E-Kerk : Gedagte vir Vandag

Volgens oorlewering: Klipterras waar Pilates vir Jesus oorgelewer het om gekruisig te word.
JESUS WORD OORGELEWER OM GEKRUISIG TE WORD (7) – VERANTWOORDELIKHEID!
(Matt. 27:24-26; Mark. 15:15; Luk. 23:24-25)
Joh. 19:14b-16 – “Hy sê toe vir die Jode: ‘Hier is julle koning!’ Maar hulle skreeu: ‘Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!’ Toe vra Pilatus vir hulle: ‘Moet ek julle koning kruisig?’ Die priesterhoofde antwoord: ‘Ons het nie ‘n koning nie, ons het net die keiser.’ Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.”
Vergelyk ook Matt. 27:24 – “Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: ‘Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.”
“Toe Pilatus sien dit help niks nie en dat daar eerder ‘n oproer kom, het hy water gevat en voor die skare sy hande gewas en gesê: ‘Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man. Dit is julle verantwoordelikheid.” Pilatus word deur die skare gemanipuleer en lewer Jesus oor om gekruisig te word, sonder ‘n formele verhoor of skuldigbevinding en ten spyte van alle aanduidings dat Jesus onskuldig is of enige skuld teen Hom ingebring, of bewys kon word!
Die Joodse skare was ‘n paar dae gelede só opgewonde toe Jesus in Jerusalem aangekom het sodat hulle Hom ‘n helde-ontvangs gegee het. Hulle het Hom toegejuig en liedere gesing waarin Hy as die Koning en Messias geprys word. Hulle gesindheid van vriendelikheid het egter vinnig verander na moordlustigheid – ‘n tragiese verandering en keuse! Hulle “verander” Pontius Pilatus se beslissing van ‘n “Man wat onskuldig” is na die “Seun van God” wat gekruisig moet word. Hy het geweet dat hy verkeerd doen maar sou eerder sy God en Skepper kruisig, laat vermoor, as om te ly terwille van wat reg en eerbaar was. Weer ‘n retoriese vraag: Het hy later vrede gevind deur die Bloed van die Man wat hy laat vermoor het, of probeer hy tot vandag toe nog om Sy bloed van sy hande afgewas te kry?
Sommige regeringsamptenare van ons tyd tree vandag presies dieselfde op. Hulle sal eerder hulle eie belange beskerm as om te doen wat reg is voor God. Dié wat nougeset die smal paadjie bewandel, verbeur bevordering of word selfs uit hul poste geskors. Maar wat van jou en my: is ons bereid om die regte ding te doen en die gevolge te dra? Sien ons nie dalk ‘n weerkaatsing van Pilatus wanneer ons in die spieël kyk nie? “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie Man. Dit is julle verantwoordelikheid." Hoeveel keer ontken ons aanspreeklikheid vir wat ons verkeerd doen en verkies om die skuld op ander te laai? Hoeveel keer oordeel ons ander mense sonder om die ware feite in aanmerking te neem?
Om ‘n oordeel oor ‘n ander te fel is seker die mees gebruikte vorm waar wraakgedagtes uitgespreek word en waaraan die meeste mense skuld aan het. “Ek wil nou nie oordeel nie, maar het jy gesien ... ” of “Moet nou nie dink ek kritiseer haar nie, maar het jy gehoor ... ”, is seker van die bekendste uitdrukkings wat daagliks gehoor word. Dit verskaf sommige mense innerlike vreugde om slegte dinge van ander te hoor, gevolglik raak ons net soos die bloeddorstige skare en word ons verander in ‘n Pilatus wat ewe “onskuldig” hande was. Wanneer ons as regters wil optree, mis ons die doel van dissipelskap. Ons moet onthou dat ons ook begenadigde sondaars is! “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi ...”
Ons moet ook versigtig wees met onpartydige oordeel. Manipulasie deur “die skare”, instink en redelose optrede kan iemand klaar beoordeel. Jou eie lewe kan met so dik laag stof bedek wees dat die bietjie vuilgoed wat jy van ‘n ander wil afstof, nie raakgesien word nie. Die gevolglike probleem daarvan is dat mens geneig is om jou eie sondetjies met verkleinwoordjies te spel en na ander met ‘n vergrootglas kyk en saam te skreeu: “Kruisig Hom!”
“Is dit nie opvallend hoe anders ons sondes lyk as iemand anders dit doen nie?
(Chuck Smith).
Gebed: Ag Here, vergewe my kritiese en beoordelende gees. Ek kan so maklik myself mislei om te dink dat ek nie regtig iets verkeerd gedoen het nie. Help my om met meer takt en selfregverdiging met ander om te gaan. Dit is vir my so maklik om te sien hoe ander se lewe ongeorganiseerd is, hoe agtelosig hulle is, hoe maklik hulle kan oordeel. Ek kan myself nie weerhou van “bekommernis” oor ander se probleme en foute nie. Wanneer ek egter myself krities evalueer, kom ek agter dat dit niks anders was as ‘n oordeel van selfsugtige motiewe nie. Here, my hande sal nie skoon wees, voordat ek in die bloed van die Lam gewas is nie. Dra my, help my, was my skoon, vernuwe my, o Gees van God. Amen.