E-Kerk - Gedagte vir Vandag

DIE EVANGELIE VAN JOHANNES
JESUS LEER DIE MENSE BY DIE HUTTEFEES (5) – DIE GESAG VAN GOD
Joh 7:16-18 – “Jesus het vir hulle gesê: ‘Wat Ek die mense leer, kom nie van Myself af nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom, en of Ek uit my eie praat. Wie uit sy eie praat, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is geloofwaardig, en daar is niks oneerliks in Hom nie.”
Verg ook Ps. 37:23-24 – “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.”
Wanneer Jesus besig is met Sy onderrig, maak Hy doodseker dat elkeen wat na Sy woorde luister, weet dat hulle finale bestemming afhang van wat hulle daarmee gaan doen – daarvolgens handel of nie. Jesus kwoteer nie net woorde van die Skrif nie maar beklemtoon absolute waarhede omtrent Homself. Hy is die “Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het” (Joh. 1:14). Moses het die wet wat hy van God ontvang het aan die mense gegee, maar “die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom” (Joh. 1:17). Daarom kon Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). “In Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind” (Kol. 2:3).
Een van die magtigste en geweldigste uitsprake van Jesus vind ons in Heb. 1:3 – “Uit Hom straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy hou alle dinge deur Sy magswoord in stand.” Jesus het altyd “die eer gesoek van die Een wat Hom gestuur het. Hy is geloofwaardig en daar is niks oneerliks in Hom nie” en almal wat na Hom geluister het, kon hoor wat die voorregte, maar terselfdertyd watter eise geld vir elkeen wat Jesus se woorde wil volg. Dit was nie maar net nog ‘n politieke sisteem naas al die ander menslike instellings hier op aarde nie. Nee, dit is ‘n lewensomvattende hemelse sisteem wat ons hele menswees oorneem en in God se diens stel.
Jesus is die Alfa en Omega van Christenskap. Hy is die Bron van alle lewe en die Fondament van elkeen wat Sy woorde aanneem en daarvolgens handel. Ons kan nie Jesus kies as ons nie Sy woorde ook kies nie. Om godsdienstig te wees sonder ‘n lewende verhouding met Jesus, beteken om kerk-kerk te speel. Ons moet erken en bely, dit is soms moeilik om gehoorsaam te wees aan Jesus se vermanings, versoeke en waarskuwings, maar gelukkig worstel ons nie alleen daarmee nie.
Gelukkig het Jesus ons nie as weeskinders agtergelaat toe Hy opgevaar het hemel toe nie. Hy het vir ons die Heilige Gees gestuur sodat ons deur Sy krag kan besef dat ons afhanklik is van God. Die Gees vul ons met hoop, lei en bemagtig ons om moeilike dae, die hoof te bied. Om volgens die plan van Jesus se onderrig te lewe is moeilik om heelpad te slaag, maar ons kan immers probeer om op die regte pad te bly. Wanneer ons egter uitsak of val, “bly ons nie lê nie, want die Here help ons op.”
“God het ons nie lief omdat ons groot waarde het nie; ons het groot waarde omdat God ons liefhet” (Martin Luther).
Gebed: Here, as ek eerlik moet wees, rig en bou ek my lewe nie altyd volgens U spesifikasies en soos U versoek nie. Ek moet ook erken, daar is tye wat ek dikwels nie na U soek nie, maar dankie Here dat U vasberade bly om na my te soek. Elke keer wanneer ek afdwaal is U daar om my terug te neem in U arms in en my te omvou met U allesomvattende liefde. O Heilige Gees, skenk ons die krag om déúr U, gehoorsamer dissipels van Jesus te wees. Amen.