E-Kerk - Gedagte vir Vandag

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES – MENINGSVERSKIL OOR JESUS
Joh. 7:40-44 – “Party van die mense wat hierdie woorde gehoor het, het gesê: ‘Hy is werklik die Profeet.’ Party het gesê: ‘Hy is die Christus.’ Maar party het gesê: ‘Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? Die Skrif sê mos die Christus kom uit die nageslag van Dawid en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was.’ Daar het toe verdeeldheid oor Hom onder die mense gekom. Party van hulle wou Hom gevange neem, maar niemand het dit gedoen nie.”
“Die laaste dag, die groot dag van die huttefees” (7:37), m.a.w. die offerseremonie, word nie verder deur Johannes beskryf nie. Inteendeel, hy beklemtoon eerder die verskillende reaksies van die hoorders op Jesus se prediking. Verdeeldheid en wanorde onder die skare ontstaan. Sommiges dink dat Jesus moontlik die beloofde Profeet kan wees (1:41) waarna Moses eeue vantevore verwys het (Deut. 18:15), en ‘n ander groepie het werklik gedink dat Jesus die Christus, die Messias self is.
Hierdie twyfelaars onder die skare ken die Skrifte. Hulle weet dat die Messias uit die geslag van Dawid sou wees en dat Hy uit Betlehem (waar Hy gebore is) sou kom. Maar hulle is oënskynlik onbewus daarvan dat Jesus aan albei hierdie vereistes voldoen. Johannes meld egter niks daarvan nie, hy stel waarskynlik nie in die aardse geboorte van Jesus belang nie maar eerder dat Jesus wel mens geword het (1:14), maar van altyd af bestaan het (1:1).
Die indruk word gewek dat die spanning hoog was, en dat sommige uit die skare daaraan gedink het om self in te gryp en Jesus gevange te neem. Dit beteken dat daar sommiges was wat baie beslis verstaan het dat Jesus bedoel het dat Hy die Messias is en dit het hulle die reg gegee om Hom gevange te neem omdat so ’n uitspraak strafbaar was. Tog het niemand dit gedoen nie. Ook hier word dit weer duidelik dat alles volgens die plan van God moet verloop. Niemand kan aan Jesus die hand slaan voordat die uur wat bepaal is, gekom het nie (7:30).
Aan die einde van die sewe dae van die huttefees se godsdienstige feesvieringe, moes hulle opgewek en vrolik wees. Hulle moes teruggaan na hul onderskeie huise toe met ‘n lied in die hart. Hulle het pas God se redding en verlossing intens gevier. Dit het egter geëindig in onvergenoegdheid. Dit verander in ‘n tragedie. Wat eintlik ‘n groot godsdienstige en gelowige ondervinding moes wees, eindig in ‘n hewige stryery en verdeeldheid onder die hoorders, en dit haal die dorheid van hul geloofsoortuiging uit die feesvieringe. Daar is godsdienstig feesgevier, maar daar is geen persoonlike verhouding met God nie.
Dit is vandag nog so dat baie mense vir Jesus nie wil erken nie. Daar is ‘n diepsinnige misterie wanneer hulle van Jesus en Sy bestaan praat. In plaas daarvan wil hulle self God wees en doen wat hulle behaag. Trouens, Dawid sê dat dié wat só dink en die werklike kennis van wie Jesus is probeer onderdruk, dwase is – “Die dwaas dink daar is geen God nie” (Ps. 14:1). Dit verwys natuurlik geensins na iemand wat nie ‘n brein het of nie intelligent is nie, maar iemand wat nog nie tot die morele en godsdienstige besef gekom het wat Jesus reeds gedoen het nie en wie nog nie Sy totale liefde ervaar het nie. Die “dwaas” van Psalm 14 wat Jesus ontken of probeer om Hom weg te redeneer, se morele keuses en dade lei tot sy ewige vernietiging. Skrikwekkend!!
Dit is wat ons vandag moet vermy. Jesus is nie ‘n Iemand oor wie daar gestry moet word nie. Hy is die Verlosser wie ons moet ken, liefhê en geniet en aanvaar as ons Messias. Al verskil ons as mense se geloofsondervinding onder mekaar, is dit steeds die ondervinding wat ons van Jesus het en ervaar, en is dit nie nodig om te probeer verduidelik wie en wat Hy is en waar Hy gebore is nie. Hy is onuitspreeklik ons Verlosser. Hy is nie ‘n lourierkrans prentjie op ‘n Kerskaartjie of ‘n versiersel by Kersvieringe nie. Hy is beslis ook nie die Gas wat uit beleefdheidsonthalwe maar moet ingetrek word by huwelikseremonies nie – Hy is die Seun van God, Jesus Christus, ons Verlosser! Ons geloof in Jesus Christus behoort op te borrel soos ‘n fontein in ons binneste en sodoende ons hele menswees verander.
“Ongeloof is so diep gewortel in ons harte, en ons is so geneig daartoe, dat elkeen ‘n moeilike stryd voer om homself te oortuig van dit wat almal met die mond moet bely: naamlik God is getrou” (Johannes Calvyn).
Gebed: Jesus, ons Here, vir so baie het die romantiek van die Godsdiens verdwyn. Die verwondering het plek gemaak vir eentonigheid. Baie mense ervaar ‘n leegheid en onvergenoegdheid. Baie wil aan U voorskryf hoe U moet wees en hoe hulle U wil aanbid. Vir baie het godsdiens ‘n eentonige ritueel geword. Hulle het vergeet waarom U bloed van die kruis gedrup het. Here, draai hulle om, maak hulle dors sodat hulle water by die Fontein van ewige lewe kom drink. Skep hulle gedagtes in só ‘n mate dat hulle daagliks hul gewete laat opborrel soos fonteine en daardeur sal smag om weer, of opnuut, die saligmakende kennis van God te ontvang en terug te draai na U toe. Amen.