top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS WORD GEVANGE GENEEM (2) – “DIT IS EK!” (2)

(Matt.26:47-56; Mark. 14:43-50; Luk. 22:47-53)


Joh. 18:7-11 – “Hy vra hulle toe weer: ‘Vir wie soek julle?’ En hulle sê: Jesus van Nasaret.’ Toe sê Jesus: ‘Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.’ So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: ‘Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.’ Simon Petrus het ‘n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. Toe sê Jesus vir Petrus: ‘Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”


Vergelyk ook Joh. 10:27-29 – “My skape ken My stem; Ek ken hulle en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit My hand ruk nie. Dié wat My Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.”


Die koninklike optrede van Jesus het die uitwerking dat die woordvoerders en soldate wat voor gestaan het, terugdeins en op die grond neerval. Dit is heel waarskynlik seker nie van skrik dat hulle val nie, maar hulle is oorweldig deur Sy majesteit en kan dus nie anders as voor Jesus neer te val nie.


Jesus bevestig weer dat dit Hy is wat hulle soek. Dit gaan dus om niemand anders nie. Sy dissipels is nie daarby betrokke nie en daarom vra Hy dat hulle toegelaat word om weg te gaan. In daardie oomblik van gevangeneming dink Hy aan die veiligheid van Sy volgelinge, en soos die goeie Herder tree Hy in die bres vir sy skape, met priesterlike bewoënheid sorg Hy vir die veiligheid van Sy volgelinge – MERKWAARDIG!


Petrus, die man van die daad, wil geweld met geweld beantwoord en gebruik sy kort “swaard”, wat waarskynlik ‘n slagmes was wat by die paasfees gebruik is vir slagdoeleindes van die offerdier, en kap Malgus, “die slaaf van die hoëpriester” se oor af. Petrus, dieselfde man wat oor ‘n kort rukkie later, nie standpunt kon inneem nie en voor ‘n diensmeisie ontken dat hy Jesus ken, is nou bereid om man alleen, ‘n hele afdeling soldate te trotseer om Jesus te beskerm! Jesus belet die gebruik van geweld in hierdie situasie. Hy gee Hom vrywillig oor, en die gebruik van ’n swaard sou dus die uitvoering van die heilsplan volgens die wil van God verydel. Dit mag nie gebeur nie omdat Jesus bereid is om die lydensbeker te drink wat Hy uit die hand van die Vader ontvang, die Vader wat sy Seun innig liefhet, maar wat ook die wêreld liefhet en daarom aan die Seun die beker toereik (3:16).


Ironies, die las van die mens se sonde het in ‘n tuin begin, die Tuin van Eden. Daar het Adam tot ‘n val gekom en gaan wegkruip vir God; in die Tuin van Getsemane tree Jesus op die voorgrond en neem standpunt in, gaan kruip nie weg nie maar gaan die soldate tegemoet; in Eden het God na Adam gesoek, in Getsemane worstel Jesus met God en soek na Sy Vader; in Eden het satan vir Adam na ‘n boom geneem wat tot sy dood gelei het, in Getsemane kon Jesus se bloed nié die volle prys vir ons sonde betaal nie en moes Hy gaan na die kruis wat uit ‘n boom gemaak is, wat tot ons lewe gelei het!


Dit laat mens wonder of daar ‘n plek, ‘n “tuin” bestaan waar satan nog nie ingemeng het nie? Die slegte nuus is dat satan nie ‘n versinsel is nie, maar ‘n werklikheid soos wat die versoekings van Jesus ‘n werklikheid was (Matt. 4:10). Satan en sy helpers maak hulle oral tuis en teer op sondige begeertes – in die skole, kerke, gemeenskap, ons beloftes, ons reinheid, ons morele waardes, ons menswees. Sy vernaamste teenstanders is ons harte, die harte van Christengelowiges, die tuin van God! Wat satan in Eden gedoen het, doen hy vandag nog; hy werskaf veral in die tuin van God. Die goeie nuus, daarenteen, is dat satan nie oral aanwesig is nie, maar God is!!! Wat Jesus in Getsemane gedoen het, doen Hy vandag nog – Hy staan in vir ons Christengelowiges, Hy beskerm ons teen satan, “ons sal in alle ewigheid nie verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit Jesus se hand ruk nie.”


Jesus kyk nie in stilte toe dat satan dit wat heilig is, “van dié wat ons Vader aan Jesus gegee het, verlore sal gaan nie. Dié wat My Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie.” Elkeen wat ‘n gesonde verhouding met God het, hoef nie satan en sy trawante te vrees nie. Ons moet nie sterk wees in versoekings nie, maar sterk wees in God! Wanneer Jesus belowe “dat niemand wat God aan Hom gegee het, verlore sal gaan nie”, bedoel Hy dit. Ons is die mooiste “rose in God se tuin” en daarom moet ons nie toelaat dat satan hierdie tuin inneem nie.


“Ek het al baie dinge in my eie hande geneem en dit uiteindelik alles verloor. Maar wat ek ook al in God se hande geplaas het, besit ek vir ewig” (Martin Luther).


Gebed: Dankie Vader, dat ek deur U genade, deel kan wees “van dié wat U aan Jesus gegee het, en ek daarom nie verlore sal gaan nie.” Maar Here, nou moet ek bely, as U vandag my tuin besoek, gaan U baie onkruid vind – onkruid van versoekings, onkruid in my gesinslewe, onkruid in my hart. Here, ek maak my tuinhekkie vir U oop, herinner my opnuut aan wat U reeds in Getsemane vir my gedoen het. Dankie dat U die onkruid uitgetrek het en beheer oorgeneem het met die instandhouding van my tuin, want waar U is, kan satan nie bestaan nie. Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page