E-Kerk : Gedagte vir Vandag
DIE TYD VAN SY VERHEERLIKING HET GEKOM (5) – BLINDE ONGELOOF!
Joh. 12:37-43 – “Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie. So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word: ‘Here, wie het geglo wat ons gehoor het? En aan wie is die mag van die Here geopenbaar?’ Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders: ‘God het hulle oë blind gemaak en hulle verstand laat afstomp sodat hulle nie met hulle oë kan sien en met hulle verstand kan verstaan en hulle bekeer en Ek hulle gesond maak nie.’ Jesaja het dit gesê omdat hy die magtige teenwoordigheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het. Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.”
Vergelyk ook Joh. 1:11-12 – “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
Johannes vertel vir ons in die eerste twaalf hoofstukke van sy evangelie, dat die Woord, Jesus Christus, na “Sy eie mense” gekom het maar dat hulle Hom nie wou aanneem nie. By die slotgedeelte van die eerste deel herhaal hy nou dat die Jode geweier het om Jesus aan te neem, en wys hy daarop dat dit volgens die profesie van Jesaja, juis op daardie manier moes gebeur. Nadat Jesus sy laaste woorde tot die Jode gerig en hulle finaal opgeroep het tot geloof in Hom, onttrek Hy Hom van die skare. Waarskynlik gaan Hy êrens in Betanië tuis om daar te vertoef totdat die tyd vir sy laaste gesprekke met die dissipels sou kom.
Jesus se openbare bediening van ongeveer drie jaar, het ten einde gekom. Dit was nie eers nodig om Jesaja aan te haal nie, Johannes kon kortliks saamvat, deur te verwys na die volk se ongeloof wat hulle harte verhard het teenoor Jesus. Dit is eintlik tragies, want Jesus het tussen hulle beweeg en vir drie jaar probeer om deur middel van wondertekens en gesprekke, hulle te oortuig dat Hy die Seun van God is. Tragies dat selfs sommige lede van die Joodse Raad, gelowig geword het maar “liewer die eer van mense as die eer van God” verkies het. Dit was presies wat Simeon ook voorspel het toe hy by die tempel, Jesus as baba in sy hande gehou het en gesê het: “Hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word” (Luk. 2:34).
Dit was egter nie die gevolg van ‘n toevallige sameloop van omstandighede nie, dit was so deur die Vader beplan want Christus se koms aarde toe was blydskap en bevryding vir die wêreld – “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Mark. 10:45). Israel se hartseer, is dus alle gelowiges in die wêreld se vreugde! Hulle verlies het tot gelowiges se verlossing gelei. Johannes haal aan uit Jes. 6:10 en verklaar dat dit God is wat die verharding in die harte van die Jode gebring het. Die bedoeling is dat hulle sélf ’n beslissing moes neem toe hulle Jesus se prediking gehoor en die tekens gesien het, maar agter hulle beslissing staan die beskikking van God. Daarmee is hulle nie van hulle verantwoordelikheid onthef nie. Daarom word hulle verwerp en kry die heidene, en ons, geleentheid om die blye boodskap te hoor en aan te neem. En dít was juis die genadige bedoeling van God.
God het hulle oë verblind met die “tipe Messias” wat Hy vir hulle gestuur het, 'n Messias wat die gestalte van 'n dienskneg het, wat dien, wat voete was, wat met sondaars saamkuier. Aan die ander kant maak hierdie Messias daarop aanspraak om die heerlikheid van God self te wees! En baie van die volk het besluit: “Nee, só ‘n Messias kan nie aanvaar word nie.” Deur hulle verblinding gee hulle, hulle Messias oor aan die dood van die kruis. Daardeur red God die nasies en vervul Hy die moederbelofte van Gen 3:15. Dis hoe God se Raadsplan inmekaarsteek.
Die rede agter alle ongeloof en neutraliteit teenoor Jesus van Nasaret, is die mens se geneigdheid om die eer van die méns, bó die eer van God, lief te hê. Die mens se mens-liefde! Katastrofies! Dit was die wortel van Israel se ongeloof en vandag nog die wortel van álle ongeloof. Die innerlike geneigdheid om die méns lief te hê, die méns in die plek van God te plaas, die eie-ek houding wat die vernaamste is. Dit verblind mens geestelik dat jy nie kan sien hoe Christus Homself HERE oor ons gemaak het nie en hoe Hy ons opgeneem het in Sy liefde nie. Menseverering is tydelik van aard en net vir die rukkie wat jy leef, terwyl verering van God permanent is en dit ewigheidswaardes besit. Dit is altyd beter om die regte keuses te maak wat ewig sal hou teenoor keuses wat tydgebonde is (Ps. 118:8)!
“Daar is niks erger as die misdadigheid van ongeloof om Jesus nie te wil vertrou nie – om te dink wié Jesus is, wát Hy gedoen het en vir wié Hy dit gedoen het, en steeds nie in Hom glo nie! Daar is geen boosheid so afskuwelik soos die boosheid van ongeloof in Jesus Christus nie” (Dr. Heugh – Skotland [19de eeu]).
Gebed: Here, hoe kan ek bid dat U koninkryk moet kom, as my koninkryk belangriker is; U wil geskied terwyl my wil nog die voortou neem. U dissipels het eeue gelede al gevra: “Na wie toe kan ons gaan behalwe na U toe?” So kom ek na U toe wat die ewige lewe waarborg en smeek, vergewe dat ek soms twyfel in my geloof. Dankie vir U wonderdade rondom my, in my en vir my. Ek kan net in verwondering prewel: Hoe groot is U! Amen.