top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


‘n Beeld van Petrus se verloëning en die haan wat kraai by die “Kerk van Angs”

PETRUS VERLOËN JESUS WEER – VERRAAD MAAR TOG VEILIG!

(Matt. 26:71-75; Mark. 14:69-72; Luk. 22:58-62)


Joh. 18:25-27 – “Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra hom toe: ‘Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?’ Hy het dit ontken en gesê: ‘Nee, ek is nie!’ Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: ‘Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?’ Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ‘n haan gekraai.”


Vergelyk ook Luk. 22:31-32 – “Simon, Simon!’ het Jesus gesê. ‘Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”


Die drie maal se verloëning word deur al vier Evangelies vertel, maar verskil in die besonderhede daarvan. Hierdie besonderhede hoef egter nie strydig te wees nie. Lukas se vertelling verwys na Annas se binnehof, by die ander drie gebeur dit in Kajafas se binnehof. Markus vertel dit is dieselfde diensmeisie wat Petrus die tweede keer konfronteer, Lukas reken dit was ‘n ander manlike persoon. Net Johannes identifiseer die derde ondervraer. Terwyl die verhoor van Jesus aan die gang was, het Petrus by die vuur bly sit waar sekerlik verskillende mense aan die gesprek deelgeneem het en heelwat gepraat is oor die gebeurtenisse van die nag.


Dit lei daartoe dat die mense daar, aan Petrus die vraag stel of hy dan “nie ook een van Jesus se dissipels is nie.” ’n Familielid van Malgus stel belang in die man wat vir Malgus verwond het, en bowendien het hy Petrus in die tuin gesien. Weer eens het Petrus ontken, hierdie keer selfs dat hy in die tuin saam met Jesus was. Dadelik het daar ’n haan gekraai.


Petrus se dapperheid van vroeër het nou plek gemaak vir vrees, leuens en bedrog. Dit was slegs enkele ure nadat hy vurig verklaar het dat hy bereid is om saam met Jesus te sterf (Joh. 13:37), maar dan tuimel sy kragtige “commitment” ineen. Die derde keer ontken hy selfs met eedswering en vervloekinge dat hy Jesus nie ken nie. En dan ruk die gekraai van ‘n hoenderhaan hom terug na die werklikheid!


Miskien beleef ons ook ons eie onbeskryflike swakheid en broosheid so diep, as juis in Petrus se optrede daardie nag toe Jesus voor die Joodse Raad verskyn het. Dalk kan ons onsself vergelyk met Petrus. Loop ons nie ook maar soms twee rye spore nie – een wanneer ons by mede-Christene is en ‘n ander wanneer ons tussen vriende of kollegas is? Kleef daar nie dalk ook maar ‘n bietjie skynheiligheid aan ons vas nie – Sondae bely ons met oorgawe ons liefde vir God maar op die harde pad van die lewe kan ons nes Petrus ontkennend en ongelowig raak? Wanneer ons oneerlik is of stilbly as iemand met die Here spot of Sy Naam ydellik gebruik, is ons Petrus se bloedbroers en susters!


Goddank, Jesus het geweet wat met Petrus sou gebeur en Hy het sy vertroue uitgespreek dat, alhoewel Petrus Hom sou verloën, sy geloof hom nie sou begewe nie. En wanneer Petrus in ‘n oomblik van vrees sou misluk, sou sy lewe tog as oorwinning getuig, in so ‘n mate dat hy selfs sy “broers sal versterk”. Hy moes eers later besef dat wat hom eintlik staande gehou het, nié sy toewyding aan Jesus was nie, maar Jesus se toewyding aan hóm. Jesus se belofte van herstel nog voor Petrus se val het hom gered (Luk. 22:31); nie Petrus se beloftes aan Jesus nie, maar Jesus se belofte aan hom; nie Petrus se gebede nie, maar Jesus se gebede vir hom!


Jesus is heeltemal bewus van elke versoeking of toets wat ons moet deurstaan en Hy is gereed om ons daarvan te verlos: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het ons oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy uitkoms gee, sodat ons dit kan weerstaan” (1 Kor. 10:13). Jesus pleit vir ons net soos Hy vir Petrus ingetree het: “Daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir ons by God in te tree” (Heb. 7:25). Soos Petrus sal ons Jesus se oë sien wat diep in ons siel in kyk, en mag Sy liefdevolle blik ons hart terugbring op God se pad (Luk. 22:61).


“Ons stryd teen elke versoeking wat ons uit God se hand probeer wegrokkel, is reeds gewen. Die oorwinning het reeds gekom op daardie eerste Paasmôre. Al waarmee ons nou nog sukkel, is die skoonmaak operasie ná die suksesvolle veldslag” (Dal Evans Rogers).


Gebed: Dankie Here dat U vir my intree by ons Vader wanneer ek met versoekinge worstel, wanneer ek soos Petrus U ook verloën, wanneer ek ook nie my beloftes teenoor U kan hou nie. Dankie dat ek veilig onder U voorbidding is en daardeur ook in staat gestel word, soos Petrus, om ander te versterk. Ek dank U Jesus, dat U alles vir my as U kind, ten goede laat meewerk. Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page