top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Oct 26, 2017
  • 4 min read

DIE WARE WINGERDSTOK (2) – GEHEIM VAN VRUGDRA!


Joh. 15:4-8 – “Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”


Vergelyk ook 1 Joh. 4:16 – “God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God in hom.”


Jesus wyk nou af van die beeldspraak en gee aan die dissipels die direkte opdrag: “Julle moet in My bly.” Die Vader lê wel Sy hand aan hulle lewe om hulle tot groter vrugbaarheid aan te spoor, maar hulle dra die verpligting om in die wingerdstok, in Christus, te bly. Jesus doen dan ’n belofte uit vrye genade, “en Ek in julle”, nie as ’n toesegging van beloning op die trou van hulle nie maar ‘n versekering dat Hy aan hulle getrou sal bly, daarop kan hulle reken!


Die noodsaaklikheid van hierdie innige verbondenheid met Christus word toegelig deur weer van die beeld gebruik te maak. ’n Loot kan nie los van die wingerdstok vrugte dra nie, dit moet aan die wingerdstok verbind bly. Dieselfde is waar op geestelike gebied: die gelowige se lewe is vrugteloos as die band met Christus nie gehandhaaf word nie. Die lewe in die lote is die lewe uit die wingerdstok, en die vrug van die lote is ook die vrug van die wingerdstok. Waar die wederkerige verbondenheid van “in My bly en Ek in hom” gehandhaaf word, is die moontlikheid geskep om baie vrugte te dra. Maar as hierdie band verbreek word, kan die mens (die loot) niks doen nie.


Wat beteken dit om “in die Here Jesus te bly”? Jesus se eie “definisie” is: “Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in my en ek in hom” (Joh. 6:56). Ons woonplek, ons huis, is daar waar ons tuis en veilig voel. As Jesus dus sê ons moet in Hom bly, beteken dit dat ons geestelik by Hom sal intrek, Hy word ons huis, ons woonplek! Dit beteken om in ons daaglikse lewe “Sy liggaam te eet en Sy bloed te drink”, Hom soek, met Hom gesels en na Hom luister, na Hom verlang, Hom ken, Hom liefhet en doen wat Hy vra, nie net elke drie maande tydens nagmaal nie, elke dag! Dit gaan oor ʼn lewende verhouding met Hom as persoon. Ons bly immers saam met Hom! En omdat ons so saam woon, weet Hy presies wat ons dink en doen en voel, en ons oor Hom. En wanneer ons verkeerd reageer of optree, gebruik God Sy snoeiskêr om die “dooie” lote af te knip en reg te snoei. Eina, dit maak seer maar die eindresultaat sal beter wees, “Ons Vader word juis daardeur verheerlik dat ons baie vrugte dra!”


Soos die wingerdstok sy sap met die lote deel, deel Jesus sy lewe met ons. Dit het egter met meer as die nagmaal te doen, Hy het ons Sy Gees gegee: “Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee” (1 Joh. 4:16). Om in die Here Jesus te bly, beteken om elke dag deur Sy Woord en Gees gevoed te word, elke dag in Sy teenwoordigheid te wandel, nie net Sondae nie. Bybellees en gebed moet in die ware sin van die Woord ʼn daaglikse, opbouende gesprek tussen ons en die Here wees. Ons kan egter vir jare lank Bybel lees en bid sonder om in Hom te bly!!! Ons moet met Hom praat omdat ons Hom persoonlik goed ken en omdat ons Hom liefhet en Hom vertrou. Hoe beter die verbinding met die wingerdstok, hoe beter is die oes aan die loot, ‘n loot wat die vrugte van die Gees in oorvloed dra!


“Die inwonende God is basies dít – om God gedurig in jou denke te hou, Sy troon voortdurend in jou binneste gevestig. Dán is God met jou, in jou, vir jou!” (Basil die Vrome).


Gebed: Jesus, om in U te bly, is die regte plek vir my! Dit is veel meer as om net kerktoe te gaan, Bybel te lees en te bid. Dit is om reg gesnoei te word deur ons hemelse Vader, want Hy is soos enige goeie boer nie tevrede met ʼn bietjie vrugte nie, Hy wil ʼn goeie oes waarborg. Dankie Vader dat U die Wingerdstok, Jesus, in ons midde geplant het. Gees van God, hou my asseblief ingeënt op daardie Wingerdstok want dan is ek op die regte plek, Hy gee my alles wat nodig is om te groei. Laat my vrugte dra wat U plesier gee en U verheerlik word. Amen.

 
 
 

Recent Posts

See All
GEDAGTE VIR VANDAG

Dinsdag, 22 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons van vandag af verder saam met Paulus in sy Brief aan die Romeine. Bevry van...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Sondag, 20 April 2025 Koos Espach Jesus se pad na glorie   Die leë graf – Jesus het werklik opgestaan en lewe vandag Joh. 20:1-2 – “Die...

 
 
 
Gedagte vir Vandag

Saterdag, 19 April 2025 Koos Espach As E-Kerk familie reis ons hierdie week saam met Jesus na Opstandingsondag, 20 April 2025. Jesus se...

 
 
 

Comments


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page