top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Nov 29, 2017
  • 4 min read

EK HET DIE WÊRELD OORWIN (2) – VERLOSSING IS VERSEKER!


Joh. 16:29-33 – “Sy dissipels sê toe: ‘Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.’ Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Glo julle nou? Kyk, daar kom ‘n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”


Vergelyk ook Sag. 13:7 – “Kom, swaard, tref die herder in my diens, sê die Here die Almagtige, tref die man wat so naby aan My is. Maak dood die herder, dat die skape uitmekaargejaag kan word.”


Die dissipels begryp nou dat Jesus nie beeldspraak gebruik wanneer Hy sê dat Hy van die Vader gekom het en weer na die Vader gaan nie. Hulle het in sekere mate tot insig gekom en verstaan Hom nou. Aan die einde van Jesus se gesprek met die dissipels, het dit ’n triomfantlike klank, hoewel hulle geloof nog aan ’n swaar toets onderwerp sal word al verklaar hulle dat Jesus alles weet. Hulle erken immers dat Hy ’n goddelike wese is wat “van God gekom het” en dit nie meer vir iemand nodig is om enige vrae te vra nie. Dit beteken dat Hy in die geloof aanvaar word as die Verlosser wat deur die Vader gestuur is en inderdaad ook van God gekom het.


Met hierdie betuiging van geloof in Jesus Christus is die skoling van die dissipels voltooi, hoewel nog nie volmaak nie. Daar is by hulle nog tekortkominge en kleingeloof, maar weldra sal hulle met die Heilige Gees toegerus word om die kragtige en onbevreesde getuies te wees van Hom wat van God gekom, Jesus Christus die Here, en weer na die Vader teruggegaan het.


Jesus waardeer hulle betuiging van geloof, maar Hy stel ’n vraag waardeur hulle gedring word om die gehalte van hulle geloof te ondersoek. Sal dit die toets kan deurstaan? Die tyd het aangebreek dat hulle “uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in”. Die dissipels wat in drie jaar ’n hegte groep gevorm het, sal met geweld verjaag word sodat die eenheid verbreek sal word, en elkeen op sy eie wyse sal vlug. Hulle verbondenheid aan Jesus sal tydelik verbreek word sodat Hy alleen gelaat sal word, ‘n alleenheid wat nie werklik alleen is nie, omdat die Vader by Hom is. Daarom vlug Jesus nie ook nie. Hy weet van die bystand van die Vader. Dit is eers in die uur van sy sterwe aan die kruis dat Hy die werklike donker uur ondervind van deur God verlaat te wees.


Jesus se menswees verskil só drasties van ons. Hy is op pad na die grusame lyding van die kruis, maar steeds gee Hy om vir Sy volgelinge. Soos die dissipels “glo ons dat Jesus van God gekom het.” Hy ken ons swakheid, Hy weet ons gaan Hom alleen laat en ons eie ding doen, op ons eie manier en wil, maar Hy bly steeds lief vir ons en vertrou ons steeds. Wanneer jy ontdek hoe lief God jou het, kom die vertroue en die sekerheid en die toekomshoop byna vanself. As jy die liefde van God vir jou, persoonlik ontdek, ontdek jy jou eie waarde en die negatiewe gevoelens en bekommernisse word vervang met God se ewigheidswaardes. Die ontdekking van hierdie liefde is die ruimte waarbinne ons Jesus kan glo vir wat Hy sê. Selfs al ondervind ons baie teenstand in die wêreld as gevolg van ons geloof, bly Hý getrou. Die dinge wat soms alle geloof uit ons wil uitwurg, is alreeds deur Christus oorwin.


Dit is en bly darem maar net wonderlik dat 'n mens te alle tye na die Here mag gaan. Ons hoef nie buite Jesus te soek na verlossing nie. Fisiese mag, reputasie, prestasie, invloedryke posisie en vriende, rykdom en selfs aktiewe kerklike bedrywighede, kán ons nie verlos nie, net Jesus Christus alleen kan. Ons is te geneig om te soek na ‘n Christus-plus-godsdiens wat mens soms magteloos maak dat jy later begin glo dat jy iets ekstra nog moet doen om verlos te word. Dit is om die trou van God en die realiteit van wat op die kruis eens-en-vir-altyd gebeur het, tot niet te maak. God het self gesê dat sy Seun se Naam Verlosser is en ons kan dit maar glo dat Hy, en net Hy, ‘n mens van sy sondes kan verlos: “Maria sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). Daar is nie nog ‘n ander Verlosser nie: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as losprys vir almal gegee het.” (1 Tim. 2:5-6).


“Deur Jesus se versoening het God nie net ons sonde in die diepte van die see weggewerp nie; Hy het selfs ‘n kennisgewing daarby laat opsit: ‘VISVANG VERBODE!’ (Dwight Moody).


Gebed: Hemelse Vader, dankie dat u geen ander Naam op die aarde gegee het waardeur U wil hê ons gered moet word nie, behalwe Jesus Christus! Dankie Jesus dat U my spesifiek ken. Al gaan ek gebuk deur my kwota foute, uitdagings en beproewings, ken U elke droom, elke begeerte, elke greintjie hoop, elke omstandigheid en daarom kan ek met vrymoedigheid bely “dat U van God gekom het” en ek het U nodig! Onderwerp my aan U liefde en vul my met U vreugde. Amen.


 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page