top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE VROU WAT OP OWERSPEL BETRAP IS (2) – REGTER VAN JOU EIE LEWE!


Joh. 8:4-7 – “Hulle het vir Hom gesê: ‘Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?’ Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla.” Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: ‘Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.’


Vergelyk ook Deut. 17:7 – “Die getuies moet die vonnis begin voltrek, en daarna moet die hele volk dit help uitvoer.”


Vroeg die volgende môre was Jesus “weer in die tempel” om Sy roetine voort te sit om die volk wat daarheen gestroom het, te onderrig. Ons weet nie wat die onderwerp was waaroor Jesus daardie oggend vroeg in die tempel bespreek het nie – miskien angs of kommer, dalk oor gebed, jou naaste liefhê – ons weet nie. Wat ons wel weet is dat baie van die volk, “die hele volk” (8:2), rustig saam met Hom gesit het en geluister het wat Hy hulle wou leer. En ewe skielik word hierdie rustigheid onderbreek deur ‘n aantal godsdienstige leiers van daardie tyd wat opdaag en ‘n skamel geklede vrou tot voor Jesus stoot “en laat haar in die middel van die kring mense staan” (8:3b). “Moses het ons in die wet beveel ...... maar u, wat sê u?” Die Verlosser word skielik Regter. Jesus gee op hulle vraag nie ’n antwoord nie, maar “buk en skryf met sy vinger op die grond.” Blykbaar was daar in die oomblikke van stilte by hulle geen verandering van houding nie. Hulle dring aan op ’n antwoord. Dan kom Jesus regop, maak Homself deel van die gesprek en kyk sy teenstanders in die oë, en wat sien Hy?


Miskien het Hy eerste na haar gekyk – wat het Hy gesien? Die Verlosser met Sy “Christushart” kyk na ‘n baie bang vrou in nood. ‘n Sondaar wat ‘n paar oomblikke tevore nog in die bed was met ‘n man wat nie hare was nie. Was dit hoe sy ‘n inkomste verdien het? Was sy getroud? Hoe het sy gevoel op daardie oomblik? Wat het sy gedink? Ons weet nie. Het Jesus haar gesien soos ‘n vader sy volwasse dogter sien as sy by die bruilofspaadjie afstap? Of toe sy nog klein was met al die drama rondom tandekry, met poniesterte en nog pop gespeel het? Het Hy soos ‘n vader haar in sy gedagtes weer sien grootword – van doeke tot poppe, van klaskamers tot kêrels, van matriekafskeid tot troudag? Ons weet nie. Maar wat ons wel weet, is dit ‘n vader wat na sy dogter kyk wat hy liefhet, ‘n sondaar waarvoor Hy mens kom word het sodat Hy haar kan terugdra na die Vader toe.


Wat sý gesien het, kan ons miskien oor spekuleer – vrome Godsdienstige leiers, die ordentlikes, nie ‘n struikelende uitgeworpene soos sy nie. Godsdienstige leiers met geen deernis nie wat haar met beskuldigende oë wat vonnis, aangluur; Koue klipharte wat veroordeel; Stywe lippe wat ‘n antwoord eis van Jesus om die wet toe te pas, sodat hulle haar met die klippe in hulle hande, met wellus kan doodgooi.


Wat Jesus beslis ook gesien het was mense om Hom, elkeen anders as die persoon langs hom, elkeen met sy eie identiteit. Hy sien mense wat almal daardie oggend in die tempel was, wat deur God geskep is. Mense wat geskep is na Sy beeld en wat Hom op aarde moet verteenwoordig. Mense met harte wat veronderstel is om ander lief te hê, met tonge om mekaar te bemoedig en met hande om met liefde, mekaar vas te hou, om te gee, te respekteer. Maar wat sien Hy nou? Kérkmense met tonge wat gebruik word om mekaar soos dolke te steek, met harte wat brand van haat en oordeel, met hande vol klippe om dood te maak.


