E-Kerk : Gedagte vir Vandag
JESUS WORD GEVANGE GENEEM (1) – “DIT IS EK!” (1)
(Matt.26:47-56; Mark. 14:43-50; Luk. 22:47-53)
Joh. 18:1-6 – “Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ‘n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het. Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: ‘Vir wie soek julle?’ ‘Jesus van Nasaret,’ antwoord hulle Hom. ‘Dit is Ek!’ sê Hy toe vir hulle. Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. Toe Jesus dan vir hulle sê: ‘Dit is Ek!’ het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.”
Vergelyk ook Jes. 41:10 – “Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”
Dit is paasfees in Jerusalem en die plek was tot oorlopens toe vol van die feesgangers. Baie van die pelgrims het dus in die valleie en tuine rondom en binne Jerusalem, oornag, en dit is waar Jesus en sy dissipels hulle ook bevind, in die Tuin van Getsemane. Johannes vertel nie van Jesus se gebedstryd in Getsemane nie, maar hy veronderstel tog dat ’n tyd verloop het tussen hulle aankoms in die tuin en die koms van Judas met ‘n “afdeling soldate” en geregsdienaars. So ’n “afdeling” het bestaan uit ongeveer 600 soldate, voeg daarby nog die “wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs”, dan is dit eintlik ironies dat sóveel geregsdienaars van die aardse magte, teen die Een met die mag van God wil opstaan!
Dit skep die indruk dat hulle teen ’n gevaarlike misdadiger gaan optree. Dit is natuurlik ‘n valse indruk wat deel was van Jesus se vernedering, Hy wat nooit geweld gebruik of ’n misdaad gepleeg het nie, wat self nie eens ʼn wapen gedra het nie, ʼn Man wat verkondig het dat jy die ander wang moet draai, ʼn Man wat Sy volgelinge geleer het dat jy jou vyande moet liefhê.
Johannes vermeld nie die soen van Judas nie (Matt. 26:49), maar beklemtoon eerder die optrede van Jesus. Judas kry nie eens kans om sy silwer muntstukke te verdien deur Jesus te verraai nie! Jesus weet alles wat oor Hom sal kom (13:3) en neem sake in eie hande om die wil van God ten uitvoer te bring. Hy is verhewe bo die omstandighede en die lyding, en het volle beheer oor die verloop van die gebeurtenisse. Hy word nie gearresteer nie, maar gee Hom oor in die hande van die vyande. In plaas daarvan dat Jesus vlug, gaan Hy hulle tegemoet en vra: “Vir wie soek julle?” Hy weet natuurlik wie hulle soek, maar hier in die teenwoordigheid van Jode en heidene moet dit openlik uitgespreek word dat dit gaan om “Jesus van Nasaret”.
Onder daardie Naam was Hy bekend as die een wat die land deurgereis en net goed gedoen het, die Man van nederige herkoms en beskeie optrede, maar tog die Een wat met goddelike gesag Sy woord gedoen en met almag weldade aan die lydende mensheid verrig het. In die mond van die teenstanders word dit ’n Naam van veragting maar in teenstelling daarmee, aanvaar Jesus egter die Naam as ’n erenaam en Hy antwoord: “Dit is Ek!” Daardeur vereenselwig Jesus Hom met God wat Hom aan Moses by die brandende bos, bekend gestel het met: “Ek is wat Ek is” (Eks. 3:14). Hy erken dat Hy “Jesus van Nasaret” is, maar dui ook aan dat Hy nie net ’n mens is nie: Hy is ook God en Hy is die Messias. Die geregsdienaars word gevolglik oorweldig deur Jesus se koninklike optrede en majesteit, sodat sommige van hulle terugdeins en op die grond neerval.
In hierdie nag van angs, ʼn nag van alleenheid van Jesus, staan Hy in vir jou en my, sodat ons nie weer angs hoef te ervaar nie, sodat ons kan weet dat as ons roep in ons nood, as ons roep om vergifnis, as ons na die lewe roep, as ons roep omdat ons nie meer hoop het nie, Jesus ook vir ons sal sê: “Dit is Ek!” Ek staan nou nie meer in wese alleen teen vrees en angs nie; angs kan nie meer my lewensvreugde blus nie. Ek kan die lewe vreesloos in die oë kyk want Jesus het my vry gemaak: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees” (Joh. 8:36). Ek hoef nie meer “terug te deins en op die grond neerval nie!”
“Die lewe hoef nie maklik te wees om vol vreugde te wees nie. Ware blydskap is nie die afwesigheid van probleme in jou lewe nie, maar die aanwesigheid van Christus”
(William van der Hoven).
Gebed: Dankie Vader dat ek in die omhelsing van U liefde kan ontspan. Ek hoef nie toe te laat dat vrees en angs, my lewensvreugde ontneem nie. U het te duur betaal om enige van U volgelinge verlore te laat raak. Dankie Jesus van Nasaret, dat U God se genade op my drumpel kom aflaai het. Amen.