E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE HEILIGE GEES SAL BY JULLE BLY (1) – BELOFTE VAN DIE VOORSPRAAK.
Joh. 14:15-17 – “As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer. Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Vergelyk ook 1 Joh. 2:1 – “Dit skrywe ek aan julle, my liewe kinders, dat julle nie moet sondig nie. En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.”
Jesus is steeds besig met Sy afskeidsrede daar in die “Bovertrek”. Jesus beklemtoon opnuut die eis van die liefde aan die oorblywende elf dissipels. Die eis van die liefde aan Hom bring ’n verpligting mee: die opdragte van die Here moet uitgevoer word, al sal Jesus nie meer liggaamlik by hulle wees nie. Vir die troue dissipel is dit egter nie moeilik nie want die liefde kom tot openbaring in die gewilligheid om die wil van die Here te doen.
Naas die verpligting van die dissipels, dit sluit alle Christen-gelowiges in, onderneem Jesus ook ’n verpligting. Dit gaan immers om ’n nuwe verbond. Van Sy kant onderneem Jesus om self die Vader te vra om “’n ander Voorspraak” te stuur vir dié wat Hom liefhet en sy opdragte uitvoer. “Jesus Christus, die regverdige, ons Voorspraak by die Vader”, staan op die punt om van die dissipels afskeid te neem, maar Hy beloof dat hulle nie sonder Sy teenwoordigheid sal moet klaarkom nie. God sal ’n plaasvervanger stuur, ’n “ander Voorspraak”, dus ’n goddelike Persoon net soos Jesus, en nie maar net ’n plaasvervanger van mindere rang of gesag nie.
Daardie Voorspraak word nader bekend gestel as “die Gees van die waarheid”. Hy word gekenmerk deur die waarheid en Hy dien die waarheid; alles wat Hy getuig en doen, is die waarheid. Die Gees is dus die Waaragtige in wie daar geen valsheid is nie, en Hy is die verkondiger van die waarheid van die blye evangelie soos in Christus geopenbaar is. Jesus het verklaar: “Ek is die waarheid” (14:6) en daarom is “die Gees van die waarheid” dus ook die Gees van Christus, en in Christus se plek word Hy deur die Vader gestuur om by ons te woon: “Hy (Jesus) is verhoog aan die regterhand van God en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort” (Hand. 2:33).
Die wêreld kan Hom egter nie ontvang nie omdat die wêreld in die mag van die leuen, die owerste van die wêreld, verkeer: “Ons weet dat ons aan God behoort en dat die hele sondige wêreld in die mag van die duiwel is” (1 Joh. 5:19), daarom sien en ken die wêreld nie die Gees van die waarheid nie. Deur die geloof ken ons reeds die Gees wat by ons bly, maar nog ‘n belofte word bygevoeg: die Gees “sal in julle wees”. Die Gees sal Sy woning maak in die kerk van Christus en daarom ook in die hart van elke gelowige. Die Gees is self ook God en daarom ewig, en nadat Hy deur die Vader gestuur is, bly Hy vir altyd by die gemeente van Christus.
Ons as gelowiges in Christus, besit dus iets wat die ongelowige wêreld nie het nie en ook nie ken nie. Die wêreld verstaan nie hierdie spesiale liefde van God vir ons as Sy kinders nie – “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Joh. 3:16). God bied Sy liefde in genade aan, deur middel van die Voorspraak, die Vertrooster, vir elke mens, maar dit is nie almal wat die Gees in geloof wil aanneem of aanvaar nie. Hulle verkies eerder om God en die “Gees van die waarheid” buite rekening te laat wanneer hulle hul lewe organiseer. Het jy al ondervind dat die Voorspraak ‘n lewende en vertroostende werklikheid in jou lewe geword het?
“Die Christendom ken geen waarheid wat nie uit die Heilige Gees gebore word nie” (Phillip Brooks).
Gebed: Gees van die waarheid, dankie dat U die wil van God aan my bekend maak. Dankie dat U my help om die lewe beter te hanteer sodat ek ‘n oorwinnaar sal wees in die stryd om die waarheid. U ken die droefheid en pyn van hierdie verskeurde wêreld, asook my begeertes en nood. Dankie dat U daar is om my te vertroos in pyn en smart, skeiding van dierbares en ‘n gebroke hart. Dankie dat U altyd by my is om die wonde van my verslae gemoed en gees te verbind, my teen versoekinge krag te gee en ‘n belofte van ‘n nuwe dag te bring. Amen.