By God is daar nie so iets soos verloor nie. Jesus doen ‘n merkwaardige ding. Hy plaas die bal terug in die skrifgeleerdes se hande. Ten aanhore van al die aanwesiges sê Hy: "Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” Die wet bepaal dat die getuies wat die klag teen die skuldige gestaaf het, by die steniging die eerste klip moet gooi (Deut. 17:7). Jesus het die wet van Moses dus gehoorsaam deur te erken dat die skuldige vrou gestenig moet word. Hy hou Hom ook by die bepaling dat die getuies, en in hierdie geval is hulle ook die aanklaers, die eerste moet wees om ’n klip na haar te gooi. Maar Jesus stel een voorwaarde: die man wat dit doen, moet ’n skoon gewete hê. Hulle het die vrou aangekla, nie omdat hulle oor die handhawing van die wet besorg was nie, maar omdat hulle Jesus in ’n lokval wou lei. Hulle was oneerlike bedrieërs, en dít is sonde. Hulle staan ten opsigte van hul hele lewe, denke, woorde en dade, sonder ’n skoon gewete voor God.


Vanuit Jesus se perspektief gaan hierdie verhaal nie oor die owerspelige vrou (soos in ons opskrif) nie, maar oor die ongenaakbare en onregverdige godsdienstige leiers! Hulle wéét wat die regte ding is om te doen, hoekom doen hulle dit dan nie? Wat meer is, Jesus vul hierdie wet van Moses aan met ‘n ander wet wat sê dat jy nie moet oordeel nie, want die oordeel kom God alleen toe. Hy leer hulle: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi”. Selfs hulle wat so getrou die wet van God onderhou het, staan met ‘n vuil gewete voor God. Hulle het amper dag en nag in die Tempel deurgebring, was bykans dag en nag besig om uit God se Woord te lees en te leer, maar steeds moes hulle in skaamte omdraai en wegloop. Jesus maak hulle “regters van hul eie lewens.”


Wat sien Jesus nog? Sien Hy vandag en op baie ander dae, gelowiges wat met klippe na God toe hardloop en toestemming vra om iemand daarmee te gooi. Sien hy mense wat net soos die Fariseërs en die skrifgeleerdes moet erken dat hulle nie ‘n skoon gewete het nie maar hulself somtyds aanmatig om ander mense te gooi. Feit is dat óns nog nie doodgegooi is met klippe nie, net genade van God is. Dit moet spreekwoordelik klippe reën soos wat mense mekaar daarmee bestook. Jesus praat nie hier met ongelowige en kerklose mense nie, Hy praat met mense wat gereeld in die kerkbanke sit, wat week vir week God se Woord hoor. Mense wat in die kerkbanke sit en die eerste klip wat hy ná die erediens sien, optel om iemand daarmee te gooi. Mense wat die vermetelheid het om mekaar sleg te sê en te beskinder, dit terwyl God se Woord van genade nog in hulle ore moet suis? Hoe kan God se genade só groot wees dat Hy hulle nog nooit met ‘n groot rots van die aardbol af platgevee het nie? Dit moet voorwaar ‘n God van liefde wees!!!


“Liefde is om mense lief te hê soos hulle is, om hulle swakhede en foute te aanvaar met ‘n hart wat daarvoor ruimte maak” (Charlotte van Schiller).


Gebed: Dankie Here dat U ook my “Advokaat” is wat my saak by God verdedig. Dankie dat U daardeur my uit die dodesel van sonde kom haal het toe ek net die dood verdien het. Dankie Here dat U juis my as deel van U roetekaart gemaak het om by my aan te doen, en daarmee saam elke uitgeworpene, sieke, struikelende en verwerpte. Dankie dat ons gevolglik skotvry kon uitstap. Dankie dat U met my praat, nie omdat U kwaad is nie, maar juis in liefde, en by my pleit om my klippe neer te gooi en eerder my arms gebruik om ander te omhels. Dankie dat U my eerste lief gehad het, daarom moet ek ook liefde wees! Amen.


 

Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page