E-Kerk - Gedagte vir Vandag
DIE EVANGELIE VAN JOHANNES
DIE VROU WAT OP OWERSPEL BETRAP IS (1) – JESUS WORD GETOETS TEEN DIE WET
Joh. 8:1-6 – “(Hierna is hulle elkeen na sy huis toe,) maar Jesus het na die Olyfberg toe gegaan. Die volgende môre vroeg was Hy weer in die tempel en die hele volk het na Hom toe gekom. Hy het gaan sit en hulle geleer. Die skrifgeleerdes en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op owerspel betrap is, en laat haar in die middel van die kring mense staan. Hulle het vir Hom gesê: ‘Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?’ Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla.”
Vergelyk ook Deut 22:22 – “Wanneer ‘n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ‘n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word.”
Aan die einde van die dag nadat Jesus dié wat “dors het, uitgenooi het om na Hom toe te kom en te drink” (7:37) het Hy gaan oornag op die Olyfberg. Vroeg die volgende môre was Hy “weer in die tempel” en sit Sy roetine voort om die volk wat daarheen gestroom het, te onderrig. Die volk was ongelukkig nie al wat na Hom kom luister het nie want die Fariseërs bly aktief in hulle poging om Jesus teen te staan. Hierdie keer is hulle bondgenote nie die owerpriesters nie (7:32), maar die “skrifgeleerdes” wat hulle op die bestudering van die wet toegelê het.
Terwyl Hy besig was met Sy onderrig, was daar skielik ʼn opskudding onder die skare en het ʼn aantal Fariseërs en skrifgeleerdes ‘n verwaaide, verskrikte en moontlik huilende vrou na Hom toe gesleep daar waar Hy gesit het in die middel van die vergadering, en haar voor Hom laat staan. Dink jou in die vernedering – die vrou word fisies omring deur die mans wat haar betrap het en wat haar veroordeel. Sy is ‘n voorwerp wat vertoon word, sonder naam, sonder stem, geen identiteit nie behalwe as “die owerspelige vrou”. Die leier van die groep het dan ook nie op hom laat wag nie maar, terwyl hy triomfantelik dié kant toe en dáárdie kant toe rondkyk, met ʼn luide uitdagende stem uitgeroep sodat almal moes hoor: “Meneer, hierdie vrou is op heter daad betrap waar sy owerspel gepleeg het. Moses het ons in die wet beveel om sulke vrouens te stenig, maar u, wat sê u?”
Jesus Christus was gedurig onder die aanval van die duiwel wat probeer het om Hom in 'n lokval te lei om iets te doen of te sê waardeur Hy God se Wet, die tradisies van die Jode of die Romeinse reg sou oortree. Die Romeinse reg het ook verbied dat die doodstraf deur enige ander liggaam as ʼn Romeinse hof opgelê mag word. Hy het egter geweet “hulle het dit gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla.” Hy was hier wéér die teiken van ‘n ander se haat. Dit gaan nie eintlik oor die vrou nie, maar oor Jesus en oor die Fariseërs se verskuilde motiewe. Sy is net ‘n anonieme voorwerp wat hulle nodig het – die middel tot ‘n doel want hulle haal net ‘n halwe wet aan. Die wet van Moses stel dit duidelik dat “die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak moet word.” (Verg. ook Lev. 20:10 en Num. 5:11-31). Waar is die man dan? Mens kan immers nie ‘n vrou op heterdaad met egbreuk betrap sonder dat die man ook by is nie. Waarom het die godsdienstige leiers nie die man ook saamgesleep nie?
Jesus het egter besef dat na watter kant toe Hy ookal standpunt inneem, Hy veroordeel sou word. Sou Hy die vrou se aanklaers gelyk gee dat sy gestenig moes word, sou die volk vir wie Hy gepreek het dat God genade aan hulle wou betoon, Sy boodskap verwerp en Hom beskuldig dat Hy in praktyk maar net so ongenaakbaar as die Joodse leiers was. Sou Hy die teenoorgestelde standpunt inneem en pleit dat die vrou begenadig word, sou hierdie hardvogtige leiers dit onmiddellik aan die Joodse Raad rapporteer sodat daar stappe teen Hom as ‘n oortreder van die Wet geneem kon word. Sou Hy ingestem het dat hulle haar mag stenig, was dit teenstrydig met die Romeinse Reg. Jesus het hulle nie dadelik geantwoord nie.....! Hy gee almal ‘n kans om te dink!
Dit leer ons dat ons nie haastig moet wees om ʼn antwoord te gee wanneer ons ondervra word nie maar dat ons, ons gedagtes op die Here moet vestig en van Hom leiding moet ontvang om die weg te open sodat Hy in die harte van die wat ons bedien, Sy wil kan werk. Eers wanneer ons bereid is om in die spieël te kyk en onsself as sondaar erken, eers dan is ons gereed om van ons veroordelende harte genees te word, eers dan sal ons dit regkry om in liefde en medelye na ander mense uit te reik. Ons almal deel ‘n gemeenskaplike worsteling met sonde, al lyk ons sondes nie dieselfde nie. Ons almal is ewe afhanklik van God se genade.
“Die vreeslike ding van sonde is dat ons juis weens ons sonde blind is vir ons sonde”
(Billy Graham).
Gebed: Here, daar is tye wat ek min barmhartigheid weerspieël en dinge wat ek sê en doen, nie in U Vaderhart in pas is nie. My woorde is kortaf en kontak met ander afsydig. Die lagie liefde in my is maar dun en ek vergewe nie maklik nie. Ek sukkel om die goeie in ander raak te sien, kortom Here, ek vertoon nie die beeld van U Seun nie. Daarom dank ek U Here Jesus, dat U aan die kruis ook met al my stukkendheid ‘n plan gemaak het en ek daarom in U vergifnis mag lewe. Werk deur U Gees in my hart, stem en denke dat ek U barmhartigheid sal uitleef en ander deur my sal beleef dat daar ‘n goeie Vader in die hemel is wat omgee vir elke sondaar, al lyk ons sondes nie dieselfde nie. Amen.