top of page

E-Kerk - Gedagte vir Vandag


DIE EVANGELIE VAN JOHANNES


JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (6) – JESUS LEER MET OUTORITEIT


Joh 7:16-18 – “Jesus het vir hulle gesê: ‘Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat.


Vergelyk ook Luk. 6:46 – “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie.”


Jesus se outoriteit strek ver wanneer hy met gesag bekend maak dat nie “elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is” (Matt. 7:21). Jesus maak bekend dat Hy nie ‘n gewone rabbi is wat hier praat nie, maar Iemand wat gehoorsaamheid eis van Sy hoorders. Jesus is meer as ‘n gewone onderwyser wat advies uitdeel aan mense wie dit wil of nie wil aanneem, afhangend van hul eie diskressie, nie. Hy is hul Meester wat hul waarsku wat die verskil is tussen lewe en dood! Hy gaan ook in beheer wees op die finale oordeelsdag.


Wanneer Jesus praat oor die finale oordeel, plaas Hy Homself op God se troon as die Een wie die mag het om mense hel toe te stuur: “Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt. 7:23). Indien ons nie gehoorsaam is aan Jesus se woorde nie, het ons die keuse of ons deur die nou poort van egte dissipelskap die ewige lewe wil ingaan, of deur die breë poort die verderf in. Daar is ongelukkig geen middeweg nie!


Jesus het oor die finale oordeel tydens ‘n geleentheid in Jerusalem verder uitgebrei – “Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil. Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan die Seun oorgelaat. Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie” (Joh. 5:21-23). "Daarom sal elkeen wat in die hemel en op aarde en onder die aarde is, die knie buig en elke tong sal erken: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van God die Vader” (Fil. 2:10-11)


Jesus het alles opgeoffer sodat ons uit liefde en dankbaarheid kan dien as Sy voorbeeld! “Jy sal nooit weet dat Jesus al is wat jy nodig het nie totdat Jesus al is wat jy het” (Moeder Teresa).


“Christene se lewe is die wêreld se Bybel – en sommige van dié “uitgawes” het hersiening nodig” (Dwight Moody).


Gebed: Here Jesus, net soos die skare wat destyds na U woorde geluister het, luister ek ook. Ek weet U het met gesag gepraat en dit behoort enigeen eintlik onmiddellik ‘n ware dissipel van U te maak, maar die tragiese hiervan is dat baie van ons steeds aan die donker vasgekluister is. Here, my gebed is dat elkeen U woorde van Joh. 12:48 ter harte sal neem, luister en verander: “Wie My verwerp en nie My woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel.” Amen.


Recent Posts

Follow Us

  • Black Facebook Icon

 

98 Kraalkopstraat, Fochville,

Gauteng, 2515, Suid-Afrika

 

Tel: 018 771 6003

Navrae: skriba@ngfochvillenoord.co.za

 

Kantoorure:

 

Maandag - Vrydag 10:00 - 13:00

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

 

Skoolvakansies:

Maandag - Donderdag 14:00 - 17:00

  • Facebook - White Circle

©2016 by NG Fochville-Noord.

bottom of page