top of page

E-Kerk : Gedagte vir Vandag


JESUS GENEES ‘N MAN WAT BLIND GEBORE IS (4) – LIG VIR DIE WÊRELD (1)


Joh. 9: 5 – “Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”


Vergelyk ook Ps. 27:1 – “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?”


Jesus Gebruik weer ‘n beeld om te beklemtoon wie Hy is en wat Hy beteken in gelowiges se lewens, wanneer Hy sê dat “terwyl Hy nog as mens in die wêreld is, Hy die “lig vir die wêreld” is! Ook die genesing van die blinde is dus ’n werk waardeur die lig geopenbaar word: ’n man wat nooit anders as in duisternis verkeer het nie, ontvang lig vir sy oë en lig vir sy lewe. In Joh. 8:12 het Jesus Hom aangekondig as die Lig vir die wêreld; nou bring Hy lig in die oë en lewe van ’n blindgeborene en hierdie wonderteken van Hom bring Hom ook vir die soveelste keer, in botsing met die duisternis waarin die Fariseërs verkeer.


Jesus is die openbaarder deur wie God se plan en doel met menslike lewe openbaar word. Hoe ons reageer op daardie lig, is bepalend: Lig kan jou pad verlig, of as jy hardkoppig na die lig bly staar sonder om die mag daarvan te erken, kan dit jou verblind. Om sonder enige lig te wees kan skrikwekkend wees. ‘n Mens se aktiwiteite word feitlik heeltemal aan bande gelê. Wanneer kragonderbrekings voorkom, word gewoonlik alle aktiwiteite gestaak totdat die onderbreking herstel is. In jou haas om by kerse, lampe of kragopwekker uit te kom, loop jy jou in die donker in voorwerpe vas en beseer jy jou dikwels self.


‘n Ander aspek van lig is dié wat die wêreld dringend nodig het. Dit is ‘n ander soort lig as dié wat met ‘n skakelaar aan of af geskakel word. Dit het lig nodig omdat die magte van die duisternis aan die werk is. Ons in Suid-Afrika het dringend ‘n nuwe lig in die parlement nodig. Die wêreld word oorspoel met terroriste aanvalle, dwelms, mensehandel, kuberkrakers, korrupsie vermenigvuldig en eskaleer met verstommende spoed, hongersnood, en so kan ons byvoeg op die ellelange lys van duisternis. Dit was nog altyd so, die vorm en tipe van duisternis deur die eeue verander net.


Maar ... Gelukkig is daar ‘n MAAR in hierdie donker wêreld. Sy naam is Jesus Christus wat God se lig is in ‘n wêreld van duisternis omdat Hy ons oë oopmaak om die duisternis te sien, te herken en iets probeer doen om die duisternis te verdryf. Deur siekes gesond te maak het Hy hulle almal in ‘n nuwe lewe ingelei. Hy bring lig en vul harte met liefde waar daar vroeër geen liefde was nie; Hy laat geloof ontwaak waar daar net ongeloof was sodat mense vir God en ander mense op ‘n nuwe manier kan raaksien; Hy verwyder die skille van jou eie oë af sodat jy uit jou blindheid van ongeloof ontwaak en Jesus erken as die “Lig en Redder” van jou lewe!


Jesus bring lig na elke aspek van duisternis in ons lewe. Wanneer twyfel, depressie, skuldgevoelens, mislukking, of enigiets jou in die duister vasgekeer laat voel, neem dit na die “Lig vir die lewe” toe. Selfs hulle wat in die donker is omdat hulle verward is as gevolg van al die vals leerstellings waaraan hulle blootgestel word, kan verander word. Miljoene Christene word verlei deur “vals profete” wat prooi is van immoraliteit en gulsigheid. Vals predikers wie se materialistiese welstand belangriker geword het vir hulle as hul geestelike welstand; hulle bediening aan die mense meer belangriker geword het as die innerlike wandel met God; die goedkeuring van die mens meer belangriker geword het vir hierdie “predikers” as die goedkeuring van God en vir die “predikers” die bou van hulle persoonlike koninkryk en hulle finansiële groei, belangriker geword het as die bou van ‘n Kerk en om hulleself as diensknegte bereidwillig te verklaar (Jer. 6:13).


Ons het ‘n keuse om die Lig in Jesus te sien of om te weier om dit te sien. Wanneer Jesus se Lig ons duisternis verhelder het, word ons ook ‘n bron waardeur ander mense Sy Lig kan en sal sien. Hy nooi ons uit om Sy Lig te volg.


“Ons kan ‘n kind vergewe wat bang is vir die donker; die ware tragedie van die lewe is wanneer volwassenes bang is vir die Lig” (Plato).


Gebed: Here, Leidsman tot die lig, dankie dat U lig in die donkerte van my lewe helder skyn. Ek bid vir elkeen wat nog in die duisternis wandel dat U lig in hulle aangeskakel sal word sodat dit ‘n nuwe straal van hul lewe sal oorspoel. Verhelder hul denke met U lig sodat hulle harte vernuwe en hul voetstappe hulle sal lei om op U liefde te fokus. Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page