top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


Jesus word verhoor deur Pilatus

JESUS VOOR PILATUS (2) – KONING VAN ALLE KONINGS!

(Matt. 27:2, 11-21; Mark. 15:1-11; Luk. 23:1-5, 13-19)


Joh. 18:33-36 – “Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: ‘Is jý die koning van die Jode?’ Jesus het hom toe gevra: ‘Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?’ ‘Ek is mos nie ‘n Jood nie!’ antwoord Pilatus. ‘Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?’ ‘My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,’ antwoord Jesus. ‘As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”


Vergelyk ook Joh. 1:49 – “Toe roep Natanael uit: ‘Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!”


Pilatus se eerste hooghartige poging om die saak van hom af te skuif deur voor te stel dat die Jode vir Jesus self kon verhoor, het nie geslaag nie. Hy word verplig om met die verhoor voort te gaan. Wanneer Jesus in die hofsaal voor hom gebring word en hy Jesus sien, was hy verras! Daarom is sy eerste vraag: “Is jý die koning van die Jode?” Aan Jesus was daar geen teken van ’n geweldenaar nie; Hy was kennelik iemand by wie daar geen gedagte aan politieke ambisies was nie; Hy was die toonbeeld van onderworpenheid en onskuld. Pilatus lê klem op die “jy”: "Jý, is jý die koning van die Jode?” Vir hom is dit moeilik om te glo dat hierdie man beskuldig kon word van aanspraak op koningskap. Pilatus gebruik die benaming as uitdrukking van smaad: As die Jode só ‘n man as koning aanskou, het hulle maar swak smaak!


Al weet Jesus alles, stel Hy aan Pilatus ’n tweeledige vraag om hom tot beter insig oor die werklike aard van Sy koningskap te lei. As Pilatus die vraag uit sy eie stel, het hy as Romein ’n staatkundige aanspraak, ’n aardse koningskap, in gedagte; maar as “ander”, die Jode dus, dit gesê het, gaan dit eerder om die Messias, die Koning van die volk van God. Pilatus moes tot die insig kom dat hier ’n groot verskil aan die orde is, maar hy het nietemin geweier om so ’n verskil te erken. In die vraag van Jesus lê ook die gedagte dat as Pilatus dit uit sy eie gevra het, hy tog moes geweet het van die valsheid van die beskuldiging; en as die Jode dit hom voorgesê het, het hy dit nog nie volgens die eis van die regspraak self ondersoek nie. Dan moes hy getuies byhaal om die aanklag te bevestig. Vir hom is dit egter meer ter sake om Jesus op grond van sy dade te beoordeel. Daarom vra hy rekenskap: “Wat het jy gedoen?”


Jesus antwoord nie op die vraag van Pilatus nie, maar gaan in op die aard van Sy koninkryk. Dit is nie “van hierdie wêreld” nie. Die oorsprong van Sy koninkryk is nie die sondige wêreld nie; daarom dra Sy koninkryk ook nie die karakter van ’n aardse koninkryk nie. Dit blyk daaruit dat Hy, die Koning, nie deur ’n militêre mag verdedig word nie. Pilatus sou geen bewys kon vind dat Jesus ’n leër opgebou het nie, selfs nie om Hom teen die vyandige Jode te beskerm nie. Met nadruk herhaal Jesus dat sy koninkryk “nie van hier is nie”. Daarom val dit buite die regsbevoegdheid van ’n goewerneur “van hier” om Hom oor Sy koningskap te verhoor.


Die Koning van die hemel en die Romeinse goewerneur kyk mekaar in die oë. Dit is eintlik tragies dat Pilatus blind was om Jesus se ware identiteit nie raak kon sien nie. Indien hy kon, sou hy Jesus se Koningskap ervaar het as Koning oor ‘n vredesryk, ‘n ryk wat mense van binne af verander, ‘n ryk van die hart! As Pilatus by Jesus gaan staan het, het hy onder hemelse bestuur gekom!!! As hy maar geweet het die Gestuurde van die lewende God van hemel en aarde, staan voor hom, sou hy in eerbied op sy knieë neergeval het. Om voor Hom te kniel, is tog die beste keuse van jou lewe. Die resultaat daarvan is oneindig!


Natanael, ‘n eenvoudige visserman, kon die Koninskap van Jesus bely, maar die magtige goewerneur van Rome kon nie die Koning van alle nasies en tale erken nie! Jesus wat getriomfeer het as Koning van alle Konings en Heer van alle heersers, word nie erken nie. Het hierdie Jesus al jou hart en lewe as Koning oorwin? Heers Hy as ewige Koning in jou lewe? “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, maar die Lam en saam met Hom dié wat geroep en uitverkies en getrou is, sal hulle oorwin, omdat Hy die Here van die heersers en Koning van die konings is” (Op. 17:14).


“Wil jy daardie plek bereik wat mense voor die Koning van alle eeue, die ‘hoër geestelike lewe’ noem? Klim dan ‘n paar trappies laer af” (Andrew Murray).


Gebed: Jesus Christus, my Here en my Koning, ek buig in nederige aanbidding voor U majesteit en glansryke heerlikheid, U is Koning van my hart! Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page