top of page
Search

E-Kerk : Gedagte vir Vandag

  • Koos Espach
  • Jul 29, 2017
  • 4 min read

DIE GOEIE HERDER (9) – SEUN VAN GOD OF KRANKSINNIGE?


Joh. 10:17-21 - "Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê , en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van My Vader ontvang het.’ Daar het toe verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde. Baie van hulle het gesê: ‘Hy is van die duiwel besete, hy is mal! Hoekom luister julle nog na hom?’ Ander het gesê: ‘Dit is nie die woorde van ‘n besetene nie. ‘n Duiwel kan tog nie blindes se oë genees nie?”


Jesus rig nou Sy gesprek tot Sy volgelinge maar daar was altyd ’n aantal Kerkleiers (Jode) teenwoordig wat dan op Sy woorde gereageer het. Hulle wil niks met Jesus te doen hê nie, maar hulle word nietemin verplig om ’n standpunt in te neem, en soos voorheen (6:52; 7:43; 9:16) kom daar verdeeldheid onder hulle. Nou gaan dit oor “hierdie woorde” wat Jesus pas uitgespreek het, uitsprake wat aanstoot gee: die wyse waarop Jesus gepraat het van die verhouding tussen Hom en die Vader is vir die Jode, Godslastering en die gedagte dat Hy sy lewe sou aflê en weer opneem, is iets wat buite die ervaring of verbeelding van dié mense lê.


“Baie”, dit wil sê die meerderheid, verklaar dat Jesus van die duiwel besete is. Hierdie beskuldiging het hulle Jesus reeds drie keer voor die hoof gewerp (7:20; 8:48,52) en daardeur te kenne gegee dat Hy ’n bondgenootskap met die duiwel het. “Hy is mal”, ’n bose gees het oor Sy denke beheer geneem sodat hy kranksinnig geraak het. Maar daar is ander wat onder die indruk van Jesus se wonderdade verkeer, veral omrede Hy blindes siende gemaak het, iets wat alleen gedoen kan word deur iemand wat ’n gunsgenoot van God is. Maar ook by hierdie groep is daar nog onsekerheid want die geloof in Jesus ontbreek.


Kan ons die Fariseërs kwalik neem omdat hulle gesê het: “Hy is van die duiwel besete, hy is mal”? Wat sou ons reaksie wees indien iemand daarop aanspraak maak dat hy “volmag het om sy lewe af te lê”, wat natuurlik moontlik is, “én dit weer op te neem”, wat natuurlik onmoontlik is en totaal ondenkbaar? Geen mens op aarde kon ooit, weer sy lewe self opneem nadat hy gesterf het nie! As ons eerlik wil wees sal ons ook gehuiwer het op die beginsel van “Seun van God of kranksinnige”. Feit is, ons sou ook soos die Fariseërs ‘n keuse moes maak of hierdie persoon wat sulke uitlatings maak, “Seun van God of kranksinnig” is. Daar is ongelukkig niks tussen-in moontlik nie. Hulle keuse was die verkeerde: “Hy is van die duiwel besete, hy is mal”!


Die “Goeie Herder” het Sy lewe vir ons afgelê deur te sterf sodat ons, Sy skape, die lewe kan hê, en dit in oorvloed! Dankie Here, Johannes se verhaal eindig nie hier nie. Indien hy by hierdie punt opgehou het waar die herder sterf, sou ons 'n probleem gehad het. Ons skapies sou herderloos en verdwaas rondgedwaal het. Niemand om ons te beskerm nie, niemand om ons te versorg nie, niemand om ons op die regte pad te lei nie. Niemand deur wie ons die Weg sou vind na die Vader toe nie (14:6).


Ons Herder “het die volmag om Sy lewe af te lê, en Hy het die volmag om dit weer op te neem”. Dít is die verskil!!!! Ek hoef nie doelbewus met vliegtuie in geboue vas te vlieg of dinamiet om my middel vasbind en op 'n bus klim en myself en almal op die bus die ewigheid in te blaas om my God te behaag nie. Ek hoef ook nie al my besittings weg te gee vir “die koninkryk” om vir myself ‘n posisie in hierdie koninkryk te “koop” nie. My God het Sy lewe kom aflê sodat ék dié oneindige voordeel kan trek dat ek die lewe kan krý, en dit in oorvloed! Daarom is my skat by Hom en “waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matt. 6:21).


Hy het nie net Sy lewe kom aflê, soos baie ander gode dit ook al gedoen het en nog sal doen nie, Hy het dit weer “opgeneem” wat die ander gode nie kan doen nie! My God het waarlik opgestaan uit die dode om te sorg dat elkeen wat “met sy mond bely dat Jesus die Here is, en met sy hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, gered sal word” (Rom. 10:9).


Hy is voorwaar die Goeie Herder. Hy ken Sy “skape” elkeen op sy naam. My naam is ingegraveer by Hom wat daardie verskriklike Vrydagmiddag, 2000 jaar gelede, tussen God en my ingestap het en eiehandig daar op Golgota, die hemelse oordele ook vir my gedra het!! My Herder leef! “Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: ‘Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk” (Op. 1:17b-18).


“God het ons met twee soorte oë geskep: dié van vlees en dié van geloof”

(Johannes Chrusostomus).


Gebed: Here, ek bid vir elke mens wat steeds dink dat geloof in U net ‘n dwase misleiding is, mense wat dink dat ek dalk effens mal is om in U te glo. My Leidsman tot die lewe, genees genadiglik dié wat ly aan verstandelike verwarring. Vul hulle met U liefde, denke en lewe sodat hulle nugter kan dink en nie die verkeerde keuse soos die Fariseërs van destyds, maak nie. Amen.

 
 
 

Comentarios


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page