top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VADER GETUIG OOK OOR JESUS (4) – JESUS IS DIE WEG NA DIE VADER


Joh. 8:13-20 – “Die Fariseërs sê toe vir Hom: ‘Jy getuig oor jouself; jou getuienis is dus nie geldig nie.’ Daarop sê Jesus vir hulle: ‘Al getuig Ek ook oor Myself, is My getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan. Maar julle weet nie waar Ek vandaan kom of waarheen Ek gaan nie. Julle oordeel oor iemand volgens sy uiterlike; Ek oordeel oor niemand nie. En as Ek oor iemand oordeel, is my oordeel reg, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het. In julle wet staan daar geskrywe dat die getuienis van twee persone geldig is. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.’ Toe vra hulle vir Hom: ‘En waar is die vader van jou?’ Jesus het geantwoord: ‘Julle ken My nie en ook nie my Vader nie. As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het.’ Hierdie dinge het Hy gesê in die vertrek waar die offergawekiste gestaan het. Hy was toe besig om die mense in die tempel te leer. En tog het niemand Hom gevange geneem nie, omdat Sy tyd nog nie gekom het nie.”


Die Fariseërs ontwyk ’n bespreking van die onderwerp wat Jesus aan die orde gestel het deur elkeen wat bereid is om Jesus as Verlosser te aanvaar, uit te nooi om Hom te ontvang as die Lig van sy hele lewe, en te wandel in hierdie Lig wat tot die ware lewe lei. Hulle belangstelling vir die wet bring mee dat hulle eerder ’n wetspunt ophaal. By ’n vorige geleentheid het Jesus hierdie punt self bespreek, naamlik dat as iemand omtrent homself getuienis aflê, die getuienis nie voor ’n geregshof geldig is nie. Getuienis moet deur twee of drie getuies gestaaf word (5:31). En nou is dit die Fariseërs wat Jesus verwyt dat Sy selfgetuienis deur te sê dat “Hy die lig vir die wêreld is”, sonder enige getuies ongeldig is.


Daarmee kom Jesus nie in teenspraak wanneer Hy verklaar dat Sy selfgetuienis geldig is nie. Die situasie is anders. Tevore het die mense in Jerusalem te kenne gegee dat hulle die bevoegdheid het om oor Jesus te oordeel omdat hulle weet waar Hy vandaan kom (7:35). As iemand dus die reg het om op grond van dáárdie kennis ’n getuienis uit te spreek, kwalifiseer Jesus uitnemend daarvoor. Hy weet immers waar Hy vandaan kom en Hy weet ook waar Hy heen gaan. In daardie opsig beskik Hy oor meer kennis as wat enige mens ooit kan hê. Hy weet van Sy goddelike herkoms en Hy weet watter weg van lyding tot heerlikheid vir Hom voorlê. Daarom is Hy uitnemend toegerus om van Homself te getuig, en sy getuienis is die waarheid en regsgeldig.


Daarteenoor weet die ongelowige Fariseërs niks van Hom nie. Hulle sien Hom wel as mens in sy omwandeling en meen op grond daarvan dat hulle Hom ken, maar van Sy koms van die Vader weet hulle niks, en omdat hulle Sy selfopenbaring in woorde en werke nie aanvaar nie, ken hulle Hom ook nie. Hulle sê eintlik hulle kan nie die Here Jesus op Sy woord neem nie – daar moet stawende getuienis wees vir wat Hy sê, selfs na ál die tekens wat Hy gedoen het? Sou hulle regtig oortuig word indien daar twee persone sou kom wat alles bevestig wat Jesus sê? Nee! Ongeloof kan nooit oortuig word nie. Getuienis op getuienis sal nooit ongeloof oortuig nie. Die mens wat daarop uit is om die Here Jesus te betwyfel, Hom af te kraak, foute in die Bybel te soek, te kritiseer en te spot, sal heel moontlik, NOOIT die waarheid ontdek nie!


Die kardinale fout van die Fariseërs is dat hulle net op grond van die uiterlike waarneming oordeel. Hulle is dus dubbel onbevoeg om oor Jesus te oordeel – hulle begryp niks van Sy Goddelike herkoms nie, en hulle oordeel net na die uiterlike. Daarteenoor verklaar Jesus dat Hy oor niemand só oordeel nie. Hy sal wel oor die mense oordeel met die eindoordeel soos Hy voorheen reeds na verwys het (5:27-29). Sy oordeel is egter nie op die uiterlike skyn gegrond nie, maar is “reg”, dit wil sê in ooreenstemming met die waarheid en dus regsgeldig. Die rede hiervoor is dat Hy self daartoe die gesag het as die Gestuurde van die Vader en ook omdat Hy nie alleen is nie, maar altyd in die nouste verbondenheid met die Vader optree (8:29).


Die Jode reageer vervolgens neerhalend op Jesus se verwysing na sy Vader. Hulle vra nie “wie” sy Vader is nie, maar “waar” Hy is. Hulle wil Hom sien, anders glo hulle nie. Dit kom dus daarop neer dat hulle die selfgetuienis van Jesus (8:13), en nou ook die getuienis van die Vader, verwerp. In die gesprek van 5:19-23 het Jesus verklaar dat die Jode “Hom nie ken nie omdat hulle die Vader nie ken nie.” Nou keer Hy die orde om deur te sê dat “hulle die Vader nie ken nie omdat hulle Hom, die Seun, nie ken nie.” Hiermee spreek Jesus ’n kernwaarheid van die evangelie uit. Niemand kan die Vader ken nie behalwe deur die Seun wat gekom het om Hom bekend te stel (1:18).


Dit is wat so tragies is. Mense spandeer hulle hele lewe om die Vader te ken en die Ou Testament-Bybel te bestudeer, en tog ken hulle Hom nie, omdat hulle Jesus nie ken nie. Daar is 'n algemene idee in omloop dat dit wel moontlik is om God te ken al kan jy nog nie vir Jesus 100% plaas nie. Waaroor dan so besorg wees oor die Moslems, Hindoes, Boeddiste? Hulle dien almal vir God – net op hulle eie manier. Dis net verskillende paaie na een en dieselfde plek. NEE!!! Dit is ‘n leuen wat die duiwel uitgedink het! Niemand ken die Vader behalwe deur JESUS nie! Al klink dit hóé eng en nougeset. Dalk moet ons minder besorg wees oor hoe eng dit is en meer besorg wees oor wat WAARHEID is en wat leuens en misleiding is. Waarheid is in elk geval altyd eng. Omdat Jesus en die Vader één is, sê Hy: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”


“As Christen bely ek dat Christus uniek is as die enigste pad van toegang tot die Vader. Ek laat dit in God se hande om te besluit oor ander godsdienste terwyl ek in liefde met ander oortuigings saamleef en hulle uitnooi om die Jesus-pad te kies” (Jan du Rand).


Gebed: Dankie God, dat U hart so groot is dat ons almal daarin kan tuiskom. Dankie dat U inderdaad niemand voortrek nie (Rom. 2:11). Dankie Here Jesus dat U my genooi het om op U my hoop te vestig. Open tog my hart sodat ek nie sal ophou om U van naderby te leer ken nie al is U ver verhewe bo die bestes op aarde. Ek wil graag saam met Paulus bely: “Om Christus Jesus, my Here te ken, oortref alles in waarde” (Fil. 3:8) want “al sit ek in die donker, is U my lig” (Miga 7:8b). Amen.

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon
bottom of page