
“Ons stryd teen elke versoeking wat ons uit God se hand probeer wegrokkel, is reeds gewen. Die oorwinning het reeds gekom op daardie eerste Paasmôre. Al waarmee ons nou nog sukkel, is die skoonmaak operasie ná die suksesvolle veldslag” (Dal Evans Rogers).
Gebed: Dankie Here dat U vir my intree by ons Vader wanneer ek met versoekinge worstel, wanneer ek soos Petrus U ook verloën, wanneer ek ook nie my beloftes teenoor U kan hou nie. Verhelder my geestesoë sodat ek kan weet watter hoop U roeping inhou en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat U vir my as gelowige bestem het. Ek wil U nie skaamteloos ontken nie, ek wil bekend wees as U volgeling ... ’n volgeling met ’n naam. Ek wil deel wees van diegene wat saam met U op U triomftog loop en erken dat ek U ken. Help my Gees van God, want alleen kan ek dit nie doen nie. Dankie dat ek onder U voorbidding veilig is en daardeur ook in staat gestel word, soos Petrus, om ander te kan versterk. Amen.