E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE HEILIGE GEES SAL BY JULLE BLY (2) – LIEFDE BRING GEHOORSAAMHEID!
Joh. 14:18-24 – “Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog net ‘n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle. Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hom sal My Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.’ Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: ‘Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?’ Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem; en My Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Wie My nie liefhet nie, neem My woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie maar die Vader s’n wat My gestuur het.”
Teen hierdie tyd het die dissipels seker al begin begryp dat ‘n tragedie op hande is. Jesus praat nou met hulle soos ‘n sterwende vader met Sy kinders (13:33), en troos hulle met die belofte dat hulle nie soos weeskinders agtergelaat sal word nie. Sy weggaan is nie van so ’n aard dat Hy nooit meer enige kontak met hulle sal hê nie, want Hy kom weer na hulle toe. Dit sal gebeur wanneer Jesus oor ‘n paar dae gaan opstaan uit die dood!
Wanneer Jesus aan die kruis sterf, sal die vyandige wêreld Hom nie meer as ’n sigbare mens sien nie, maar die dissipels wat geleer het om met die geloofsoog na Jesus te kyk, sal Hom bly “sien” (vgl. 14:9). Net soos die wêreld sal hulle deur die kruisiging fisiek van Jesus geskei wees, maar geestelik sal hulle Hom bly “sien” as die Seun van God. Die kruisdood is nie die einde van Sy lewe nie omdat Hy die lewe in Hom het: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense” (Joh. 1:4).
Hierdie lewe van Jesus word oorgedra op die dissipels en ons gelowiges, omdat ons tot geloof in Hom gekom het en daarom sal ons lewe, al sou ons aardse lewe tot ‘n einde kom wanneer ons sterf: “Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe” (Joh. 6:57). Dit word bevestig deur Jesus se opstanding wat al ons twyfel en ontsteltenis, verander in hoop!
“Daardie dag”, na die opstanding, maar veral ná die koms van die Heilige Gees wat volle insig sal bring, sal Jesus se opdragte nie net bekend wees nie, maar ook in ons daaglikse lewe, uitgevoer word. Hierdie gehoorsaamheid wat met dade geopenbaar word, is die bewys van die liefde vir Jesus. Dit beklemtoon die skeidingmaker tussen volgelinge- en teenstanders van Jesus, kerk en wêreld. Die wêreld ontvang geen openbaring nie, omdat daar nie liefde vir Jesus is nie, omdat hulle nie Jesus wil kén nie! Daarenteen, waar die liefde vir Jesus aanwesig is, word Sy woorde ter harte geneem wat gevolglik die inwoning van die Vader en Jesus verseker. Hulle word dan in die harte en lewe van ons gelowiges, steeds toenemend deur die Heilige Gees geopenbaar.
Wanneer die Heilige Gees ons die almag van God laat smaak deur die inwonende Jesus Christus, verander dit ons gelowiges se harte. Gehoorsaamheid aan Jesus se opdragte kom uit ons hart uit. Dit laat ons anders optree, uit gehoorsaamheid anders laat doen. Wanneer jy vir jou eggenoot sê dat jy haar soms liefhet, maar soms sukkel om haar lief te hê, dui dit op ‘n wankelrige liefdesverhouding – net so is God nie tevrede met geleentheidsliefde of geestelike traagheid nie. Wanneer ons nie meer gemotiveerd raak deur God se Woord te lees nie, kerk toe te gaan nie, of ons aanbidding slegs ten tye van nood, aangewend word, is dit tekens van ontkenning van Jesus wat Homself nie gespaar het om uit liefde, Sy alles, vir ons gegee het! Hoe is dit dan moontlik om enigiets van onsself aan Hom, terug te hou? As ons God besit, besit ons die allerbeste!
“Gehoorsaamheid aan God is die onweerspreekbare getuienis van volkome en opregte liefde vir Hom” (Nathanael Emmons).
Gebed: Here, dit is só maklik om te sê ek het U lief maar wanneer ek myself meet aan my gehoorsaamheid aan U, voel dit soms asof my oorgawe aan U, te veel gevra is. U het Uself nie gespaar om U alles vir my aan die kruis te gee nie, daarom pleit ek vir matelose toewyding en oorgawe aan U. Gees van God, help my asseblief om die struikelblokke wat tussen my en God staan, te verwyder. Amen.