top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD OORGELEWER OM GEKRUISIG TE WORD (6) – AANDADIG?

(Matt. 27:24-26; Mark. 15:15; Luk. 23:24-25)


Joh. 19:13-14 – “Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent sesuur die môre. Hy sê toe vir die Jode: ‘Hier is julle koning!”


Vergelyk ook die Apostoliese Geloofsbelydenes: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde; en in Jesus Christus sy eniggebore Seun, onse Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig ... “


“Dit was omtrent sesuur die môre”, m.a.w. omtrent twaalfuur (die algemene gebruik was om die twaalf ure van die dag te tel van sonop, ongeveer sesuur die môre, tot sononder, ongeveer sesuur die aand). Pilatus gaan sit op die regbank om die oordeel oor Jesus uit te spreek. Die Jode verwag die vonnis, maar hulle word nog eens deur Pilatus uitgetart deurdat hy na Jesus verwys met die woorde: “Hier is julle koning!” As hy maar net besef het dat hy volgens God se raadsplan optree en dit tot uitvoer bring. Dit is juis die “koning van die Jode”, in die sin van “die Messias” dat Jesus moet sterwe.


Die Jode is rasend van haat teen Jesus en beslis nie in ’n luim om verder met Pilatus te redeneer nie. Hy besef dit en dien hulle nog ’n steek toe deur te vra of hy dan “hulle koning moet kruisig”. Die antwoord kom van die owerpriesters, juis die mense wat verantwoordelik was om die volk uit die Skrifte voor te lig omtrent die koms van die Messias en die ware aard van Sy koningskap. Hulle weet ook dat God, volgens die Skrifte, die Koning van Sy volk is, maar soos hulle voorgangers eeue gelede verwerp hulle God as Koning: “Hulle het jóú (Samuel) nie verwerp nie; hulle het Mý verwerp as koning oor hulle” (1 Sam. 8:7).


Hulle weier om die Seun van God wat na die wêreld gekom het, te erken en as koning te aanvaar. Die mense se woede is so opgesweep teen Jesus dat hulle ’n uitspraak doen wat strydig is met hulle staatkundige aspirasies. Hulle sien uit na die dag wanneer die Romeinse juk van hulle afgegooi sal word en weier volstrek om hulle onvoorwaardelik aan die keiser te onderwerp. Maar nou verklaar hulle dat hulle “nie ’n koning het nie, net die keiser.” In werklikheid is dit die waarheid: hulle het die heerskappy van God verwerp en hulle geskaar by die keiser in die stryd teen Christus. Die gruwel van die geval is dat dit juis die godsdienstige leiers van die volk was wat die voortou geneem het teen Hom wat gekom het om al die Skrifte in vervulling te bring en in die Messiaanse sin, die Koning van die Jode was.


Pilatus gee toe aan die eise van die Jode sonder ‘n behoorlike verhoor, geen ondervraging van getuies of die aanhoor van die verdediging nie, selfs nie die uitspreek van ’n vonnis nie. Die vonnis word veronderstel wanneer Pilatus Jesus oorlewer aan “hulle”, die Jode. So word Jood en Romein, saam verantwoordelik vir die verwerping en kruisiging van Hom wat gekom het as die Verlosser van die wêreld. Pilatus gee in en handig Jesus oor om gekruisig te word. In sy vrees en swakheid, liefde vir homself en teen sy beterwete in, speel hy reg in die hande van die Joodse godsdiensleiers en verraai hy ook, net soos Judas en die kerkmense, vir Jesus.


Sondag na Sondag met die opsê van die “Apostoliese Geloofsbelydenis,” (... wat gely het onder Pontius Pilatus ... ), word alle Christelike kerke opnuut bewus van die splinter in Pilatus se oog en miskien merk ons nie die balk in ons eie oog nie (Matt. 6:3). Wanneer ons in sy skoene staan, besef ons die diepte van ons eie menslike ellende en skuld oor die verkeerde keuses wat ons wéét, ons gemaak het: die duisternis liewer gehad het as die Lig. Saamgetrek met Pilatus, die Joodse volk, hulle godsdienstige leiers, die heidene en hulle leiers, ons almal tot vandag toe, is net soos Judas, Jesus se verraaiers en aandadig aan Sy kruisiging.


Merkwaardig! Pilatus se naam verteenwoordig ons in ons Geloofsbelydenis as ‘n ewige herinnering aan ons aandeel in die verhaal van Jesus. Sy naam bly behoue in die belydenis van die kerk as ‘n stuk kritiek op ons, ‘n stuk ontmaskering, ‘n stuk ontbloting, van wie ons waarlik is en wat ons waarlik bedink en doen, selfs in ons beste oomblikke.


“Die sondaar word vir ewig vrygespreek van elke letsel van die sonde, terwyl die Seun van God vir altyd die letsels dra van die offer wat Hy daarvoor moes bring” (Richard Halverson).


Gebed: Jesus, ek is só jammer dat ek ook aandadig was aan U kruisiging. Ek is deel van die wêreld wat U nie erken het nie, deel van U eie mense wat U nie aangeneem het nie. Maar ... dankie dat ek vandag deel kan wees van dié wat U aangeneem het; dié wat in U glo, dié wat U die reg gegee het om ‘n kind van God te word (Joh. 1:10-12). Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page